in ,

Boere dankbaar oor vol damme in Sentraal- en Klein Karoo

This post is also available in: English

Deur Tisha Steyn

Goeie reën wat gedurende Desember in die Sentraal- en Klein Karoo uitgesak het, het talle riviere laat loop en talle damme het vir die eerste keer in jare water.

“Ons het baie lekker reën gehad en oral kan ‘n mens sien die veld reageer goed,” sê Déan Gouws, voorsitter van Agri Sentraal-Karoo. “As mens kyk na die stand van die groter damme in die gebied kan ‘n mens sekerlik sê dat hierdie reënseisoen goed afgeskop het – ons damme is vol!”

Die huidige damvlakke in die Sentraal Karoo is soos volg:

  • Gamkadam by Beaufort-Wes: 100%;
  • Gamkapoortdam naby Prins Albert: 96%;
  • Leeu-Gamkadam: 54%;
  • Floriskraaldam naby Laingsburg, wat in die winterreëngebied val:  29%.

Volgens Déan het was die meeste van die reën “vinnige, stormagtige, weghardloop water” wat heelwat skade aan paaie en heinings aangerig het. Op sommige plekke is oesskade weens haelbuie ook aangemeld.

“Maar, ons moet seker nie nou kla nie, ons het mos gesê ons sal regmaak as dit tog net wil reën! Ons is ongelooflik dankbaar.”

Hy wil nie ‘n voorspelling waag dat nog reën op pad is nie, “maar dit wil tog voorkom of die reënpatroon verander het, of aan die verander is met dié reënseisoen. Goeie, gereelde opvolg reën kan nou wonders verrig.”

‘Nie geld gereën nie’

In die Klein Karoo hoop boere ook op opvolgreën.

Die Stompdrift- en Kammanassiedamme, wat besproeiingswater vir boere in die Olifantsriviervallei verskaf, het na die jongste reënval onderskeidelik 31,14% en 10,4% water. Volgens Willem Fourie  van die Stompdrift-Kammanassie Watergebruikersvereniging (SKWGV) het die damme in Oktober 2021  onderskeidelik slegs 5,8% en 0,5% water gehad.

Die Stompdrifdam toe dit 26,6% water gehad het in 2018. 

“Dit het nog nie geld gereën nie, maar dit het darem hoop gereën,” sê Joey Potgieter, gewese voorsitter van Agri Klein Karoo.

Volgens hom het voergewasse hawer en korog wat boere na  reëns in April 2021 gesaai het, redelik opgekom. “Die boere kon darem hul eie hooi sny wat nie van ‘n vreemde plek moes kom om hier afgelaai te word nie.”

Na die goeie reën wat van Oktober tot Desember geval het, het talle boere ook mielies aangeplant wat jong lusern kan beskerm. “As ons goeie opvolgreën kry, kan lusernlande gevestig word. Die lande het tydens die droogte wat bykans sewe jaar geduur het, heeltemal tot niet gegaan.

Joey sê die Olifantsrivier het tot by die Calitzdorp Spa geloop en die kuile bokant die twee besproeiingsdamme is vol. Boere in die gebied se gronddamme is ook vol. “As dit nou lekker reën, loop die rivier dadelik.”

Die reën sal boere help om hul eie voer te verbou, wat hulle in staat sal stel om finansiële agterstande “bietjie op te vang. Baie boere moes redelik skuld aangaan om te kan voortgaan, maar dit sal lank vat voor die agterstande uitgewis is.”

Joey glo dit is nodig om waarde tot volstruisprodukte toe te voeg omdat slagpryse slegs ‘n marginale of selfs geen wins oplewer nie.

Laubscher Coetzee, voorsitter van Agri Klein Karoo en ondervoorsitter van Agri Wes-Kaap se Algemene Sakekamer, sê ten spyte van die baie goeie reëns, is dit voortydig om te se dat die droogte verby is.

