in ,

Elke boer begeer ‘n John Deere (en dit kom van ver af)

This post is also available in: English

Boere regoor die wêreld het een eienskap in gemeen: As hulle die naam, John Deere hoor, wek dit respek en begeerte in hulle harte op. En ook geen wonder nie, want John Deere trap regoor die wêreld diep spore in landbou en voedselproduksie.

Dit alles het in 1837 (՚n jaar voordat die slag van Bloedrivier hier in Suid-Afrika beslis is) in Grand Detour, Illinois, begin. John Deere, ՚n grofsmid, het gesien hoe boere gesukkel het om die turf wat aan hulle ou gietysterploeë saamgepak het elke nou en dan af te skraap. Sy oplossing was ՚n staalploegskaar en rysterplaat wat hy van ՚n ou stukkende sirkelsaaglem gemaak en aan ՚n houtbalk gemonteer het. Hy het die ploeg die Prairie Queen genoem. In 1838 het John Deere twee sulke ploeë bemark, in 1839 tien, in 1840 veertig, in 1841 sewentig, in 1842 honderd en teen 1849 meer as tweeduisend per jaar.

John Deere se eerste verskyning in Suid-Afrika was in 1878 toe ՚n skip by Bathurst in die Oos-Kaap gestrand het. Die vrag wat geberg kon word is op ՚n openbare veiling verkoop. Daaronder was twee Prairie Queen-ploeë wat die seereis en stranding oorleef het.

George Knott van Botha’s Post, Victoria-Oos, het die twee ploeë gekoop en daarmee die eerste John Deere-vore op Suid-Afrikaanse bodem getrek. Vir die eerste honderd jaar van John Deere se bestaan het die maatskappy net in Amerika sake gedoen. Die eerste berekende toetrede tot die Suid-Afrikaanse landboutoneel was in die 1920’s toe die Johannesburgse maatskappy, Dunell, Ebden en Kie, John Deere begin invoer het.

John Deere se gewildheid in Suid-Afrika het daartoe gelei dat John Deere in 1930 die helfte van Dunell, Ebden en Kie se belange oorgeneem het. Daarmee het John Deere een van die min Amerikaanse maatskappye geword wat sake in Suid-Afrika gedoen het. In 1939 is P Andrag en Seuns van Kaapstad as sakereghouer aangestel om John Deere-produkte te bemark.

Politiek pootjie uitvoer

Tydens die Tweede Wêreldoorlog het die VSA-regering John Deere om politieke redes verbied om produkte na Suid-Afrika uit te voer. Na die oorlog is die beperking opgehef, maar John Deere moes hard spook om agterstallige bestellings van regoor die wêreld in te haal. Eers in 1950 het hulle die agterstand ingehaal.

Die groen voetspoor in Afrika is verstewig toe afgevaardigdes van Suid-Afrika, Kenia en Rhodesië se John Deere-verspreiders in 1957 ՚n verkoopsvergadering in Johannesburg bygewoon het. Teen die begin van die sestigerjare was John Deere se markaandeel in Suid-Afrika gering. In 1962 het John Deere ՚n belang van 75% bekom in South Africa Cultivators (Edms) Bpk, wat in 1949 in Nigel gestig is. Die maatskappy se stigter, Nils Gregerson, is as HUB aangestel en die naam is na John Deere-Bobaas (Edms) Bpk verander.

Grondbewerkingstoerusting en die montering van klein trekkers het begin en die markaandeel in 1967 tot 8% opgestoot. ՚n Suid-Afrikaanse verkopetak is ook in Nigel op die been gebring.

So het die eerste John Deere-produk gelyk wat in 1878, deur middel van ՚n skip wat gestrand het, in Suid-Afrika beland het: Die Prairie Queen-ploeg. Van daar tot vandag het John Deere ՚n lang pad in Suid-Afrikaanse landbou gestap.

Groen produkreeks groei

Toenemende aanvraag het in 1970 tot die uitbreiding van die fabriek gelei om skottelploeë, rysterplaatploeë, skottelêe, skoffelploeë, planters en hamermeulens in te sluit. Suid-Afrikaanse boere het die meeste van die produkte gekoop, maar daar is ook werktuie uitgevoer na Namibië, Zimbabwe, Mosambiek en lande in die Midde-Ooste. ՚n Groot stap vorentoe was toe John Deere die suksevolle 1240- en 1290-planters in 1976 met ՚n ten volle plaaslik vervaardigde planter vervanghet – die 7000-reeks.

In die laat 1970’s was die volgende John Deere-produkte in Suid-Afrika beskikbaar:

• 30-reeks Mannheim-trekkers

• 30-reeks Waterloo-trekkers

• 950/970-stropers

• 234-skottelploeë

• 135-rysterplaatploeë

• 1300-skottelêe

• 1900-rygewasskoffels

• 9B-balke met spiraaltande

• N120 skottelêe

• 45K-skeurploeë

Wayne Chesney was tot 1979 besturende direkteur en Leighton Lee was vanaf 1972 tot 1988 produksiedirekteur.

Die oorspronklike John Deereverspreidingstak in Afrika.

Nog nuwe werktuie

Gedurende die 1980’s het John Deere verskeie nuwe grondbewerkingswerktuie ontwikkel.

