in ,

Eksterne parasiete in vee deel 2: Muggies – klein plaag maak groot skade

Volwasse muggies is meestal aktief in die vroegoggend en saans teen skemer (Bron: Pixabay).

Na ՚n goeie reën bui is elke boer dankbaar vir die veld wat ՚n nuwe, groener baadjie aantrek en sappige weiding vir vee bied. Maar daarmee saam maak lastige muggies ook hulle verskyning en teister sowel klein- as grootvee.

In Suid-Afrika is daar drie soorte muggies wat kwale veroorsaak onder skape, beeste, bokke en selfs perde en wild. Die drie klein, bloedsuiende vlieë is die Culicoides, Leptoconops en Simulium, elkeen met ՚n menigte sub­spesies. Net soos muskiete, is dit die wyfies van die gevlerkte insekte wat mens en dier aanval.

Wanneer die diere aangeval word, vorm die bytplekke dik, rowerige sere op die ore, oë, neus, uier en skrotum. Dit kan tot sekondêre besmetting lei omdat dit oop wonde is. Die intensiteit van ՚n muggie-aanval kan ook veroor­saak dat diere onrustig en geïrriteerd is wat dan tot ՚n verlies in eier- en melk­produksie lei. Verder kan dit sterftes van pasgebore lammers veroorsaak of ooie lammers laat verwerp. Ramme kan onwillig wees om te paar. Skape toon soms gedrag dat hulle ophou wei en net heeldag saamdrom of lê, wat natuurlik groei benadeel.

Na ‘n bloedmaal lyk muggies vet en rooi soos hulle volgesuig is (Bron: Scott Bauer via Wikicommons).

Nat weer en oorstromings vererger muggieplae.

 Bytende muggies (Culicoides)

Hierdie spesie wissel tussen 1 en 3 cm in lengte. Daar is gevlekte patrone op hulle vlerke. Volwasse muggies is mees­tal aktief in die vroegoggend en saans teen skemer. Gedurende somernagte is bytende muggies volop.

Omdat die larwes en papies vog benodig om te groei, lê die muggies gewoonlik eiers in klam plekke wat naby aan diere is aan wie hulle die siektes oordra. Dit sluit in nat plekke waar pype lek, nat landery wat be­sproei word, trôe en kraalmis.

Laagliggende gebiede soos vleie toon verhoogde muggie-aktiwiteit in verge­lyking met ander gebiede.

Bytende muggies parasiteer veral op beeste, maar ook op skape en perde. Hulle veroorsaak driedaestywesiekte onder beeste, wat koors, aptytverlies en stywe bene meebring. Die siek diere hou hulleself eenkant en kan ook tekens van geswelde gewrigte, waterige neu­suitskeiding en oogontsteking toon.

Verder veroorsaak hierdie muggies ook bloutong onder skape, bokke, beeste en wild (hoofsaaklik herkouers). Die tekens daarvan is koors, lamheid, swelling om die kop, kaak of selfs nek, lusteloosheid en aptytverlies. Wanneer die dier ondersoek word, word neusuit­skeiding, sere in die mond, asook ՚n rooi tong en neusmembrane waarge­neem. Diere kan hiervan sterf.

Perdesiekte is ’n baie ernstige siekte wat die muggies kan veroorsaak. Dié

siekte word onder perde, muile en donkies aangetref. Die simptome sluit in koors, hoes, lomerigheid, moeilike asemhaling, neusuitskeiding, rusteloos­heid, swelling om die oë of kop en kan selfs dodelik wees as dit nie betyds behandel word nie.

Die beste beheer van muggieplae in hierdie geval is om geregistreerde chemiese middels te gebruik, maar om ook diere teen die spesifieke siektes in te ent. Entstof alleen is nie genoeg nie, want die seer muggiebyte kan steeds die diere irriteer en lelike letsels vorm.

Hou diere weg van nat vleigebiede wanneer die bytende muggies die meeste aktief is.

