in ,

Draakvrugte wen vinnig veld

Die kenmerkende groeivorm van draakvrug.

Draakvrugte se gewildheid as landbougewas is aan die toeneem. Kwekers en produsente is dit eens dat die besondere vrug waarde tot die Suid-Afrikaanse verbruikerstafel voeg.

“Draakvrugte begin nou eers behoorlik van die grond af kom,” sê Howard Blight, eienaar van Amorentia Kwekery op Tzaneen wat een van die vernaamste verskaffers van steggies is.

Die vrug met sy kenmerkende skubagtige skil en rooi, pienk of wit vleis bespikkel met klein swart saadjies, is inheems aan Suid- en Sentraal Amerika. Die naam verwys na verskillende kultivars van die Hylocereus undatus-spesie en hibriede daarvan wat wêreldwyd kommersieel verbou word.

Die verskillende varieteite se kleure verskil subtiel, maar die soet smaak is onverbeterlik, sê Howard Blight van Amorentia Kwekery.

“In 2016 was daar maar sowat 20 ha onder draakvrugte, maar vandag is daar reeds 150 ha,” sê Lauren Strever van Amorentia Kwekery. Dit verteenwoordig altesaam sowat 50 boere wat die eksotiese, duur vrug tot hulle landboumandjie bygevoeg het. Volgens haar is die gemiddelde prys tans tussen R35 en R50 per kilogram.

Howard is verbaas dat nie meer Suid-Afrikaanse boere draakvrugte produseer nie, want die klimaat- en grondtoestande is ideaal vir die plaaslike verbouing van die kaktus. “Aanvanklik was plantmateriaal van die beskikbare kultivars skaars en verbruikers was nie besonder opgewonde oor die smaak nie,” sê hy.

Hy meen Suid-Afrika is maar ՚n baie klein rolspeler in die draakvrugbedryf. “Vietnam alleen produseer eenmiljoen ton per jaar. Die meeste van die vrugte wat produseer word, word deur die Sjinese gesondheidsbedryf opgeraap.”

Amorentia Kwekery op Tzaneen gebruik draakvrugte om jenewer te maak.

Volgens hom is dié vrugte uit die Ooste egter smaakloos. Die Universiteit van California in Los Angeles het begin om draakvrugte te veredel sodat dit ՚n mooi kleur het en lekker soet is. Howard het sewe jaar gelede veertien variëteite van die plantversamelaar Keith Wilson, wat plantmateriaal uit die VSA ingevoer het, bekom.

Howard het die variëteite onder die handelsnaam Amorentia Sweet Dragon Fruit registreer. Terwyl die kwekery die voortplantingsregte behou, word steggies onder lisensie aan boere beskikbaar gestel. In ruil kry hulle aandele in dié bemarkingsmaatskappy. Die nuwe variëteite kan met groot sukses op bestaande draakvrugplante geënt word sodat dit soet vrugte dra.

Amorentia se Sweet Dragon Fruit word onder ՚n kenmerkende handelsmerk bemark. “Ons doelwit is om ՚n besondere smaakervaring vir die verbruiker te skep. Die handelsmerk is ons waarborg van gehalte. Draakvrugte is ՚n supervrug. Al is dit soet, is dit diabeet-vriendelik.”

Howard wil graag die smaakervaring verder uitbrei deur gebruik te maak van ՚n jong Franse sjef. “Felix Largot het aan ons Stanford Lake College in Magoebaskloof studeer voor hy homself in Frankryk as sjef bekwaam het,” vertel hy. Volgens hom het Felix ՚n reeks resepte rondom draakvrugte ontwikkel. Wanneer hy binnekort na Suid-Afrika kom, sal hy nog resepte ontwikkel wat naas die vrug ook Suid-Afrikaanse wildsvleis, avokado’s en makadamia-neute insluit.

Louw de Wet, Robertson

Louw de Wet van Retreat Boerdery by Robertson in die Wes-Kaap het in 2016 met draakvrugte begin eksperimenteer met die doel om dit deel te maak van die boerdery se vrugtemandjie. Hulle boer ook met perskes, appelkose, kwepers, pere, sitrus en wyndruiwe. Sy draakvrugte word vandag onder FireFruit Edms Bpk bemark.

Louw de Wet van Retreat Boerdery by Robertson.