Die gewildste daarvan is:

• N440-swaardienskontraskottelegreeks

• N900 V-skeurploeg

• N1610-beitelploegreeks

• 155-rysterplaatploegreeks (ry met voorwiel op land)

• 145-rysterplaatploegreeks (ry met voorwiel in ploegvoor)

Nuwe trekkeraanleg

Februarie 1982 was ՚n groot maand toe John Deere ՚n nuwe trekkermonteringsaanleg oopgemaak het. Die trekkers wat in Nigel gemonteer is, het die volgende Suid-Afrikaanse ADE-Perkinsenjins gehad: Die viersilinder 1641, 2141 en 2914, en die sessilinder 3141 en 3641.

Groen planter stel die standaard

In 1988 het die 51-reeks die 41-reeks vervang, maar die groot mylpaal van die jaar was die plaaslike vervaardiging van die N7200-reeks planters met hulle nuwe vakuumsaadafmetingstelsel, nuwe robuuste plantereenhede en ryaanhegsels, en groot enkelskyfkunsmisoopmakers wat planterprestasie en produktiwiteit aansienlik verbeter het.

Hierdie planter het die norm geword waarteen rygewasplanters in Suid-Afrika gemeet word. Onder besturende direkteur Bill Hubbard, verkope- en bemarkingsbestuurder Bert Pepler en fabrieksbestuurder Leighton Lee, het John Deere sterk gegroei gedurende die 1980’s. Sowat 650 mense het in die fabriek gewerk en 65 in die tak. In die 1990’s het John Deere hulle bestaande reeks met nuwe grondbewerking- en planttoerusting uitgebrei: ՚n nuwe reeks ploeë (100 en 200) N960-skoffel en 825-Nigel-rygewasskoffel. In 1998 het die 1750-planterreeks ook die N7200 vervang en die mees suksesvolle planter in die Suid-Afrikaanse mark geword.

Groen word topverkopers

In 1995 het Suid-Afrika beskermende invoerheffings opgeskort, wat meegebring het dat die trekkervervaardigingsbedrywighede gestaak is. Die gewilde 51-reeks is uitgefaseer om plek te maak vir Mannheim-trekkers. Die viersilinder 6300- en 6400-modelle en die sessilinder 6600- en 6900 het die topverkopers in Suid-Afrika geword. In hierdie tyd is die Waterloo-gegronde 7000-, 8000- en 9000-reekse bekendgestel om die ou 40- en 50-reeks Waterloo te vervang en om Waterlootrekkers se segetog in Suid-Afrika voort te sit.

Na 43 jaar se vervaardiging in Suid-Afrika het John Deere sy fabriek in Nigel in Junie 2005 gesluit. Terselfdertyd is ՚n nuwe tak en opleidingsentrum in Boksburg op die been gebring. Teen die einde van 2006 het John Deere se markaandeel in die hoogs mededingende mark tot 30% gestyg onder die leiding van die besturende direkteur, Mel McGlinchey van Ierland.

Kom kyk by NAMPO hoe lyk die nuwe John Deere-saal!

Trekkers vir Afrika

In 2009 is John Deere se bedrywighede in Suid-Afrika geherstruktureer om nou die hele sub-Sahara Afrika te bedien. Len Brand en sy flink span van 65 personeellede het die verantwoordelikheid aanvaar om John Deere in 48 sub- Saharalande te bemark.

Sedert 2011 is John Deere die trekkermarkleier in Suid-Afrika en sedert 2012 ook die stropermarkleier. John Deere verkoop ook die meeste spuite sedert die bekendstelling van hulle spuite in 2004. ՚n Onderdelemagasyn van 5 000 m2 is in Desember 2012 naby OR Tambo Internasionale Lughawe ingewy en in 2014 is John Deere-kantore in Nairobi, Kenia, en Accra, Ghana, geopen. Hierdie kantore het John Deere se bemarkingsvoetspoor en velddiensverskaffing aansienlik uitgebrei.

John Deere het nog verder uitgebrei nadat Jason Brantley in 2015 as besturende direkteur oorgeneem het. Waar John Deere se verkope voorheen hoofsaaklik van groot masjiene gekom het, het die maatskappy nou ook op kleiner werktuie vir die Afrika-mark begin konsentreer… en goed daarmee gevorder.

In 2018 het Jacques Taylor as besturende direkteur oorgeneem en John Deere nog verder gelei om sy voorsprong as landboutoerustingverskaffer op die Afrika-kontinent te vergroot. John Deere voorsien nie net die werktuie wat die boer nodig het om vooruit te boer nie – hulle toegewyde naverkoopdiens en handelaarsnetwerk sorg dat die boer kan aanhou boer met die minste moeite en staantyd. Daarvoor ploeg die maatskappy ՚n groot deel van sy wins terug in die opleiding en motivering van bekwame personeel om die groenspan immer aan die werk te hou.

Besoek ons by NAMPO: Standplaas: A12 – A14 & A16 – A17

What do you think?

-1 points
Upvote Downvote

Total votes: 1

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 1

Downvotes percentage: 100.000000%

Ontdek Cape Made-alternatiewe by die 18de SA Kaasfees

Span ՚n berg toe met Bonnox