in ,

Doen dit self: Boer bou beter planter

This post is also available in: English

’n Mens se handewerk is jou handtekening – dit sê iets van wie en wat jy is. Só sê Willem Bornman, ’n mielie- en koringboer van die plaas, Rooipan, net buite Orania. Anders as die meeste boere wat hulle werktuie klaargemaak aankoop, verkies Willem om syne self te maak, dan weet hy presies wat hy het.

Willem is ’n boer in murg en been, maar hy is ook lief daarvoor om met sy hande te werk en dinge te skep. Daarom het hy onlangs sy eie konvensionele koringplanter gebou waarmee hy hierdie seisoen sy koring gaan plant. Dit het hom so bietjie meer as twee maande geneem om die planter te bou. Hy, sy seun Waldie, en vier van sy werknemers het saam aan die planter gewerk, maar volgens Waldie was sy pa, met sy geesdrif om werktuie te bou, die groot dryfkrag agter die projek.

Willem het sy liefde om met ysters en masjiene te werk by sy pa gekry. Hy het Meganiese Ingenieurswese by die Germiston Tegniese Kollege studeer en sy vakleerlingskap by Eskom deurloop.

Waarom sou ’n boer besluit om sy eie planter te maak eerder as om bloot een te koop? Twee redes: Willem bou sy eie planter, want dit wat die mark bied, werk nie presies soos hy dit wil hê nie en voldoen nie aan sy behoeftes nie. Dit is vir die man wat kan, baie goedkoper om een self te bou.

’n Presisieplanter kan enigiets tussen R500 000 en R2,4-miljoen kos. Willem se planter, wat net so goed of beter as enige gekoopte planter werk, was heelwat goedkoper.

Maar dit is nie sommer net ’n saak van inspring en begin saag en sweis en boor nie. Willem se planter is die resultaat van noukeurige beplanning en fyn ontwerp: “Ek het 16 jaar gelede (in die jaar 2 000) tekeninge van die ontwerp van die planter gemaak,” sê hy.

Willem koop net daardie onderdele wat hy glad nie self kan maak nie, soos laers, aan sodat hy so min as moontlik op die werk van andere hoef te vertrou.

Die planter wat hy gebou het is bedoel om fyn sade te plant en hy plaas vloeibare kunsmis ook. Die planter plant 21 rye met ’n 200-mm ryspasiëring en kan tussen 30 en 40 hektaar per dag plant. ’n Trekker van sowat 80 kW word benodig om die planter te sleep.

Dit is nie moeilik om die planter te kalibreer nie. “Elke eenheid word afsonderlik gekalibreer.” Die planter kan verstel word om van nul tot 600 kg kunsmis per hektaar plaas.

Elke plantereenheid het sy eie, verstelbare dieptebeheerwiele sodat jy deurgaans die saad en kunsmis kan plaas presies waar jou omstandighede dit verg.

Volgens Willem werk die bou van ’n planter so: “Vir weke is daar niks om te wys nie, maar wanneer al die onderdele vervaardig is, kan jy hom binne een dag klaarmaak. Om elke dingetjie te maak is baie tydrowend, maar om dan al daardie goed aanmekaar te sit is baie lekker. Dit verg tyd, maar dan weet ek alles is reg.”

Willem maak eers ’n setapparaat vir elke onderdeel en dan maak hy elke ding presies volgens die setapparaat. “Dis soos om ’n koek in ’n sekere pan te bak. Elke keer as jy die koek bak, kom dit in presies dieselfde vorm uit. Die doel hiervan is om die produk akkuraat te vervaardig,” sê hy.

Willem gee toe dat sy gereedskap en masjinerie ’n onontbeerlike rol in sy vervaardigingswerk speel: “Sonder die masjiene wat ek het, sou ek niks kon bou nie. Die masjiene sny en buig die plate.”

Die planter is verreweg nie die eerste projek wat Willem al aangepak het nie. Hy het onder meer ook al landskawe, skeurploeë, beitelploeë en saadbedvoorbereiders gebou – en hulle almal werk perfek. Hy het as jong ingenieur al 17 planters vir mense in een seisoen gebou, benewens talle ander werktuie vir ander boere. “Maar hierdie doen ek net vir myself,” sê Willem oor die planter.

Iewers in Willem se agterkop broei die moontlikheid om dalk vorentoe ’n werkswinkel te vestig en vir ander mense werktuie te bou. Sy grootste droom is om eendag selfaangedrewe planters vir die kommersiële mark te bou.

Die toonbeeld van werkstrots en vakmanskap: Willem Bornman se konvensionele kleinsaadplanter is klaar gebou en lus vir die land. Let op die stewige konstruksie, die sinvolle ontwerp met reguit saadpype om akkuraatheid te verseker en die netjiese afwerking.
Die toonbeeld van werkstrots en vakmanskap: Willem Bornman se konvensionele kleinsaadplanter is klaar gebou en lus vir die land. Let op die stewige konstruksie, die sinvolle ontwerp met reguit saadpype om akkuraatheid te verseker en die netjiese afwerking.
Al die onderdele van die planter wat Willem Bornman self gebou het, is so professioneel soos kan kom. As jy konstante plantdiepte wil hê, moet die plantereenhede ewe diep in die grond bly, sê Willem terwyl hy verduidelik hoe die plantereenhede werk.
Al die onderdele van die planter wat Willem Bornman self gebou het, is so professioneel soos kan kom. As jy konstante plantdiepte wil hê, moet die plantereenhede ewe diep in die grond bly, sê Willem terwyl hy verduidelik hoe die plantereenhede werk.

Willem Bornman en sy seun, Waldie, is ewe opgewonde oor die planter wat hulle gebou het.
Willem Bornman en sy seun, Waldie, is ewe opgewonde oor die planter wat hulle gebou het.

What do you think?

1 point
Upvote Downvote

Total votes: 1

Upvotes: 1

Upvotes percentage: 100.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Scania ry die lekkerste

Senter 360 maak besproeiing se pad oop in die Karoo