Hy het met vyftig plantjies begin wat in sakke geplant en later in voedselkonkas oorgeplant is. In 2018 het hy ՚n blok in ՚n oop land langs die konkas geplant, wat in 2019 verder op ՚n ander perseel uitgebrei is. In 2020 het hy draakvrugplante rondom ՚n sitrusblok onder nette geplant.

Die subtropiese kaktus is gevoelig vir uiterste koue, maar kan hitte van tot 38 grade Celsius maklik verduur. Wanneer dit warmer word kan ՚n mens sonbrand verwag. “Dit is baie warm en droog hier en dit is seker dié plek in die land waar die grootste verskeidenheid produkte geproduseer word,” verklaar Louw.

Direkte son lei tot sonskade en Louw het gevind dat die nette ՚n subtropiese klimaat weg van die felheid van regstreekse sonstrale skep. Die plante onder nette het vanuit die staanspoor beter gevaar as dié wat in die oopte geplant is.

Hy het gevind drupbesproeiing met ՚n lae vloei van 1,6 liter/uur werk goed. Omdat dit baie doeltreffende besproeiing bied, bespaar hy water.

“Gesonde plante kan heelwat water en voedingstowwe opberg. Wanneer die plante begin blom en vrugte dra, word hierdie reserwes gebruik. Draakvrugte kom met heelwat minder water as wyndruiwe klaar”

Louw de Wet het draakvrugte in voedselkonkas geplant.

Louw het gevind dat die beste tyd vir aanplanting in die lente is wanneer die grondtemperatuur bo 15 grade Celsius styg en die risiko van laatryp verby is.

Grond met goeie dreinering en ryk organiese bemesting is nodig. “Die vlak bywortelstelsel kan tot sowat 600 mm diep strek en hoe losser die grond en hoe beter die dreinering, hoe beter vaar die plant.”

Op oop grond het Louw die grond dieper as 60 cm met ՚n skeurploeg bewerk, maar onder die nette het hy die plantjies bloot in nat grond geplant.

Gedurende die groeiseisoen dien hy kalium, kalsium, fosfate en mikro-elemente toe, terwyl hy na-oes en in die lente die wortelaksie met stikstof aanhelp. Blaarvoeding geskied deur lugaanwending, terwyl grondtoediening deur middel van die besproeiingstelsel gedoen word.

Louw de Wet van Retreat Boerdery bemark sy draakvrugte onder die handelsnaam FireFruit. (Bron: Verskaf)

Die algemeenste pes in die Robertson-omgewing is plantluise, kalanders en Miridae soos blaaspootjie, asook slakke, wat almal met organiese, omgewingsvriendelike produkte beheer word.

Hoewel die plant in die eerste jaar vrugte dra, word dit meestal eers in die tweede jaar geoes. In die derde of vierde jaar raak die oes meer ekonomies haalbaar. Volproduksie word van die vyfde jaar af verwag. Die plant het ՚n kommersiële leeftyd van tot twintig jaar, maar dit kan selfs langer wees.

Die vrugte word in siklusse van Januarie tot einde Junie ryp. Die ryp vrugte word met ՚n sterk, skerp skêr in die loot afgesny. “Die dikkerige, leeragtige skil kan hantering weerstaan, maar hoe versigtiger jy daarmee werk, hoe langer gaan die vrug mooi lyk en dus ՚n langer rakleeftyd hê.”

Draakvrug-gladdejantjies is ՚n groot gunsteling.

Teen Maart 2021 het hy sowat vier hektaar met verskillende variëteite gehad. Tans evalueer hy meer as 75 variëteite. “Dit is ontsettend belangrik om die regte variëteite te kweek en te produseer. Daar is nie plek in die bedryf vir vrugte wat nie lekker smaak nie. Ons doel met FireFruit is om slegs vrugte met uitstaande smaakgehalte te produseer.”

Louw glo dat die vrug groot moontlikhede inhou. “Ek dink die toekoms van die bedryf is baie opwindend en ek sien uit daarna om dit wat ek begin het uit te bou. Ek glo dit sal bydra tot ՚n gesonde leefstyl vir liggaam, verstand en siel.”

CT van der Merwe, Dendron

CT van der Merwe van AL3 Boerdery het in 2017 draakvrugte begin plant om die boerdery, wat sedert 1978 op volhoubare boerderybeginsels gegrond is, aan te vul.

