in ,

Eksterne parasiete in vee Deel 4: Listige luise wat klou soos nete

Elke mens se pad kruis iewers met ՚n luis. Dalk begin jou kopvel ook net kriewel as jy die woord lees, maar die grillerige insekte tref diere ook. Van troeteldiere soos honde en katte, tot pluimvee en grootvee, die klein wetters dryf boere en hulle plaasdiere tot raserny.

Alle luise lyk min of meer dieselfde. Hulle is plat insekte met groot, ovaal agterlywe. Luise wissel in grootte van 1 tot 10 mm en sommiges is so klein hulle kan nie eens met die oog gesien word nie.

Die lewensiklus van ՚n luis word binne drie weke voltooi. Dit begin met die uitbroei van die eier, ook genoem ՚n neet. Dit broei in tussen sewe en veertien dae nadat dit gelê is uit en word ՚n nimf. Die nimf vervel drie keer voordat dit volwassenheid bereik.

Luise is permanente parasiete en spesie-spesifiek. Gedurende die wintermaande is luise meer aktief. Diere se toestand neem gewoonlik in hierdie tyd af en hare groei langer om diere teen die koue te beskerm. Para-siete gryp egter hierdie geleentheid aan om in die lang hare weg te kruip en siek, swak, jong diere te teiken, asook dié wat verhonger of maer is wanneer kos in die veld skaars is.

Diere se toestand verswak gewoonlik verder omdat ՚n luisbesmetting hulle rusteloos maak. Hulle eet minder, want meeste van hulle tyd word spandeer aan bytplekke krap en skuur en byt. Waar hare afgeskuur word vorm letsels.

Daar is twee hoofgroepe luise: Bytend en suigend. Bytende luise staan ook bekend as rooiluise. Suigende luise, daarenteen, word ook blouluise genoem.

Bytende of rooiluise

Hierdie soort luis het kouende monddele. Hulle voed op die oppervlakkige lae van die vel. Dit is ՚n reuse irritasie vir die arme dier. Wanneer die dier se wol of hare weggetrek word, kan ՚n mens duidelik sien hoe hulle skarrel en beweeg.

Damalinia bovis is ՚n kouende of rooiluis wat beeste besmet. (Bron: Fakulteit Gesondheid en Mediese Wetenskappe – Universiteit van Kopenhagen – Denemarke)

Rooiluise van beeste (Damlinia bovis)

Hierdie luise kan maklik gesien word. Hulle veroorsaak letsels regoor die dier se lyf, maar dit is gewoonlik meer gekonsentreerd op die skouers, agterlyn en stertwortel. Van die hewige irritasie wat die bees so besig en aan die skuur hou, eet hulle minder en verloor gewig.

Damalinia ovis is ՚n kouende luis wat op skape parasiteer. (Bron: Parasitipedia)

Rooiluise van skape (Damalina ovis)

Net soos met die beeste, veroorsaak ՚n rooiluisbesmetting by skape hewige irritasie. Dit het ook ՚n regstreekse uitwerking op die skaap se vreettyd en lei tot gewigsverlies. Vagversteuring vind ook plaas omdat die skape aan hulle wol pluk en teen bome, heinings of mure skuur.

Rooiluise van bokke (Damalina capra en Damalina limbate)

Die sybokhaarbedryf word bedreig deur rooiluise. Die skade wat bokke aan hare aanrig, gepaard met die verswakking in toestand, is ՚n ernstige saak. Luise tas die hele liggaam aan.

Wanneer die dier se wol of hare weg getrek word, kan ՚n mens duidelik sien hoe die rooiluise skarrel en beweeg. (Bron: SA Mohair Growers Association)

Beheer van bytende luise

Nadat skape en bokke geskeer is kan hulle gedip word. Dit is die doeltreffendste metode, want dit:

  • Verwyder die oorblywende nete, en
  • Help dat diere nie behandel hoef te word wanneer die wol of hare lank is nie.

Organofosfaat- en piretroïed-dipmiddels kan gebruik word. Na tien tot veertien dae kan dit weer toegedien word om die beste resultate te kry.

Die enigste nadeel van hierdie middels en geregistreerde groeireguleerders is dat dit ՚n rukkie neem om oor die hele dier se lyf te versprei. In sommige gevalle sal dit tot twee weke neem om die luise dood te maak. Daarom word ՚n tweede dip aanbeveel sodat die lewensiklus heeltemal gestop kan word.

