in ,

Dis g’n strooi, ons praat hooi: Deel 1 Gewasse wat werk

Dit is nie net ՚n wolhaarstorie nie, dit is die reine waarheid: ՚n mens maai wat jy saai. Wanneer dit by gehalte voer kom vir jou diere, is dit ook so — dit is immers die sleutel tot beter gehalte produksie van vleis en melk. Daarom neem boere noukeurige besluite oor watter hooigewasse die beste is om op hulle grond te plant en aan hulle diere te voer.

Hoë gehalte hooi kan uitgeken word aan:

  • Die groen kleur van varsgebaalde hooi,
  • die hoeveelheid blare teenoor takkies in die baal,
  • die vars hooireuk soos gesnyde gras, nie muwwerig of suur nie,
  • die afwesigheid van rommel, onkruid of ander vreemde materiaal soos klippe en draad.

Daar is verskeie keuses waarin die boer kan belê wanneer hy hooi vir sy vee verbou. Hierdie opsies word geklassifiseer in drie kategorieë, naamlik gras, peulgewasse en graan. Watter tipe gewas jy vir jou diere aanplant sal afhang van die tipe dier op jou plaas, die ruimte wat jy daarvoor benodig en die manier waarop dit benut sal word, byvoorbeeld as weiding of hooi.

Lusern (Medicago sativa L)

Hierdie meerjarige peulgewas is welbekend as voer, sowel vir hooi as weiding. Dit kan tussen 15 en 30 ton droëmateriaal per hektaar per seisoen lewer.

Lusern benodig ՚n minimum van 400 mm reën per jaar, maar dit vaar goed onder besproeiing.

Lusern in die blom. (Bron: Pikist)

Die beste tyd om te plant is wanneer ryp nie voorkom nie. In somerreënvalgebiede kan dit of tussen Maart en Mei geskied, of in winterreënvalgebiede tussen Maart en Julie. In koeler streke met somerreën kan dit òf tussen Februarie en April, òf in September geplant word.

Lusern moet so gou as moontlik nadat dit gesny is droog word sodat die voedingswaarde en gehalte behou word. Blaartjies droog vinniger as stingels en hantering kan maak dat die blaartjies afval. ՚n Kneuser kan gebruik word om die probleem te omseil deurdat die gekneusde stammetjies vinniger droog word.

Voordele:

  • Lusern bind stikstof (N) uit die lug.
  • Dit lewer goeie gehalte hooi en weiding.
  • Dit trek water diep uit die grond.
  • Dis goed aangepas vir verskeie klimate.
  • Dit vaar goed onder besproeiing.

Nadele:

  • Swak bestuur kan maak dat dit ՚n duur gewas is.
  • Kan diere laat opblaas en nitraatvergiftigings veroorsaak.
  • Dit het ՚n lae energie-inhoud teenoor die proteïeninhoud.
  • Dit kan maklik versuip.
  • Swak bestuur veroorsaak blaarverliese.

Grondvereistes

Lusern benodig vrugbare grond wat goed dreineer. Dit is sensitief vir hoë aluminium- (Al) -vlakke in die grond. Die aanbevole grondsuurvlakke is tussen 5,5 en 6,5 pH.

Bemesting

Bemesting met stikstof (N) is nie nodig nie omdat die plant dit uit die atmosfeer verkry.

Armmanslusern (Sericea lespedeza)

Armmanslusern groei in verskeie klimate. Dis ՚n goeie keuse om hooi van te maak om vee se dieet aan te vul. Dit groei in warm gebiede, maar is glad nie rypbestand nie. Dit lewer tot 9 ton droëmateriaal per hektaar per seisoen.

Armmanslusern het verskillende soorte. (Bron: Dalgial, wikicommons)

Daar word nie intensiewe grondbewerking benodig voordat daar gesaai word nie, maar ongeveer 5 cm is ՚n goeie diepte. Nadat die plant gevestig is, hoef die wortels ook nie belug te word nie; dit kan sonder belugting goed groei vir byna ՚n dekade.

Die saadbed kan na die saaiery gerol word om seker te maak daar is goeie kontak tussen die grond en die saad.

Armmanslusern benodig minstens 550 mm reën per jaar om te oorleef, maar met ՚n hoër reënval groei dit beter.

Die beste tyd om dit aan te plant is tussen November en Februarie. Omdat dit so lank neem om gevestig te raak, kan boere tot 3 jaar moet wag om ՚n veld met goeie weiding te hê. Die saad is hardskalig en versprei en saai self verder.

Plante kan gesny word wanneer dit tussen 35 en 50 cm hoog is.

Voordele:

  • Dis ՚n sterk meerjarige plant.
  • Dit veroorsaak nie opblaas nie.
  • Dit het ՚n hoë proteïeninhoud.
  • Dit het anti-parasitiese eienskappe as gevolg van die tanien daarin.
  • Dit trek stikstof (N) uit die lug.
  • Dit vorm sterk wortelstelsels wat dit droogtebestand maak.
  • Dit groei in onvrugbare grond.
  • Dit is ook siekte- en insekbestand.

