in ,

CLAAS laat wêreldrekord spat!

CLAAS

This post is also available in: English

Soos ’n warm mes deur botter – só het CLAAS se DISCO 1100 RC-snyerkneuser deur die lusernland gesny om die wêreldrekord vir die meeste snywerk in agt uur ver te oortref.

Die skouspel het op 1 Julie vanjaar op Mesbergen Farms in Colorado plaasgevind waar Tate Mesbergen net na twaalfuur die middag sy Axion 800 bestyg en met sy DISCO 1100 RC die lusernlande aangedurf het.

Die toestande was nie ideaal nie, te wyte aan 12,7 mm reën wat die vorige dag geval het om die lande natter as gewoonlik te laat, maar Tate het geweet hy kan op sy CLAAS-trekker en -snyer reken om deur te druk.

Presies agt uur later was Tate die nuwe wêreldrekordhouer! Sy ondersteuningspan en die onafhanklike getuies was almal beïndruk en selfs verwonderd oor sy prestasie: 141,1 hektaar lusern netjies gesny én gekneus teen ’n opbrengs van 5,24 ton droëmassa per hektaar!

Dit oortref die vorige wêreldrekord met meer as 40,5 hektaar.

Boonop is die vorige rekord opgestel met gras, nie lusern nie, en ’n snyer sonder kneuser is gebruik. Dit maak Tate en CLAAS se prestasie nog meer aanskoulik.

Voorts is Tate se rekord opgestel op vier verskillende lande wat nie almal naby aan mekaar geleë is nie. Dit beteken dat die snyer telkens opgevou moes word om na die volgende land te ry.

Maar dit is nie al nie – daar was ook twee onbeplande onderbrekings: Die eerste was toe Tate ’n betonblok in die eerste land getref het en moes stilhou om seker te maak dat dit geen skade aan die snyer aangerig het nie, wat toe ook die geval was. CLAAS is taai.

Die tweede onderbreking was maar net om seker te maak dat die snyer reg opgevou het voordat na die laaste land vertrek is.

Tate Mesbergen van Colorado het met sy CLAAS DISCO 1100 RC-snyerkneuser ’n nuwe wêreldrekord opgestel deur 141,1 hektaar lusern in agt uur te sny! By hom is die trotse span van CLAAS.

Soos blits

Op die land het Tate teen ’n maksimum spoed van 30 km/u deur die lusern geblits en tussen lande het sy AXION teen 50 km/u gedraf. Maar dit beteken geensins dat die DISCO 1100 RC sy werk argeloos afgerammel het nie. Die lusern is mooi skoon en netjies gesny en die snyer se kneuser het die stingels deeglik en sonder blaarverlies gekneus sodat dit vinnig kan droog en die maksimum voedingswaarde en eetgenot bied vir die gelukkige beeste wat aan daardie lusern gaan smul.

Die nodige dokumentasie en bewyse is na die Guinness-rekordboek gestuur, waar hierdie wêreldrekord waarskynlik nog lank agter CLAAS se naam sal staan.

CLAAS – ‘n trotse rekord

CLAAS is in 1913 as ‘n familie-onderneming gestig en is vandag een van die mees gerespekteerde wêreldleiers in die vervaardiging van landbouwerktuie.

CLAAS is die onbetwiste wêreldleier in stropers en selfloop-kuilvoerkerwers, en speel regoor die wêreld ‘n belangrike rol in boerderysukses met voortreflike trekkers, balers en hooimaaktoerusting, insluitende boerdery-inligtingstegnologie.

CLAAS het sowat 10 900 werknemers regoor die wêreld en het in die 2017-boekjaar ‘n omset van €3,7-miljard aangeteken.

CLAAS – die naam waarop die boer kan reken

claas

What do you think?

2 points
Upvote Downvote

Total votes: 2

Upvotes: 2

Upvotes percentage: 100.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Knikker peste uit met Swartland Spuitpompe se RS 3000

john deere

John Deere se Onderdelekompetisie: Motivering vir nog beter diens aan die boer