Hierdie dipmiddels kan ook vir beeste gebruik word. Mikrosikliese laktone kan gebruik word vir rooibosluisbeheer, maar dit onderdruk bloot net die besmetting. Groeireguleerders voorkom dat die luise hulle volwasse stadium bereik en voortplant, maar sal hulle nie doodmaak nie. Na ՚n tydperk – die einde van hulle leeftyd van drie weke – sal hulle self sterf.

Links: Die suigende of blouluise het skerp monddele wat steek om bloed te suig. (Bron: Alan R Walker deur Wikicommons)

Suigende of bloubosluise

Bloubosluise se monddele is stekend. Soos die naam aandui, suig hulle bloed. Dit gee die lyfies dan ՚n blou skynsel. Hulle verkies spesifieke liggaamsdele en ՚n hewige besmetting kan ՚n klein dier bloedarmoede gee. Haarlose kolle wat lyk soos brandsiekte op diere is ՚n aanduiding van bosluisbesmetting, maar dit wissel ook tussen die verskillende spesies.

Rooiluise van beeste

Daar is vier soorte suigende luise wat hoofsaaklik beesboere raak. Elkeen het ook sy eie kenmerke:

A. Langneus-luis (Linognathus vituli):

Die bytende of rooiluise het stomp, kouende monddele wat op die vel van ՚n dier voed. (Bron:SCOPS)

Hierdie luis verkies die bees se skouers, nek en bors. Die letsels vorm hoofsaaklik in hierdie area.

B. Kortneus-luis (Haematopinus eurysternus):

Die oë, neus, horingbasis en nek is die voorkeurliggaamsdele vir kortneus-luise. Kolle van haarverlies op hierdie dele dui op luisbesmetting.

C. Stertkwas-luis (Haematopinus quadripertusis):

Soos die naam aandui, is die stertkwas-luis lief vir die beeste se sterte en die grootste besmetting sal daar gesien word. Hulle is egter nie beperk tot net daardie liggaamsdeel nie.

D. Kleinblouluis (Solenopotes capillatus):

Die kleinbloubosluis verkies weer die skouers, die onderkant van die stert en die anus.

Suigende luis van kleinvee

Verskeie blouluise paratiseer op kleinvee. Een van dit is Linognathus africanus wat hoofsaaklik Angora-bokke as gasheer kies. Diere kan bloedarmoede kry weens ՚n swaar besmetting of groei kan vertraag word. Die ergste gevalle lei tot dood.

Beheer van bytende luise

Die goeie nuus is dat besmettings doeltreffend beheer kan word met makrosikliese laktone soos ivermektien. Twee behandelings agt tot tien dae uitmekaar verseker dat luise wat na die eerste behandelling uitbroei ook sterf.

Luise voltooi hulle hele lewensiklus op die gasheer met verspreiding van een dier na die volgende deur direkte kontak. Suigende luise voed op bloed terwyl bytende luise op dooie velselle, hare en olieafskeidings voed. (Bron: Regering van Wes-Australië)

Om skape met organofosfate of piretroïede te dip help brandsiekte voorkom. Opgietmiddels is egter nie die mees doeltreffende beheermiddel
nie omdat luise nie baie aktief is nie.

Bronne:

Junquera, P. (2022) PARASITIPEDIA [Online]. Parasitipedia.net. Available at
https://parasitipedia.net/.

Oberem, P. (2006) Siektes en parasiete van beeste, skape en bokke in Suid-Afrika. Pretoria: Afrivet Business Management.

Hobson, M. (2022). Lice OFFLABEL Treatment. [Online] SA Mohair Growers. Available at: https://www.angoras.co.za/article/lice-off-label-treatment

Boxler, D. (2022). Cattle Lice. [Online] UNL Beef. Available at: https://beef.unl.edu/cattlelice

SCOPS. (2022). Lice. [Online] The Sustainable Control of Parasites in Sheep. Available at: https://www.scops.org.uk/externalparasites/lice/

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Leave a Reply

Your email address will not be published.

Winsgewende skaapboerdery deel 10: Die prikkelvoedingdeurbraak

Tal-Tec Livestock Spray Races