in

2019 Nasionale Begroting: Geen reddingsboei vir die landbou

Foto: Republikein

This post is also available in: Afrikaans

Agri SA is teleurgesteld in die minister van Finansies, Tito Mboweni, se eerste begrotingsrede. Minister Mboweni se begrotingsrede van 2019 het na landbou deur middel van metafore verwys, soos “dit is tyd vir ons om die saad van hernuwing en groei te saai”. Ongelukkig het landbou, buiten vir die verwysings na grondhervorming, betreklik beperkte aandag in die toespraak geniet.

“Geen melding is van die voortslepende droogte en die verwoestende impak wat dit op boere en boerderygemeenskappe het gemaak nie,” sê dr. Requier Wait, Agri SA se Hoof van die Sentrum van Uitnemendheid: Ekonomie en Handel.

Makro-perspektief

Die begroting beklemtoon hoe Suid-Afrika se gebrek aan ekonomiese groei, belastinginkomste belemmer. In die huidige ekonomiese omgewing is daar beperkte geleentheid om belasting te verhoog, aangesien hoër belasting teenproduktief sal wees om belastinginkomste verder te verhoog.

Persoonlike inkomstebelastingkategorieë bly onveranderd, wat geen vergunning vir blokkruiping gee nie, dus sal inflasie-aanpassings op salarisse verbruikers in ‘n hoër belastingkategorie plaas.

Staatsbeheerde-ondernemings bly ‘n ernstige risiko vir die fiskale raamwerk. ‘n Voorlopige toekenning van R69-miljard, wat oor die volgende drie jaar toegedeel is, is aan Eskom vir herstrukturering gemaak. Hoewel Eskom van kritieke belang vir die ekonomie is, sal die nasionale regering nie sy skuld oorneem nie. Dit is ‘n aanduiding aan Eskom om die onderneming weer op die regte spoor te kry.

Belasting wat die landbousektor raak

Verhoogde aksynsbelasting kan ‘n nadelige uitwerking op die wyn- en tabakbedrywe hê. Daarbenewens kan die hoër aksynsbelasting op sigarette, sluikhandel bevorder. Dit sal ook negatief inwerk teen die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se betreklik nuwe, Onwettige Ekonomiese-eenheid wat die handel in onwettige sigarette moet bestry.

Die verhoogde suikerbelasting sal die plaaslike suikerbedryf, wat reeds onder druk is, direk beïnvloed. Brandstofheffings verhoog met 30 sent per liter vir diesel. Dié 30 sent sluit ‘n koolstofbelasting van 10 sent per liter in.

Ongelukkig word koolstofbelasting nie geoormerk vir omgewingsake of om klimaatsverandering te bekamp nie. Hierdie belasting sal eenvoudig reguit na die staatskas vloei. Gegewe die realiteit van klimaatsverandering, moet hierdie belasting eerder gebruik word om die oorsake en gevolge van klimaatsverandering te versag. Byvoorbeeld, ‘n gedeelte van hierdie belasting kan gebruik word om droogteverligting vir landbou te befonds.

Goeie nuus vir die landbou is dat die dieselterugbetaling van R3,22 per liter tot R3,33 per liter op 80% van die toegelate gebruik sal styg. Die voorgestelde nuwe dieselterugbetalingsstelsel sal in konsepreëls en notas, wat later in 2019 vir openbare kommentaar gepubliseer sal word, uiteengesit word. Ons hoop dat hierdie nuwe stelsel die verwerkings- en betalingsvertragings wat met die huidige stelsel ervaar word, sal oplos.

Landbou-ontwikkeling

Agri SA verwelkom die R3,7 miljard wat opsy gesit is om opkomende boere te help om grond aan te koop.

‘n Gemengde finansieringsmodel, wat opkomende swart boere ondersteun, sal oor die mediumtermyn ‘n verdere R887 miljoen ontvang om toegang tot finansiering te bevorder.  Daarteenoor is dit noodsaaklik om openbare private vennootskappe hierby te inkorporeer. Verhoogte deursigtigheid, in terme van hoe hierdie finansiering toegeken en gebruik gaan word, is ook nodig.

Ons hoop dat dit uitgebrei kan word om ‘n agri-ontwikkelingsfonds te stig wat gemengde finansiering en openbare private vennootskappe bevorder.

Ondersteuning vir landbou

Landbou het getoon dat dit ‘n bewese sektor is wat met die hulp van die regering, die ekonomie kan bou en fiskale stabiliteit kan verhoog. Die Nasionale Ontwikkelingsplan erken die landbou as ‘n groeisektor en sy potensiaal om werksgeleenthede vir landelike gemeenskappe te skep.

Terwyl die fiskus onder groot druk verkeer, het ons gehoop om meer steun aan die landbou te sien. Besteding op landbou, landelike-ontwikkeling en grondhervorming bly marginaal. Landbou benodig ondersteuning om sy potensiaal, soos uiteengesit in die Nasionale Ontwikkelingsplan, te bewerkstellig. Twee fokusgebiede sluit in:

  • Droogte-ondersteuning: Doeltreffende en vinnige direkte hulp aan boere wat deur droogtes geaffekteer word.
  • Bio-sekuriteit: Befondsing ter ondersteuning en verbetering van Suid-Afrika se bio-sekuriteitsmaatreëls.

Agri SA hou vol dat die landbousektor die sleutel tot die ontsluiting van ekonomiese groei in Suid-Afrika is. Ons hoop dat minister Mboweni die potensiaal van die landbou binne die volgende jaar sal besef en dat die sektor asook die landbougemeenskap, die regering se ondersteuning wat dit nodig het en verdien, sal ontvang.

Bron: Agri SA

What do you think?

1 point
Upvote Downvote

Total votes: 1

Upvotes: 1

Upvotes percentage: 100.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Scania plans nifty transport solutions for farmers

Country pavilions to bring latest farming technology to Agritech Expo Zambia