in

Die 18de SA Kaasfees ‘n immer-innoverende sukses

This post is also available in: English

Die 18de Suid-Afrikaanse Kaasfees van 26 tot 28 April 2019 was ‘n reuse sukses volgens die organiseerders, uitstallers én besoekers. Almal is dit eens: Dit was die beste fees nóg. Dit is immers nie elke dag dat die Suiwelproduk van die Jaar én die Gin van die Jaar saam by een fees kuier nie!

Johan Ehlers, hoof uitvoerende beampte van Agri-Expo, sê die SA Kaasfees is gevestig as Suid-Afrika se gewildste buitelug-koservaring. Dié viering van kaas en verwante produkte word sedert 2002 deur Agri-Expo aangebied en word die afgelope nege jaar op Sandringham buite Stellenbosch gehou.

“Vanjaar se fees was ‘n ideale samekoms van vernuwende produkte, goeie organisering en gesellige samesyn.”

‘n Hoogtepunt was volgens Ehlers die hoë standaard van produkte – waarvan die SA Suiwelproduk van die Jaar én die Gin van die Jaar vir 2019 getuig. Belnori Boutique Cheesery se 50/50-bok-en-koeimelkkaas St Francis of Ashisi en Deep South Distillery se Cape Dry Gin was tydens twee Tasting Room-sessies te proe. “Dié gin het op Dinsdag 30 April 2019 ‘n goue medalje gewen by die London Spirits Competition én is boonop uit meer as 300 inskrywings aangewys as die Gin van die Jaar vir 2019.”

Ehlers sê die fees, met ‘n kapasiteit van 10 000 mense per dag, was die vroegste ooit uitverkoop vir die Saterdag. “Agri-Expo is saam met die uitstallers ingenome oor die geweldige koopkrag by vanjaar se fees. Ons skryf dit toe aan die gehalte en bekostigbaarheid van die produkte.”

Die groot verskeidenheid uitstallers is volgens Ehlers ‘n belangrike rede vir die groeiende sukses van die fees. “Ons het vanjaar ‘n rekord aantal van meer as 170 uitstallers gehad. Boonop was sowat ‘n derde van hulle nuwe deelnemers.”

Nuwe feeservarings: Van buffelmozzarella tot boetiekgin en insekroomys

Kommersiële en boetiekkaasmakerye van regoor die land en ook van die buiteland bring jaarliks meer as 20 ton kaas na die SA Kaasfees. Een van die pluspunte vir feesgangers vanjaar was groter deelname van internasionale kase uit veral Italië en Nederland waarmee plaaslike produkte vergelyk kon word. ‘n Splinternuwe toevoeging tot die Cheese Emporium was die Food Lover’s Piazza met alles Italiaans – met Italiaanse kase, olywe, Provolone, Prosciutto di Parma, pasta, pesto én Italiaanse gasvryheid in oorvloed.

Ehlers sê uitstallings van boetiekkaasmakerye van heinde en verre is uniek aan die SA Kaasfees. “‘n Aantal klein kaasmakers is weer genooi om hul unieke handgemaakte produkte bekend te stel as deel van ons #Support #SmallCheeseMakers-projek in vennootskap met die Wes-Kaapse Departement van Landbou (WKDL) en Absa.”

Een van dié deelnemers was ‘Ciao Ciao’, ‘n splinternuwe kaasmakery wat slegs tien dae voor die fees geopen het. Volgens die mede-eienaar Maurizio Odiema het hul buffelmozzarella en fior di latté baie goed verkoop. “Ons het reeds belangstelling van ‘n bekende kleinhandelaar gekry asook hulp met die aansoek om ‘n uitvoerpermit.”

Nóg ‘n nuwigheid was die toegewyde Craft Canopy-uitstalarea met ‘n groot verskeidenheid wyn, bier, vonkelwyn en vir die eerste keer boetiekgin.

