This post is also available in: English
Die sybokhaarmark het op die tweede veiling van die 2019 somer verkoopseisoen met 1,8% gestyg tot R283,90/kg, grotendeels as gevolg van die swakker Rand.
Kopers het aktief meegeding vir die kleiner as normaal aanbieding waarvan ‘n verkoopspersentasie van 92,1% bereik is. Slegs die sterk grootbokhaar kategorie het goedkoper verhandel, hoofsaaklik as gevolg van ‘n stil mark in die Ooste.
Die gemiddelde markaanwyser van kleinbokkiehaar het met 7,5% gestyg tot R494,53/kg en die gemiddelde markaanwyser van jongbokhaar het 3,2% duurder gesluit op R364,56/kg. Gemiddelde pryse van fyn grootbokhaar het met 3,7% gestyg om op R288,86/kg te sluit terwyl die gemiddelde markaanwyser van sterk grootbokhaar 1,6% goedkoper gesluit het op R263,15/kg.
Die volgende veiling van die 2019 somer verkoopseisoen sal op 19 Maart 2019 plaasvind.
Bron: BKB