in ,

CLAAS: Toonbeeld van Duitse vakmanskap en uitnemendheid

This post is also available in: English

Groot sukses het dikwels ’n klein begin. Toe August Claas in 1921 sy eerste patent, ’n eenvoudige maar hoogs doeltreffende touknoper vir sy balers, geregistreer het, het dit ’n ketting van gebeure aan die gang gesit wat gelei het tot die ontwikkeling van een van die grootste en mees tegnologies gevorderde landbouwerktuigvervaardigers in die wêreld.

Vandag is die derde geslag Claase aan die stuur van hierdie wêreldwye maatskappy, met Helmut Claas as voorsitter en sy dogter, Cathrina Claas-Mühlhäuser, as bestuurder van die maatskappy.

CLAAS het besluit om eerder ’n familiesaak te bly as om aandele te verkoop. Hulle glo daarin om stap vir stap uit te brei en ’n bepaalde land se behoefte te ondersoek voor hulle die sprong waag om ’n fabriek daar op te rig.

CLAAS het vandag 11 400 werkers wêreldwyd en spog met fabrieke in Frankryk, Rusland, Amerika, Indië, Hongarye en Sjina, wat spesiaal vir daardie lande werktuie vervaardig.

Hulle verspreider in Suid-Afrika, Kempston Agri, is ook die basis vir verspreiding noordwaarts in Afrika. Oor die afgelope eeu het CLAAS ook stropers, kerwers, materiaalhanteerders, teleskopiese laaiers en so onlangs as 2003, met die oorkoop van Renault Landbou, ook trekkers onder hulle dak(ke) begin vervaardig. Hulle belangrikste en bekendste produk is natuurlik stropers, soos Suid-Afrikaanse boere kan getuig, en hulle het met hulle 100ste verjaarsdag in 2013 hulle 450 000ste stroper uit die fabriek gestoot.

Die 36 000 jaarlikse besoekers kan al die jongste toerusting in die Technoparc-vertoonlokaal by die fabriek in Harsewinkel bewonder.
Die 36 000 jaarlikse besoekers kan al die jongste toerusting in die Technoparc-vertoonlokaal by die fabriek in Harsewinkel bewonder.

CLAAS se hoofkantoor en hoofaanleg van vier in Duitsland is in die dorpie Harsewinkel in die deelstaat Nordrhein-Westfalen met ’n onderdakruimte van 400 000 vierkante meter. Dit word gereken as een van die mees tegnologies gevorderde landboutoerustingfabrieke in die wêreld, veral vir kerf en strooptoerusting.

In Harsewinkel is daar vier produksielyne waar hulle vlagskipstroper, die Lexion, asook die Tucano-, Avero- en Dominator-stropers gebou word. Elke kwartier ry daar ’n spiksplinternuwe stroper uit die fabriek. Die Jaguarkerwer en hulle vlagskip 4×4 Xerion trekker word ook hier vervaardig. In die ander fabrieke in Duitsland het CLAAS onder meer ’n pakhuis met 135 000 verskillende onderdele en word daar sterk gefokus op die ontwikkeling van hidrouliese tegnologie, elektroniese komponente en moderne datakommunikasie.

Claas_museum
CLAAS het ook ’n museum in hulle vertoonlokaal, wat getuig dat hierdie maatskappy met hulle diep wortels in landbou nog vir baie lank ’’n nalatenskap gaan lewer.

Vandag besit CLAAS 40% van die Europese stropermarkaandeel en 77,2% van hulle produkte word uitgevoer. Volgende maand kyk ons na CLAAS se jongste ontwerpe waarmee hulle handevol medaljes by die 2015 AgriTechnica-skou gewen het.

Bel gerus vir Kempston Agri by 034-703-3100 of stuur ’n e-pos aan Michael Howell by michael.howell@kagri.co.za of Etienne van Wyk by etienne.vanwyk@kagri.co.za om meer uit te vind oor Claas se uithalerwerktuie.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Scania bied die boer nommerpas vervoer

AgriTechnica prikkel die verbeelding