in , ,

CLAAS-groen vir plaas-groei

This post is also available in: English

deur Annemarie Bremner

Die CLAAS-uitstalling by vanjaar se NAMPO Oesdag was ’n treffende uitbeelding van hulle tema, Duitse tegnologie en doeltreffendheid. Netjies in gelid het die stropers, waaronder die nuwe TUCANO 580, die trekkers, met die kragtige XERION as voorloper, en die hooimaaktoerusting aangetree in die CLAAS-groen linie. Sedert Kempston Agri ’n paar jaar gelede gekies is as invoerder van CLAAS se produkreeks in Suidelike Afrika, het die span, met sy hoofkantoor in Oos-Londen, hard daaraan gewerk om ’n stewige, betroubare handelaarsnetwerk op te bou en om boere te laat besef dat die unieke CLAAS-groen gelyk is aan plaas-groei!

Die CLAAS-handelsmerk word al hoe bekender, wat duidelik blyk uit die gewildheid van die CLAAS-winkel by NAMPO. Daar was ’n geweldige toename in die verkope van CLAAS-gemerkte produkte soos pette, gordels en gespes, kleredrag, trapfietsies vir kinders en natuurlik die masjien-modelle.

Jessica Minnie, van CLAAS-bemarking, sê: “Dit is opwindend vir my, want ek kan sien ons begin onsself opbou as handelsmerk en die boere herken ons. Die CLAAS-span moet beslis iets reg doen!”

Wat CLAAS reg doen

Stopers: TUCANO 580

CLAAS is bekend in Suid-Afrika vir sy uitstekende stropers, maar dit beteken nie dat hy terugsit op sy louere nie. Daar is voortdurend nuwe ontwikkelings en verbeterings. Die TUCANO 580 is by NAMPO bekend gestel. Die 570 en 580 vervang die vorige 470- en 480-modelle in die reeks.

Die TUCANO gaan van strooptyd een groot plesier maak. Hier is so paar van die eienskappe wat die 580 in ’n ander klas plaas:

Die sigbaarste verskil is dat die oorlaai-awegaar nie meer onder langs die kant is nie, maar bo vir groter beweeglikheid, sigbaarheid en beheer vanuit die kajuit. Enige bielie van ’n tapkar kan nou langs die stroper intrek en met gemak gevul word. Die tapkar sal ’n bielie moet wees, want die TUCANO 580 het ’n graantenk van 9 000 liter! Die aflaaispoed is tot 105 liter/sekonde.

CLAAS wil beslis geen boer se tyd mors nie. As alle omstandighede guns-tig is en die opbrengs is goed, kan die reus 60 tot 70 ton mielies per uur stroop. Nagwerk word ook maklik gemaak deur ’n stel ligte wat die hele werksomgewing ophelder.

Die TUCANO se enjin van 260 kW lewer oorgenoeg krag om stroopwerk teen skuinstes glad en glipvry te laat vlot. Die brandstofverbruik is ekonomies as gevolg van CLAAS se krag-oordragtegnologie en oneindige ratwisseling, en dit word nog meer ekonomies met al die presisiestroop-eienskappe soos outomatiese stuur en -draai en laserbeheer vir kleingraanstroop. Die laserbeheer maak seker dat die stropertafel reg langs die vorige gestroopte baan beweeg en enige onnodige rywerk word dus uitgeskakel.

Trekkers: XERION 5000

Die XERION 5000/4500/4000 met hulle Perkins-enjins, is die vlagskip van CLAAS se trekkerreeks en lewer met sy 4×4-vermoë tot 385 kW, wat omtrent enige werktuig met gemak kan sleep. Die trekker kan teen 50 km/u ry om blitsvinnig van die een land na die ander te beweeg.

Die trekker het vier ewe groot wiele vir uitstekende vastrap en balans en die 1 000-liter brandstoftenk bespaar jou die tyd en moeite van elke nou en dan vol te maak.