“Die besproeiingsdamme moet ten minste 60% vol wees sodat ons twee of drie leibeurte kan hê  voor ons kan sê die droogte is gebreek.” Hy sê boere kon uit die Olifantsrivier water lei, maar besproeiingslote is reeds weer droog.

Volgens hom is die markte, veral vir volstruisleer, weer oop en pryse is byna weer op die vlak voor Covid-19. “Maar die pryse moet opgaan, ons kan nie teen die huidige prysvlakke produseer nie.”

Francois de Wet, besturende direkteur van CapeKaroo International, sê die reën kan die volstruisbedryf meer bestendig maak.

“Die reën is wonderlik, want voer is die grootste koste  van die bedryf. Die afgelope klompie jare was daar geen leiwater uit die besproeiingsdamme nie en boere kon nie hul eie lusern verbou nie. Voerkoste het die hoogte ingeskiet. Dit reën nie geld of lusern nie, maar as die reën met nog buie opgevolg word, sal dit vir seker bydra tot ‘n meer voorspoedige tyd vir produsente,” sê hy.

Volgens hom is marktoestande vir volstruisleer in die buiteland is besig om te herstel, maar die veremark steeds traag weens die pandemie wat groot feeste, soos die Rio Karnaval aan bande gelê het.

Calitzdorp

Die Calitzdorpdam en die Gamkapoortdam, wat albei 100% vol is, verskaf onderskeidelik water aan boere in die Calitzdorpvallei en die Gamkavallei.

 Die Calitzdorpdam sowat 5 km noord van Calitzdorp is die oudste werkende beton-swaartekrag-damwal in die land. Die besproeiingsdam, wat in 1918 voltooi is, behoort aan die boere en word deur die Calitzdorp Besproeiingsraad bestuur.

Die dam met ‘n opvangsgebied van 170 km² en ‘n oppervlak van 58 ha, het in 2018 toe die dam se 100ste bestaansjaar gevier is, slegs 13% water gehad.

Volgens Willie Barry, ‘n boer in die Gamkavallei, was daar die afgelope jaar of wat tussen 40 en 50% water in die Calitzdorpdam, maar omdat die dam sowat 70 boere én die dorp van water voorsien, was daar te min om werklik ‘n verskil te maak.

Die Gamkapoortdam het in 2014 laas oorgeloop, maar boere kon darem in 2021 ‘n leibeurt of wat kry. Na die onlangse goeie reëns in Desember loop die dam ook oor.

Die Calitzdorpdam in 2018, toe daar slegs 13% water in was. 

In die Calitzdorp- en die Gamkavallei probeer boere kop bo water hou met ‘n gemengde boerdery. Al die jare was dit uitstekende grond vir sagtevrugte en wingerd, maar die droogte van die afgelope ses, sewe jaar het die vrugtebedryf geknou.

“Veral appelkoos- en perskeboorde het gevrek en is uitgetrek. Dis hartseer, want vrugteboorde is ‘n langtermyn-belegging. Van die boere het net hul beste blokke aan die lewe probeer hou.”

Die boere het ook glad nie lusern vir hul vee gehad nie. Vir hulle was die droogte ‘n dubbele slag, want hulle kon nie lusern plant nie en moes voer ten duurste aankoop en uit die Noord-Kaap en Vrystaat laat aanry. Hulle kon ook nie ‘n inkomste uit veeverkope nie, want slegs kernkuddes het oorgebly.

Boere wat nie genoeg water vir vrugteboorde of wingerd gehad het nie, het hulle na die kweek van groentesaad gewend. “Hulle het die bietjie grondwater wat hulle het eerder gebruik om groentesaad te besproei, want dis ‘n kontantgewas – jy kry ‘n inkomste na ‘n jaar. Maar die swak gehalte van grondwater het tot laer opbrengste per hektaar gelei.

“Ons is dankbaar dat die jaar so goed begin,” sê hy. “Nou kan ons weer begin planne maak, en baie het begin om lusern te hervestig.”

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Weervooruitsigte vir 2022

Opleiding verseker doeltreffende gewasbeskerming