in , ,

Pioneer se ProBox maak plant makliker en goue

Produkhanteringsgerief en tydens tydens planttyd is amper net so belangrik soos sonskyn en reën op ’n volwaardige saaiplaas. Gooi ’n 80% arbeidsbesparing by die mengsel en boere sal toustaan om jou produk te koop. Wanneer die produk boonop ’n verlaagde koolstofvoetspoor het, is dit ook iets vir die toekoms wat solank ’n lekker goedvoel-emosie in ’n boer wakker maak.

Pioneer Du Pont het hulle aandag daarop gevestig om die saadhantering vir ’n besige boer drasties te vergemaklik en te verminder en het ’n briljante stelsel ontwerp om saad in massa sonder enige sakke te hanteer. Hierdie tegnologie gaan die bedryf aansienlik verander.

Die vooraanstaande saadmaatskappy het onlangs hulle ProBox by die Indaba Hotel in Johannesburg geloods en ’n paar ernstige graanboere genooi om die geleentheid by te woon.

Pioneerboere het by die Indaba hotel in Randburg bymekaargekom vir die Pioneer DuPont se ProBox-loodsing.

Die Probox is ’n plastiekkrat wat een ton saad bevat en slegs met ’n vurkhyser hanteer word. Vier kratte pas op ’n spesiaal ontwerpte waentjie wat die inhoud soos blits in ’n planter kan gooi.

Om seker te maak dat die stelsel, wat reeds ’n wyle in Amerika gebruik word, onder ons boere sal byval vind het hulle dit aan Willie de Klerk en sy seun WA, wat naby Hendrina boer, geleen om dit op die proef te stel.

“In die verlede moes ons ’n handvol arbeiders gebruik om die saad sakkie vir sakkie op ’n sleepwa te laai, dit land toe te neem en weer sakkie vir sakkie in die planter te gooi. Dit het baie arbeid en baie tyd in beslag geneem. Met die ProBox het ons een trekkerdrywer en een operateur nodig wat die vurkhyser en waentjie se voerpyp beheer. Dit neem nou slegs 4 tot 5 minute om ’n planter vol te maak en ons het ’n 80% arbeidsbesparing,” sê WA.

WA de Klerk, boer; Heinz Oellermann, verkoopsbestuurder van Pioneer Du Pont en Willie de Klerk, boer by die ProBox saadhanteringstelsel.

Die kratte is van ’n duursame, sterk plastiek gemaak en is heeltemal weerbestand en knaagdierdig. In Amerika hou die gemiddelde krat nege jaar. Wanneer die kratte leeg is, word die boonste helfte afgehaal, omgedop en bo-oor die onderste helfte gedruk om die volume van die krat te halfeer.

“Die kratte bly die eiendom van Pioneer wat dit vol saad op die boer se plaas aflewer. Met plantdag laai die boer dit op sy waentjie en waar dit stewig met knippe vasgemaak voordat die trekker dit land toe sleep. Die waentjie kan vier kratte neem en het ’n gat met ‘n sluis onder elkeen van die kratte,” sê Heinz Oellermann, verkoopsbestuurder van Pioneer Du Pont.

Die kratte se vloere loop skuins sodat die saad maklik en vinnig daaruit kan vloei. Wanneer die sluis oopgetrek word, vloei die saad na ’n sentrale punt aan die onderkant van die waentjie, waar dit met ’n lang plastiekawegaar boontoe gevoer word tot waar dit met ’n voerpyp in die planter gegooi word.


Die waentjie het ’n gat onder elke krat se sluis vir die saad om na die sentrale punt te vloei waar die wurm dit planter toe neem.

Die waentjie word met ’n kort en lang pyp verkoop wat dan onderskeidelik gebruik word om ’n sentrale saadbak of indiwiduele saadbakke van plantereenhede vol te maak. Daar is ook twee behandelingstenks op die waentjie – een vir poeier en een vir vloeistof.

“Die waentjie is ook nie topswaar soos dit mag lyk nie en alhoewel die waentjie vir ’n trekker ontwerp is, sal ek dit ook maklik met my bakkie kan trek,” sê Willie.

Omdat die toestande in Suid-Afrika aansienlik verskil van dié in Amerika word die plaaslik vervaardigde waentjie baie sterker gebou en met groter wiele toegerus.

“Die awegaar word uit Amerika ingevoer en word van plastiek gemaak om die saad so sag as moontlik te hanteer, terwyl dit 1,2 ton saad in vyf minute kan skuif. Ons het gevind dat die wurm minder as 1,5 persent invloed op soja se ontkieming het,” sê Heinz.

Die waentjie het sy eie hidroulikabank wat aan die trekker gekoppel word om die awegaar aan te dryf. Die operateur kry ook ’n konsole in sy hand waarmee hy op die planter kan staan om die wurm te beheer.

Pioneerboere bewonder die saadmaatskappy se ProBox-saadhanteringstelsel.

“Ons bemark die krat as ’n 40 x 60 mk oftewel UOM (Unit of measurement) (vir ’n stand van 60 000) vir ’n groot pit en 40 by 80 mk (vir ’n stand van 80 000) vir ’n kleiner pit, sê Heinz. Die 40 staan vir die aantal hektare wat beplant kan word met een krat.

“’n Toekomstige stap in ons massahanteringveldtog is om klein 30 ton silo’s by ons agente en bemarkers op te rig om die saad regstreeks van die fabriek daarheen versprei om sodoende een stap in die logistieke ketting uit te skakel. Van die agente af word die saad dan in die eentonkratte aan die boer gelewer,” sê Heinz.

Wat boere ook in gedagte moet hou is dat Great Plains-planters in Amerika, wat in Suid-Afrika deur Agri Afrika bemark word, reeds planters bied wat spesiaal vervaardig word sodat die saadverskaffer se massakrat kliks-klaks aan die planter gemonteer word sodat dit sommer as die planter se saadbak dien.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Kubota verryk Ritchie Farm Equipment se kliënte

Kragdag 2014