CT van der Merwe van AL3 Boerdery bemark sy draakvrugte onder die handelsnaam Dragon Berry. (Bron: www.al3.co.za)

Hulle boer ook met aartappels, uie en botterskorsies, en het onlangs ook granate by die mandjie gevoeg. Hulle het ook beeste en ՚n voerkraal. AL3 Boerdery se plase strek van Dendron noord van Pietersburg en anderkant die Soutpansberge by Waterpoort in Limpopo, Hendrina, Ermelo en Bethal in Mpumalanga, en Modderrivier naby Kimberley in die Noord-Kaap.

“Draakvrugte, wat ons onder die naam Dragon Berry bemark, het mooi by ons boerdery ingepas omdat dit hier relatief droog en warm is. Ons het min water, maar dit is ՚n rypvrye area met hoë temperature,”

vertel CT.

“Daar was maar ՚n stywe leerkurwe omdat daar nie baie kennis in die veld is nie en ons doen nog baie navorsing. Op die oomblik is die draakvrugte nog nie so ekonomies lewensvatbaar as wat ons dit sou wou gehad het nie. Die probleem is dat ons met ՚n groot klomp vrugte op ՚n slag sit waarvoor ons nog nie ՚n voldoende afsetgebied het nie. Ons werk nog aan kontinuïteit met die regte kultivars en goeie gehalte vrugte, asook die afsetgebied.”

Die vrugpulp van draakvrugte kan rooi, pienk, wit of geel wees.

CT het steggies by Amorentia Kwekery op Tzaneen, Max van Heerden van Dragon Fruit SA, en Jackie Riddell van Dragons Den in die Oos-Kaap aangekoop.

Hy het die grond diep bewerk met ՚n skeurploeg, grondregstelling gedoen en die steggies op riwwe van 700 mm hoog geplant. “Die riwwe sorg vir goeie dreinering. Omdat die plant nie baie dors is nie maak ons gebruik van mikrobesproeiing.” Volgens hom het die plant gemiddeld sowat 400 mm water per jaar nodig.

“Juis omdat ons van boorgate gebruik maak en nie baie water het nie, het ons nie dekgewasse tussen die rye geplant nie. ՚n Deklaag van houtspaanders bewaar die grondvog en is optimaal vir grondorganismes. Ons gebruik tans net biologiese produkte.”

Die stamme word teen ՚n latwerkstelsel opgelei en begin op gemiddeld twee jaar vrugte dra wanneer die plant ՚n draaipunt bereik en die takke afwaarts begin neig.

Die blom van die draakvrug bly net een dag oop vir bestuiwing.

Die grootste uitdaging is blaaspootjie, stinkgogga en antraknose. “Elke jaar is daar iets nuuts, maar ons beheer die peste en plae met biologiese middels.”

Snoeiwerk, oes en verpakking is arbeidsintensief. “Die vrugte kneus maklik en moet sag hanteer word. Dit moet ook so gou as moontlik verkoel word. Ons verpak teen 16 grade Celsius en stoor teen 8 grade Celsius.”

Hulle het begin 2020 begin uitvoer, maar Covid-19 het vlugpryse baie hoog gemaak, wat uitvoere aan bande gelê het.

“Gelukkig groei die vraag na verwerkte, soet vrugte met ՚n mooi kleur,”

sê hy.

Draakvrugprodusente het ՚n WhatsApp-groep begin waarop meer as 90 lede inligting met mekaar deel. Nie al die lede is produsente nie; die groep sluit ook diensverskaffers en agente in.

Die Southern African Dragon Growers Association, met Freddie Steyn as voorsitter en CT as ondervoorsitter, is ook onlangs in die lewe geroep.

Kontakbesonderhede

Howard Blight, Amorentia Kwekery, Politsivallei, Tzaneen: 074-146-3420 of 076-705-6199 of besoek die webtuiste by www.amorentia.co.za.

CT van der Merwe, AL3 Boerdery, Dendron, Limpopo: 083-232-6400 of ct@al3.co.za of besoek die webtuiste by www.al3.co.za.

Louw de Wet, Retreat Boerdery, Robertson, Wes-Kaap: 079-501-7749 of louwdewet@firefruit.co.za, of besoek die webtuiste by www.firefruit.co.za.

Facebook: FireFruit – The African Dragon Fruit;

Instagram: @firefruit_

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Leave a Reply

Your email address will not be published.

Carel Muller se realistiese waarskynlikhede model vir Bonsmara beeste

SA STAMBOEK ELITE Toekennings 2022