Die Simulium-tipe muggies wat as swartvliegies bekend staan, het groot vlerke (Bron: James K. Lindsey via Wikicommons).

Dagbytende muggies (Leptoconops)

Dagbytende muggies broei uit langs waterweë in droë gebiede, veral waar daar ՚n hoë konsentrasie soute is. Die muggies is tussen 2 en 3 mm lank. Die gryserige muggies kan soms rooi vertoon wanneer hulle vol bloed gesuig is, en hulle het wit vlerke.

Hulle vreet graag aan mens en dier, en sommer enige tyd van die dag. Dag­bytende muggies is die meeste aktief in die lente en hulle sal tot 2 km ver vlieg op soek na ՚n maaltyd.

Gebiede waar hulle voorkom is Aliwal-Noord, De Aar, Williston, die Suid-Kaapstreek en Walvisbaai. Daar is ook ՚n subspesie van die muggies wat naby Mamre aan die Weskus in die duine aanteel.

Die muggies lê eiers teen die oewers van soutwaterpoele of -strome en broei binne tien tot twaalf dae uit. Die larwes lewe vir tot tien maande in die boonste sandlaag, waarna papies gevorm word.

Die beste manier om die muggies te beheer, is om diere te dip met opgiet-middels of te spuit met piretroïede. Plaagdoders kan ook die insekte help hokslaan waar hulle uitbroei.

Swartvliegies (Simulium)

Die swartvliegies wissel in grootte tus­sen 2 en 6 mm. Hulle het groot vlerke, strepe op die bene, ՚n geboë bolyf en groot oë. Dit is relatief moeilik om te identifiseer presies watter spesie swartvliegie dit is.

Hierdie muggies teel aan in vinnig-vloeiende water soos sterk riviere. Die eiers word in groepe in die water gelê, waarna die larwes daar leef en later kokonne teen klippe in die rivierbeddings vorm. Die hele larwe- en papiestadium is gewoonlik na 14 dae voltooi.

Hulle is veral aktief naby die Oranje-, Vaal- en Grootvisrivier. In die streke vanaf Prieska tot Augrabies het veeboere baie muggieprobleme. Tussen September en Desember is hulle die besigste.

Hulle swerm gedurende die dag en die wyfies sal tot 50 km ver vlieg vir ՚n bloedmaal.

Die swartvliegies se byte is pynlik en veroorsaak swaar letsels. By skape is piretroïedeopgietmiddels op die kop, neus, en ore baie doeltreffend.

Beeste word op hulle haarlose lig­gaamsdele gebyt. Dit veroorsaak bla­sies of knoppies wat moeilik verdwyn. Hulle is ook draers van die organisme wat rivierblindheid veroorsaak.

Om die diere te behandel, kan hulle met piretroïede gespuit word, of opgietmiddels kan gebruik word. Diere moet verkieslik gebiede en tye vermy waar muggies volop is, soos riviere in die vroeë oggend. Die larwes in die water kan behandel word met ՚n spesi­fieke bakterie wat hulle aanval.

Die Culicoides-tipe muggie het wit en swart patrone op die vlerke (Bron: CSIRO via Wikicommons).

Bronne:

Oberem, P., 2006. Siektes en par­asiete Van Beeste, skape en bokke in Suid-Afrika, Pretoria, Pretoria: Afrivet Business Management.

Bath, G., 1994. Kleinveesiektes, Kaapstad, Kaapstad: Tafelberg.

Foxi, C. et al., 2020. Biting Midges (Ceratopogonidae, Culicoides). Sci­ence Direct. Available at: https://www.sciencedirect.com/topics/immunology-and-microbiology/cu­licoides.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Leave a Reply

Your email address will not be published.

Winsgewende skaapboerdery Deel 7: Sorg vir ooilammers en hulle sorg vir jou

Scania se diensomwenteling bied kliënte ‘n winsoplossing