Nadele:

  • Dit vat lank om te vestig.
  • As dit nie bestuur word nie, raak
  • Dit ՚n houtagtige plant met min verteerbaarheid.
  • Diere kan die plant onsmaaklik vind.

Grondvereistes

Armmanslusern groei in onvrugbare grond waar ander weiding nie oorleef nie. Die grond moet verkieslik goed dreineer, ongeag of dit klei-, sand-,
of leemgrond is.

As die grond ՚n lae pH (minder as 5,5) het, sal armmanslusern steeds goed groei. Die plant groei ook in swak, onvrugbare grond wat ՚n lae fosfor- (P) -inhoud het.

Bemesting

Omdat armmanslusern stikstof uit die lug trek, moet geen stikstof in die vorm van bemesting bygevoeg word nie.

Oulandsgras (Eragrostis curvula)

Dis ՚n sterk meerjarige gras wat tot 10 ton per hektaar droëmateriaal in ՚n seisoen kan lewer sonder veel inspanning. Met goeie bestuur en goeie reënval of besproeiing kan dit tot 30 ton per hektaar lewer. Dit is die ideale hooigewas in droë streke met ՚n minimum reënval van 550 mm per jaar.

Oulandsgras se kenmerkende saad. (Bron: John Tann via WikiCommons)

՚n Kombinasieweiding van lusern en oulandsgras is geskik vir Suid-Afrika se skaapboerderye. Die aangeplante weiding kan vroegsomer gesaai word op sowel geploegde lande as tussen bestaande weiding. Dit is die beste om dit te saai tussen Oktober en Februarie wanneer die grond-temperatuur bo 16 °C is en die reën volop is.

Die saailinge groei goed in temperature van 17 tot 32 °C en kan uitermatige koue (tot -20 °C) oorleef.

Hooi wat van die plant gemaak word kan gesny word voordat die gras begin blom. Die lande met oulandsgras moet gereeld gesny word om te voorkom dat die gras hard en veselagtig word. Dit kan ook veroorsaak dat die grond te vinnig uitgeput word en die plante vrek.

Beheerde brande van oulandsgras kan die digtheid, opbrengs en gehalte verbeter.

Voordele:

  • Oulandsgras lewer tussen 6 en 15 ton droëmateriaal per seisoen.
  • Dit groei in grond met swak vrugbaarheid.
  • Ontkiem redelik goed en dien as erosiebeheer.
  • Dis kouebestand.

Nadele:

  • Die plant het ՚n lang groeiseisoen.
  • Dit vaar nie goed in kleigrond nie.
  • Die voedingswaarde neem vinnig af nadat die plant geblom het.
  • Die plante kan gou versuip as daar te veel water in die grond is.
  • Oulandsgras benodig ՚n gemiddelde tot hoë reënval.

Grondvereistes

Oulandsgras verkies grond met goeie dreinering, soos sanderige of leemgrond. Grond met ՚n pH van tussen 4,5 en 5 is ideaal, maar die plant kan ՚n effense laer of hoër suurinhoud hanteer. Indien die grond baie kalk bevat, kan dit wel kwesbaar wees vir ystertekorte.

Bemesting

Oulandsgras kan sonder kunsmis groei omdat dit steeds in onvrugbare grond goed presteer, maar die toediening van stikstof (N) en kalium (K) word aanbeveel om die beste resultate te verkry. Alternatiewelik kan grondontleding gedoen word voordat jy saai om vas te stel wat presies jou veld benodig.

Bronne:

Foods and Agriculture Organisation of the United Nations, (2022). NSP – Weeds. Plant Production and Protection Division: Weeds. Beskikbaar by: www.fao.org/agriculture/crops/thematic-sitemap/theme/biodiversity/weeds/en/

ProAgri, (2015). Advance seed vertel alles oor lusern plant; beskikbaar by: www.proagri.co.za/en/advance-seed-vertel-alles-oorlusern-plant/

ProAgri, (2018). Plant nou lusern: so maak. Beskikbaar by: www.proagri.co.za/en/plant-nou-lusernmaak-jy/

AGT Foods Africa, (2018). Lucerne / Alfalfa. Beskikbaar by: www.agtfoods.co.za/wp-content/uploads/2021/11/Lucern-BookletAfrikaans.pdf

AGT Foods Africa, (2018). Lespedeza. Beskikbaar by: www.
agtfoods.co.za/wp-content/uploads/2018/07/19.-Lespedeza.pdf

AGT Foods Africa, (2018). Weeping Love – Forage. Beskikbaar by:
www.agtfoods.co.za/wp-content/uploads/2018/07/10.-Weeping-lovegrass.pdf

Feedipedia, (2020). Alfalfa (Medicago sativa). Beskikbaar by: www.
feedipedia.org/node/275

Feedipedia, (2020). Weeping love grass (Eragrostis curvula). Beskikbaar by: www.feedipedia.org/node/441

Feedipedia, (2020). Sericea (Lespedeza cuneata). Beskikbaar by:
www.feedipedia.org/node/283

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

One Comment

Leave a Reply

    Leave a Reply

    Your email address will not be published.

    Aartappel SA kyk vorentoe met 2022-transformasiesimposium

    National water week, an opportunity to tap into new standards