in

So stap ons deur NAMPO

ProAgri se reis deur die NAMPO Oesdag het vanjaar by die Noordhek begin waar ons eers met ‘n paar van ons vriende in die veebedryf gesels het, voor ons gaan kyk het wat nuut is in die wêreld van masjinerie en ander tegnologie:

Foto1 SenepolsDie Senepol is ’n bloedjong beesras in Suid-Afrika, maar die ras is al in die laat 1800’s op die tropiese Karibiese eiland, St Croix, suid van Miami, ontwikkel. Die 100% poenskopras het in 2001 in Suid-Afrika aangekom, in 2006 sterk begin posvat en is vandag een van die rasse in Suid-Afrika wat die vinnigste groei.

Dié beesras besit ook die gladdehaargeen, wat beteken dat die dier ’n besonder hoë weerstand teen hitte en parasiete het. Buiten die voerkrale is die slagters en ontbeningsaanlegte ook baie tevrede met die ras omdat sy been-tot-vleisverhouding so goed is. Danie Niewoudt, raspresident en Wilhelm Oosthuizen van Joxepa Senepol-stoet buite Bothaville, wys hoe saggeaard die bul by hulle stalletjie is.

Foto Nguni“Alhoewel die Nguni bekend is vir sy vel, bly dit steeds net ’n neweproduk wat volgens die grootte en gehalte van die vel geklassifiseer word,” sê Archie du Plessis, raspresident van die Nguni’s. “Ons teel steeds uitsluitlik vir vleis en die voerkrale se diskriminasie teen ons is ’n bietjie oordrewe. Proewe het bewys dat ’n Nguni ekonomies net so goed op ’n minder warm rantsoen presteer as enige ander beesras, maar omdat dit vir voerkrale ’n logistieke probleem is om voer met laer energie en proteïene vir Nguni’s te voer, begryp ons hulle probleem. Ons werk daaraan om voerkrale te identifiseer wat Nguni’s kan afrond, want as die dier effens langer op goedkoper voer kan vet word, is dit ekonomies sinvol.” Die Nguni-stalletjiespan is (agter) Jacques de Beer, Archie du Plessis, Louise du Toit en Herman Nel. Voor staan Maki Moshao en Yolanda Venter.

TuliEd Clarke van Dordrecht het ’n paar rasse met sy kommersiële Herefords probeer kruis voor hy op Tuli besluit het. Hierdie besluit het gemaak dat hy een van die beste Tuli-stoeterye in die land ontwikkel het, soveel so dat hy as die SA Stamboek Elite-vleisbeesstoetteler vir 2016 aangewys is met sy stoet, HBH Tuli’s, wat ook ’n groot pluimpie vir die Tuli-ras is.

“Ons doen wat ons moet doen om geld te maak,” sê Ed. “Tuli’s is mooi mediumraambeeste en is volhoubaar, produktief en ekonomiese vriendelik.” Langs hom staan Charl van Rooyen, rasadviseur vir die Tuli-genootskap, en Harm Marx, eienaar van Alfa Omega Tuli-stoet buite Burgersdorp.

Foto3 Dormers

Dolf Bam is president van die Dormer-telergenootskap. Hy is vanjaar weer in sy skik met die besoekers aan hulle stalletjie en veral die groot belangstelling om Dormers in terminale kruisteling te gebruik. “Die boer het dus die beste van twee wêrelde waar hy die voordeel van die wol het as hy Dormer-ramme op Merino-ooie gebruik, asook die voordeel van vleiseienskappe waar basterkrag ter sprake kom. Toetse het bewys dat Dormers baie goed op Dohne-Merino’s en Dorpers gebruik kan word,” sê Dolf.

Dirk van Zyl is eienaar van Droërivier Dormers buite Richmond. Karen en Manie Wessels is eienaars van Mamre-Dormers naby Vrede en Dolf Bam is eienaar van Aan-de-Vallei Dormers buite Amersfoort.

Santa Gertrudis“Die sintetiese Santa Gertrudis-ras is al 70 jaar oud en vir amper 50 jaar in Suid-Afrika. Dit beteken dat die ras so te sê suiwer is. Ons is veral baie trots op ons ras se goeie voeromset en hoë speenkalfmassas,” sê Johan Malan, rasbestuurder van die Santa Gertrudis. “Ons hou volgende jaar ons wêreldkongres in Bloemfontein waarheen ons 40 tot 60 gaste uit Australië, Nieu-Seeland, Suid-Amerika en Noord-Amerika gaan nooi. Ons is ook baie opgewonde oor ons Vleisgenomikaprojek wat ons binnekort saam met die Australiërs gaan bekendstel. Baie van ons en hulle diere is verwant aan mekaar en daarom wil ons met hierdie gesamentlike genomiese teelwaardeprogram ons teelwaardesyfers kombineer en standaardiseer sodat dit vergelykbaar is. Ons het reeds ’n soortgelyke program saam met die Namibiërs afgeskop.” Johan Malan is raspresident, en Naudé Pienaar, Wimpie Moolman, Raymond de Villiers en Lourens van Vuuren (voorsitter en sekretaris) is lede van die Santa-veldbeestelers.

SussexHierdie pragtige Sussex-bul van Huntersvlei buite Viljoenskroon is vyf jaar oud en weeg 1 050kg. “Ons is uit-en-uit ’n vleisras en as jy ’n 45%-lyn oor die dier trek, kan jy sien waar al die belangrike vleissnitte lê. “Jy wil vol dye, ’n vol binnedy, ’n goeie toplyn, sterk lende en sterk skouers hê, want dit is waar die waardevolle snitte lê,” sê Valana Orpen van Avoca Sussex-stoet buite Barkley-Oos.

