in

Die geskatte mielie-oes is 24% kleiner as die 2017

This post is also available in: English

Die grootte van die verwagte kommersiële mielie-oes is op 12,827 miljoen ton gestel, wat 3,27% of 406 310 ton meer is as die vorige skatting van 12,420 miljoen ton. Die skatting van die oppervlakte onder mielies is 2,319 miljoen ha, terwyl die verwagte opbrengs 5,53 t/ha is.

Die geskatte mielie-oes is 24% kleiner as die 2017-oes, wat die grootste oes nog ooit was (16,820 miljoen ton). Die drie belangrikste mielieproduserende gebiede, nl. die Vrystaat, Mpumalanga en Noordwes-provinsies, gaan na verwagting 82% van die 2018-oes produseer.

Die oppervlak onder witmielies is 1,268 miljoen ha en vir geelmielies is die oppervlak 1,051 miljoen ha. Die produksieskatting van witmielies is 6,630 miljoen ton, wat 4,19% of 266 560 ton meer is as die 6,363 miljoen ton van die vorige skatting. Die opbrengs van witmielies is 5,23 t/ha. In die geval van geelmielies is die produksieskatting 6,197 miljoen ton, wat 2,31% of 139 750 ton meer is as die 6,057 miljoen ton van die vorige skatting. Die opbrengs van geelmielies is 5,90 t/ha.

Die opbrengs-bepaling per ha vir die Mpumalanga provinsie is gebaseer op wetenskaplike en objektiewe resultate verstrek deur die LNR. Neem kennis dat die objektiewe resultate vir die Vrystaat en Noordwes provinsies, in Mei 2018 gerapporteer sal word.

Die produksieskatting vir sonneblomsaad is 792 255 ton, wat 5,75% of 43 050 ton meer is as die 749 205 ton van die vorige skatting. Die oppervlakteskatting vir sonneblomsaad is 601 500 ha, terwyl die verwagte opbrengs 1,32 t/ha is.

Ander gewasse:

Die produksieskatting van sojabone is 1,430 miljoen ton, wat 2,55% of 35 500 ton meer is as die 1,395 miljoen ton van die vorige skatting. Dit is die grootste sojaboon-oes nog geproduseer in die geskiedenis van SA. Die geskatte oppervlakte beplant met sojabone is 787 200 ha en die verwagte opbrengs is 1,82 t/ha.

Die verwagte grondbone-oes is onveranderd gelaat op 80 600 ton. Die oppervlakteskatting is 56 300 ha, terwyl die verwagte opbrengs 1,43 t/ha is.

Die produksieskatting van sorghum is ook onveranderd gelaat op 84 750 ton, terwyl die oppervlakteskatting vir sorghum 28 800 ha is. Die verwagte opbrengs is 2,94 t/ha. In die geval van droëbone is die produksieskatting 65 610 ton, wat 3,81% of 2 600 ton minder is as die 68 210 ton van die vorige skatting. Die oppervlakte beplant met droëbone is 53 360 ha, en die verwagte opbrengs is 1,23 t/ha.

Wintergewasse – 2018

Boere se voorneme om wintergewasse te plant is gebaseer op die resultate van ’n nie-ewekansige opname onderneem deur die Direktoraat: Statistiek en Ekonomiese Analise van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye en weerspieël die situasie teen die middel van April 2018.

Die syfers vir koring verteenwoordig die totale aantal hektare wat werklik beplant gaan word vir graan, uitgesluit alle hektare wat beplant gaan word vir groenvoer en weiding. Vroeë aanduidings is dat produsente van voorneme is om 500 500 ha koring te plant vir die 2018-produksie-seisoen. Dit is 1,81% of 8 900 ha meer koring aangeplant as in 2017.

Die grootste produserende gebiede is in die Wes-Kaap, met 320 000 ha (64%), gevolg deur die Vrystaat  met 95 000 ha (19%) en die Noord-Kaap met 37 000 ha (7%). Die verwagte aanplantings van moutgars is 95 700 ha – 4,73% of 4 320 ha meer as die 91 380 ha van die vorige jaar. Die verwagte aanplantings van kanola is 78 500 ha, wat 6,55% of 5 500 ha minder is as die 84 000 ha wat aangeplant was in 2017.

Die vierde produksieskatting vir somergewasse vir 2018, op 29 Mei 2018 vrygestel sal word en die voorlopige oppervlakteskatting vir wintergewasse vir 2018 op 26 Julie 2018 vrygestel sal word.

Bron: Oesskattingskomitee

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Wolmark styg met 4,1%

Huldeblyk: Oom Manie Maritz is nie meer nie