in ,

Bridgestone se nuwe landboubande is slaggereed

Niks is so lekker as om om ՚n tafel te sit en van aangesig tot aangesig te gesels nie. Dit is presies hoe die manne van Bridgestone gevoel het oor die geleentheid om NAMPO weer by te woon.

“Dit is vir ons baie lekker om weer te kan skouerskuur met ons boere by NAMPO. Dit was hoog tyd. Ons het in ՚n siklus gekom waar alles virtueel is en ons het net weer eens besef niks oortref dit om regstreeks met mekaar te gesels nie,” sê Willie Stander, bestuurder van Bridgestone se landbou-afdeling.

“NAMPO beteken regtig iets vir ons sakegroei; die gesprekke wat ons om hierdie tafel met ons boere gehad het was van onskatbare waarde,” voeg hy by.

Vir die manne van Bridgestone was die hoogtepunt van NAMPO beslis om weer ՚n beker koffie saam met boere te drink en oor boereplanne te gesels. Onderwerpe soos verbeterde brandstofverbruik of ՚n oplossing vir ՚n ongewone nat lande wat gestroop moet word was op die tafel, maar ook die spoggerige nuwe bande wat hulle aan die mense kom wys het.

Willouw Goosen en Willie Stander het besoekers aan NAMPO voorgestel aan die nuwe Bridgestone agri-bande.

“Ons doel vir hierdie jaar was om eerstens te verseker dat ons ou handelsnaam, die staatmaker Firestone, so sterk soos altyd is en ons het ՚n paar toevoegings daar. Tweedens stel ons vir die eerste keer in Suid-Afrika ons Bridgestone-handelsnaam aan die landboubedryf bekend,” sê Willie.

Maar as Firestone nog al die jare so sterk was, hoekom betree hulle nou die landboumark met Bridgestone-produkte?

“Ons Suid-Afrikaanse boere is die beste in die wêreld en dit gaan oor uithouvermoë en hulle vermoë om tegnologie te gebruik. Suid-Afrika se mense vat die tegnologie waarvan almal praat en sit dit op die grond neer. Ons is in die era van gevorderde presisieboerdery en die tyd het ryp geword dat ons Bridgestone se tegnologie kan inbring,” brei Willie uit.

Die nuwe tegnologie wat Bridgestone in die bande geplaas het maak dit moontlik vir almal om hulle winsgewendheid en produksie te verbeter — vir alle landbouprodusente wat presisieboerdery toepas.

Firestone se nuwe Performer Extra

Die oorvleuelende kappe is ՚n standaard eienskap van al die Bridgestone-bande. Die dubbelhoeke is ook meer prominent op hierdie bande

Om meer te verduidelik oor presies wat hierdie tegnologie behels, het Willouw Goosen, Bridgestone se produkspesialis by die Landbou-afdeling die nuwe toevoegings deeglik uiteengesit.

“Ons Firestone-produkte hou aan ontwikkel en groei; ons probeer altyd vooruit gaan soos die gewone Performer-reeks wat ons opdateer met weerbestande rubber en ekstra dravermoë,” sê Willouw. “Elke keer as ons weer na ՚n produk kyk probeer ons dit verbeter.”

Firestone Maxi Traction

“Vir die stroperreeks het ons nou ՚n nuwe produk met die naam MT-Harvester. Dit is ՚n meer tegnologieryke produk. Ons het ՚n ekstra kap bygesit sodat dit nou dieselfde vrag teen ‘n laer banddruk kan hanteer. Dit maak die middelpunt van die bande meer stabiel en gee jou meer traksie,” verduidelik Willouw.

Bridgestone se spesiale VT agri-bande

“Al hierdie bogenoemde eienskappe is as standaard gebruik in die Bridgestone-bande, maar daar is twee verskille. Eerstens, op die Firestones is daar ՚n dubbelhoek op die vorm van die kap wat verseker dat wringkrag nie in die grond ingedruk word nie, maar na agter druk om die werktuig momentum te gee,” vertel hy. “Op die Bridgestone is die kap meer rond. Die evolente se ontwerp doen presies dieselfde werk, maar dit verseker minder grondverdigting.”

“Tweedens, in twee van die drie Bridgestone-reekse is daar buigopsies, naamlik hoog en baie hoog (high-flex en very high-flex). Hierdie verskillende keuses is belangrik omdat die bande in verskillende omstandighede meer of minder sal buig.

Die VT-reeks vir stropers en trekkers het ՚n hoë-buigsaamheidsopsie en ՚n baie hoë-buigsaamheidsopsie (VF/IF).

“Die Bridgestone-bande het ՚n s-voering, ‘n verbeterde sywand wat ontwerp is om dieselfde vrag teen ‘n laer banddruk te hanteer. Die rede hiervoor is dat ՚n band wat buig meer wrywing genereer en vinniger warm word. Die nuwe ontwerp spreek hierdie temperatuuruitdaging aan.”

Om met ՚n laer banddruk te werk, help jou om verskillende toestande in die veld of landerye te trotseer.

In ՚n tyd waar waar landboumasjienerie groter en groter word, is ՚n groter band nie altyd die beste oplossing nie. Veral nie as dit ՚n trekker stadiger maak en beteken dat jy meer ure in die land deurbring nie. Omdat hierdie bande se wringkrag, momentum en traksie goed is, beteken dit bande hoef nie groter te wees nie. Die Bridgestone reeks verbeter jou werksverrigting.

Daar is ook ՚n VX-Tractor

Hierdie bande is gemaak om te buig en ՚n groter voetspoor te hê vir meer vastrap en minder grondverdigting.

“Ons het ook uit die boks gedink met die ander Bridgestone-reeks. Ons noem hom die VX Tractor — ek noem hom die monster,” glimlag Willouw. “Waar ՚n gewone trekkerband gevorm word teen druk van 1,6 bar wanneer dit vervaardig word, word hierdie meneer se druk byna verdubbel met 2,4 bar wat toegedien word.”

“Dit het ook twee ekstra beskermingsbelde onder die loopvlak om sy spoor meer stabiel te hou, maak nie saak hoe styf dit gepomp word nie. Die struktuur het ook nou ՚n dukker laag so die rubber is meer en die band se kontakoppervlak met die grond is groter.

Hierdie reeks se kappe is ook 20% groter gemaak. Hierdie produk is is besig om wêreld wyd opslae te maak en dit is ideaal vir Suid-Afrika. Daar is twee eienskappe wat belangrik is in hierdie soort bande: die vermoë om baie padwerk te kan doen, asook goed te presteer in landerye waar bande se struktuur moet behoue bly wanneer swaar sleep- en drie-punt implemente gebruik word. In kort, dit het goeie gemengde pad- en veldgebruik.

Met hierdie jaar se NAMPO was Bridgestone se hooffokus op die stropers en die hoë-perdekragwerktuie se bande. Daar is reeds trekkers wat Suid-Afrika binnekom met Bridgestone bande.

“Terugvoering oor hierdie bande is baie goed. Ons is baie opgewonde oor ons nuwe reeks bande en die verskil wat dit gaan maak vir landbouprodusente.” sluit Willie af.

Om uit te vind hoe jy ook vir jou werktuie die beste bande kan bekom, stuur ՚n e-pos aan willie.stander@bridgestone.co.za of willouw.goosen@bridgestone.co.za. Besoek ook gerus hulle webtuiste by www.firestone.co.za/products/agricultural-tyres.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Leave a Reply

Your email address will not be published.

Goeie nuus vir boere: ETG vergroot hulle voetspoor in Oos-, Wes- en Suid-Afrika

Scania SA: Voluit na volhoubaarheid