Die trekker word as standaard met die deurlopend wisselbare ratkas, CMATIC, toegerus, wat verseker dat presies die benodigde krag deurlopend die wiele bereik. Die ISOBUS-stelsel word as standaard ingebou.

Vir meer operateursgerief sal jy ver moet gaan soek. Die kajuit is in die middel van die lang vasteraam-onderstel geplaas. Al die kontroles is in die armleuning ingebou en die operateur kan alles met vingerpuntbeheer laat gebeur met die hulp van CLAAS se unieke CMOTION multifunksionele beheerstok. Al die inligting wat hy nodig het word deur die CEBIS-inligtingstelsel voorsien.

Boere wat nie heeltemal so baie trekkerkrag nodig het nie, kan natuur-lik ook kyk na die AXION-reeks van 236 kW tot 306 kW. Op verlede jaar se AgriTechnica-skou in Duitsland is die AXION 850 as die Trekker van die Jaar vir 2014, asook as Masjien van die Jaar vir 2014, aangewys.

Vir ligter werk op die plaas is daar natuurlik ook die kleiner manne soos die ARION,  TALOS en NEXOS, wat in verskeie opsies beskikbaar is vir enigiets van boord- tot beesplaaswerk.

Voermaak: JAGUAR met Shredlage®-tegnologie

Beeste en skape het rede om breed te glimlag vandat die wêreld se voorste selfloopkuilvoerkerwer, JAGUAR, en die Amerikaanse maatskappy, Shredlage, by mekaar uitgekom het. Roger Olsen en Ross Dale het ses jaar gelede die Shredlage®-tegnologie in Amerika uitgedink.

Die tegnologie behels dat die mie-liestamme in langer stukkies gekerf word (26 tot 30 mm) met die stamwand wat in die lengte oopgeskeur word.

Hierdie bewerking verbeter die verteerbaarheid en benutting van die plante se vesel, wat beteken dat min-der hooi in voerrantsoene nodig is.

Shredlage® skakel die tipiese sponsagtigheid van gewoon gekerfde mielies uit, wat help dat die kuilvoer makliker en beter vastrap sodat die inkuilingsproses doeltreffender plaasvind om ’n beter gehalte kuilvoer te lewer. Die lengtesnit stel die plant se binneste selle deegliker bloot aan die goeie mikrobes wat inkuiling bewerk, wat ook meehelp om kuilvoer van ’n beter gehalte te produseer.

Nuwe JAGUAR-kuilvoerkerwers kan nou met Shredlage®-verwerkers gekoop word, maar die tegnologie kan ook in bestaande kerwers aangebring word, sodat ’n JAGUAR-eienaar darem nie ’n hele nuwe kerwer hoef aan te koop om die voordele van die nuwe tegnologie te geniet nie.

Die kuilvoertegnologie sluit aan by CLAAS se ander voermaakoplossings, soos die staatmaker QUADRANT- en ROLLANT-balerreekse, die DISCO-snyers en LINER-harke.

Vir meer inligting oor Kempston Agri se produkte en diens, skakel 043-703-3100 of stuur ’n e-pos aan Michael Howell by michael.howell@kagri.co.za of Etienne van Wyk by etienne.vanwyk@kagri.co.za. Die handelaarslys is op www.claas.co.za

Die nuwe TUCANO 580 se oorlaai-awegaar is nie meer onder langs die kant soos met die vorige modelle nie, maar bo vir beter beweeglikheid, sigbaarheid en beheer vanuit die kajuit.
Die nuwe TUCANO 580 se oorlaai-awegaar is nie meer onder langs die kant soos met die vorige modelle nie, maar bo vir beter beweeglikheid, sigbaarheid en beheer vanuit die kajuit.

 

Die JAGUAR-selfl oopkuilvoerkerwers met Shredlage®-tegnologie span nou die kroon op CLAAS se reeks voermaakprodukte.
Die JAGUAR-selfl oopkuilvoerkerwers met Shredlage®-tegnologie span nou die kroon op CLAAS se reeks voermaakprodukte.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Rotrix maak boer se droom waar

Hoe rooier hoe beter