Die Tasting Room was ‘n groot gunsteling onder besoekers. Bekende sjefs soos Pete Goffe-Wood, The Food Fox Ilse van der Merwe, Lapo Magni en The Kate Tin Katelyn Allegra het daagliks ses pas-en-proedemonstrasies aangebied. Besoekers kon kaas saam met wyne soos SA se top Chenin Blanc en Sauvignon Blanc, bier en selfs sjokolade geniet, en ook leer wat Prosecco anders as Champagne maak.

Besoekers kon vanjaar weer as deel van die Cape Made Taste the Alternatives-projek, danksy ‘n vennootskap met die WKDL, innoverende skeppings van sowat 50 uitstallers se nis- en alternatiewe produkte uittoets en koop. Interessante nuwighede sluit in perlemoenpastei, kombucha-asyn, plaashoenderbiltong, gepekelde alikreukel, rooibosvodka en insekroomys gemaak van EntoMilk™! Meer as 30 resepte wat kaas, brood en alternatiewe produkte kombineer, is spesiaal ontwikkel vir kookdemonstrasies wat daagliks in die Cape Made Kitchen aangebied is. Besoekers wat dié sessies bygewoon het, het elkeen ‘n eksklusiewe resepteboek as geskenk ontvang. Belangstellendes kan die resepteboek op die SA Kaasfees se webwerf aflaai.

‘n Uitstal-meesterstuk

Die SA Kaasfees is reeds verskeie keer bekroon as die ‘Beste Verbruikersuitstalling in Afrika’ (groter as 12 000m²) deur AAXO (Association for African Exhibition Organisers), asook as die Kaapse Wynland se ‘Fees van die Jaar’ in 2018.

Ehlers sê dit is vir Agri-Expo ‘n voorreg om deur die die uitstal- sowel as die toerismebedryf vereer te word. “Ons is vanjaar ook oorval met talle positiewe terugvoer van besoekers, uitstallers en vennote oor nuwe feeservarings wat geskep is, die uitleg van die terrein en die gesellige samesyn in die verskillende areas,” sê Ehlers.

Eerstekeer-feesganger, Theo Kleinhans van die Helderberg het baie feesgangers se ervaring opgesom met sy kommentaar: “Dis een van die mees georganiseerde feeste wat ons nog bygewoon het. Van die aankoms tot die parkering en sekuriteit was uitstekend. Die stalletjies was netjies en daar was genoeg sitplek.”

Uitstallers bekroon

Die organiseerders het die beste uitstallings in ses kategorieë bekroon – waaronder ‘n nuwe uitstaller, Diesel & Dust Craft Beer. Die wenners was Ladismith Kaas (Kommersiële kaas); Kasselshoop Cheese (Boetiekkaas); Diesel & Dust Craft Beer (Alkoholiese produkte); Las Paletas Artisan Lollies (Verwante produkte); Busy Bee Apiaries (Alternatiewe Produkte); Piroschka’s Flammkuchen (“Gourmet Lane”); en Wes- en Suid-Kaap Angus Klub (Melkfabriek/Dierelaning).

Ehlers het al vanjaar se uitstallers geloof vir hulle vernuwende produkte, fees-afslagaanbiedinge en persoonlike interaksie met besoekers.

Die 19de SA Kaasfees vind plaas van Saterdag 25 April tot Maandag 27 April 2020 by Sandringham-landgoed buite Stellenbosch. Besoek www.cheesefestival.co.za vir meer inligting, volg die SA Kaasfees op Twitter @SACheeseFest, Facebook @SACheeseFestival of Instagram @sacheesefest, of kontak Agri-Expo by tel 021 975 4440 of admin@agriexpo.co.za.

Bron: Isabeau Botha, Agri-Expo

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Besoek Goscor by NAMPO op standplaas C17 waar ons die beste gehalte nywerheidsprodukte en masjiene ten toon stel

Sauvignon Blanc SA is die nuwe ambassadeur vir ‘n wêreldwye gunsteling