“’n Sussex slag tussen 55% en 65% vleis uit, so hier staan maklik 600 kg se goeie gehalte vleis voor jou,” sê sy. Valana Orpen en Vorster Skhaba, ‘n beeshanteerdeer by Huntersvlei is baie trots op hierdie bul.

MeatmastersPW van Heerden is die president van die Meatmaster-genootskap en hy glo dat balans winsgewendheid beteken. “Deesdae kan jy nie meer ’n dier net op sy bou en uiterlike eienskappe op skoue beoordeel nie. Dit help nie jou dier is skougehalte, maar dit het ’n klomp geld gekos om hom so mooi te kry nie. Dit beteken dat die dier nie winsgewend is nie. Vir my gaan dit oor die insameling van inligting soos die GDT en voeromset en hoe vinnig die ooie ramgereed is.” Die Meatmaster-span is baie trots op hierdie ooi wat deur haar baas, Clynton Collet, van Bethulie vasgehou word. Sy het dragtig geword op sewe maande en het op twaalf maande en ses dae gelam. Die manne wat elkeen ’n lam vashou, is PW van Heerden van Wesselsbron, Mario du Preez van Collet Farming, Nico Grobler van Kern Meatmasters naby Ventersdorp, Willie Griesel van Wicari Meatmasters en Gerhard van Gees van G4 Meatmasters naby Kroonstad.

Foto Boerbokke

“Ons stal elke jaar die nasionale kampioenram en -ooi by ons stalletjie uit. Vanjaar is die wenners tydens ons nasiona-le kampioenskappe, wat drie weke voor NAMPO in Kuruman plaasgevind het, aangewys. Maar ons groot aantrekkingskrag vanjaar is hierdie ooi en haar vierling. Dit is ’n bewys hoe uitstekend SA Boerbokke se vrugbaarheid en moedereienskappe is. Haar lammertjies is nou so twee maande oud en almal ewe groot,” sê Michelle Kruger, rasdirekteur van die SA Boerbokgenootskap. Links staan Hein Booysen van Kuruman, wie se ram en ooi as die nasionale kampioene in Kuruman aangewys is.

KubotaTom Bloom is die hoofbestuurder van Kubota se konstruksiedivisie wat bestaan uit Kubota Enjins en Smith Power. Smith Power spesialiseer in mini-gatgrawers wat baie goed werk op plase. “Ons het twee soorte, die drie-ton en vyf-tonmodel. Die vyftonner word veral op macadamia- en besproeiingsplase gebruik omdat dit so kompak is en baie min brandstof gebruik. Hy werk teen ’n koste van net vier tot vyf liter brandstof per uur teenoor die 20 tot 30 liter per uur wat die tradisionele groot gatgrawers verbrand,” sê Tom. Die ander slim eienskap van Kubota-gatgrawers is dat die buksies geen ‘stertswaai’ het nie, wat beteken dat die kajuit se agterkant nooit verby die spore sal draai om vrugtebome te beskadig nie. Daar word ook verskeie aanhangsels vir verskillende landbousektore gebou. Robert Keir, bemarkingsbestuurder van Kubota Suid-Afrika, staan langs Tom.

Foto Rovic LeersRovic Leers het gesien dat die pekanneutbedryf lekker regdeur die sentrale gedeelte van die land ontwikkel. Hulle haal die hande-arbeid uit die oesproses met die Flory-werktuie wat hulle uit die VSA invoer. Hierdie lang stroper tel die neute wat in windrye gevee en geblaas is op en verwyder die klippies, stokkies en blare. Stuart Layman van Flory het spesiaal uit die VSA gekom om die manne van Rovic Leers by te staan tydens NAMPO. Willie Human van Rovic Leers staan langs hom.

Foto Rumax

Met vindingrykheid en ’n slimfoon kan jy die duurste tegnologie baie goedkoper maak. Dit is hoe Jaco Pieters van Rumax na voermeng kyk. “Ek het ’n selfoontoep en rekenaarsagteware geskryf en ’n wifi-ontvanger gebou sodat jy jou hele mengproses en voorraadkontrole met die gewone weegselle onder jou menger kan outomatiseer, met jou selfoon beheer en al die inligting in die ‘wolk’ bêre. Die trekkerdrywer kan nou in die kajuit sit en met behulp van kleure en klanke op die selfoonskerm sien hoe die voerkomponente in die menger gegooi word tot dit genoeg is. Alle inligting word dadelik na die bestuurder se rekenaar gestuur en gebêre. Jaco Pieters se seun, Marno, dien hier as ‘gewig’ om te wys hoe werk die eenvoudige, maar akkurate en doeltreffende stelsel.

Forklifts Northwest

Merlo se immer gewilde materiaalhanteerders staan nie verniet uit in die mark nie. Hulle splinternuwe 38.7 telelaaier met sy verskeidenheid bybehore kan ’n magdom take verrig soos kuilvoer uithaal, kalk laai, voerkomponente in mengers en voerders laai, asook bale laai en aanry. Dié yster van ’n werktuig kan ook ’n allemintige 21 ton sleep wat bale laai en aanry ’n plesier maak. Die meeste modelle beskik verder ook oor ’n topspoed van 40 kilometer per uur.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Maak kluite krummels met Southtrade se CultiRateau

Dom Boer se lag vir die dag: