in ,

Die toppunt van spilpuntbesproeiing: Zimmatic maak die onmoontlike moontlik

This post is also available in: English

Halfsus, One-fifty, Groot Olie, Klein Olie, Tampan, Stefaans, Wiekie, Megan en Westine en nog baie ander. Elke Zimmatic-spilpunt in Roland van Tonder van Koedoeskop se boerdery, Allied Group, het ՚n naam en elke naam het sy eie storie.

Halfsus is so teen die kant van die plaas. One-fifty het sy naam gekry omdat Roland reg geraai het voor die opmetings gedoen is dat daar ՚n hoek van omtrent 150 grade is en Tampan, wel, die stukkie grond was net so lastig soos ՚n luis in ՚n koshuisbed!

Tussen al die name staan Impossible soos ՚n reus. Impossible het sy naam gekry na aanleiding van ՚n uitroep deur ՚n Amerikaanse ingenieur toe hy hoor Roland wil ՚n spilpunt met 16 torings oprig. Die onmoontlike is moontlik gemaak en vir die afgelope vyf jaar voltooi Impossible rustig elke dag sy sirkel om 150 hektaar te besproei.

Roland sê een van die redes vir die name is dat die werkers onthou watter spilpunt waar staan en niemand raak deurmekaar nie. Met meer as 30 spilpunte wat bedryf moet word, kan dit nogal ՚n uitdaging wees om kop te hou.

Roland se verbintenis met Lindsay, die vervaardigers van Zimmatic, het omtrent twee dekades gelede begin toe hy die grond gekoop het waarop hy sy eerste drie spilpunte wou oprig. “In daardie dae wou almal skielik spilpunte hê en die maatskappye in die land het nie eers moeite gedoen om hulle fone te antwoord nie, want hulle kon net nie lewer nie. Lindsay was die enigste maatskappy wat gesê het hulle sal ՚n plan maak.”

Dit was steeds nie maklik nie, want die spilpunte met 10-duim spanpype wat Roland wou hê, moes vanaf die vervaardiger in Amerika ingevoer word en dit was toe nou mooitjies in die tyd van die oorlog teen Irak. Al die skeepsvraghouers in die land is glo opgekommandeer! Roland het uiteindelik die veldslag op sy plaas gewen, die spilpunte is opgerig en sedertdien het hy nog nooit weer teruggekyk nie.

“Ek doen my vergelykings met hulle vernaamste mededingers in die mark, maar nog elke keer het Lindsay hulle geklop met prys, afleweringstyd en gehalte,” sê Roland. Die meeste van die spilpunte is groot – 11 of 12 torings – met lang spanne. Daar is nou ongeveer 2 000 hektaar onder besproeiing en Roland sê die spilpunte gee werklik min las. Omval is iets wat hulle nie ken nie, die staal is behoorlik volversink en die ratkaste hou; ook omdat hulle gereeld nagegaan en versien word. Die meeste van die slytonderdele word sommer op die plaas aangehou, maar as daar ՚n groter probleem is, is die mense van Lindsay net ՚n oproep ver. Roland word regstreeks van die hoofkantoor in die Kaap af bedien en hy werk nou saam met hulle ingenieurs om uitbreidings te beplan en spilpunte te ontwerp.

“Dit werk elke keer net soos ons dit beplan het,” sê hy. Die meeste van die spilpunte het ՚n neerslagtempo van 16 mm per dag, wat meer as genoeg is vir die plante se gemiddelde verbruikstempo van 8 mm per dag, wat beteken hulle kan die spilpunte meestal deur die nag en in goedkoper kragtye laat loop.

Gelukkige katoen maak ՚n boer gelukkig.

Roland sê hulle het al by geleentheid deur die jare gebruik gemaak van ander ratkaste of goedkoper bande wat hulle in die omgewing gekry het, maar dit word elke keer bewys dat die oorspronklike Zimmatic-dele en –onderdele ver bo die ander uitstaan.

Lindsay is voortdurend besig om sy tegnologie te verbeter en een van die verstommende ontwikkelings is ՚n olie wat ՚n seël vorm as daar ՚n lekplek is. Die grootste probleem wat hulle het, is egalige, betroubare kragvoorsiening. Roland sê hulle wil baie graag van Zimmatic se uitstekende elektroniese beheerstelsels gebruik maak, maar die pieke en onderbrekings in die omgewing is nie goed vir die elektroniese apparaat nie.

Hy is nou besig met ՚n reuse projek om self krag op te wek met ՚n gekombineerde sonkrag- en hidrostasie. Water sal bedags met behulp van sonkrag na ՚n hoogliggende dam gepomp word en snags, wanneer dit terugloop, sal die water turbines draai vir kragopwekking. ՚n Gedeelte van 40 hektaar is opsy gesit vir die operasie.

“As ons skoon krag het, kan ons werklik elektroniese bestuur toepas.” Vir skedulering word metings met grondvogmeters gedoen en ՚n maatskappy stuur elke drie dae ՚n verslag met al die inligting wat nodig is om water akkuraat te bestuur. Roland glo egter die beste manier om seker te maak al die mielies, sojabone en katoen wat tans in die lande is kry genoeg water, is om self te gaan kyk.

Laat Lindsay jou help om die onmoontlike moontlik te maak. Kontak Frederik Nel by 072-517-7581, 021-986-8900 of Frederik.Nel@lindsayafrica.co.za. Besoek gerus www.lindsay.com om na al die tegnologie te kyk.

Met Lindsay se hulp is die onmoontlike moontlik gemaak. Ontmoet Impossible, die 16-toring Zimmatic-spilpunt wat 150 hektaar besproei.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Agrico sit toepaslike tegnologie in die boer se hand

‘n Groot gees in die veebedryf oorlede