in , ,

Boerdery en COVID-19: ‘n Vergelyking van beheermaatreëls

Foto:Pixabay

This post is also available in: English

Die huidige COVID-19 pandemie bied dalk ‘n geleentheid om ‘n vergelyking te tref met dieresiektes.

Hierdie artikel wil geensins die verlies en swaarkry wat mense weens die pandemie ervaar, onderskat nie. Die episentrum van die epidemie was in Wuhan, China en het deur die beweging van mense vinnig versprei na ander dele van China en ander lande.

COVID-19 is ‘n hoogsaansteeklike siekte net soos baie dieresiektes  – dink maar aan die onlangse uitbreek van  bek-en klouseer in die noordooste van ons land. Handelsvennote in ons buurlande het onmiddellik ‘n verbod op die uitvoer van diere, dierprodukte en voer geplaas om te verhoed dat die siekte na hul lande versprei.  Op soortgelyke wyse het sommige owerhede regoor die wêreld aanvanklik ‘n verbod op die beweging van mense vanaf hoogs geïnfekteerde COVID-19 lande geplaas omdat hulle die verspreiding van die virus na hulle lande gevrees het.

Ongelukkig was dit nie doeltreffend nie aangesien mense by wie die siekte nog in die inkubasieperiode was, as “gesonde” mense in die lande toegelaat is. Soos ook met die verspreiding van bek-en- klouseer (B en K) is beeste in hul inkubasieperiode vervoer as “gesond” net om ‘n week of twee later siektetekens te wys. Dieregesondheidsamptenare  het begin om hierdie diere op te spoor om die verdere verspreiding van die siekte hok te slaan. Die plase en vendusies waar die diere aanvanklik gehou is (“trace back”), waarheen die diere geneem is en waar daar moontlike kontakte was, wat van hieraf  êrens heen geneem is (“trace forward”), is gevind.  Elk van hierdie plekke is onder kwarantyn geplaas totdat toetsing gewys het dat daar geen bek-en-klouseer meer teenwoordig is nie en alle moontlike kontakte opgespoor is. Dan is die kwarantyn van hierdie plase opgehef.

Presies dieselfde gebeur tans met die COVID-19 gevalle. Opsporing is so belangrik om die siekte te volg en is baie makliker aan die begin van die uitbreek as later wanneer die getalle die sisteem oorweldig en kontakte verlore raak. Tydens die navolg van dieresiektes word individuele identifikasie en verslag van beweging benodig en daarom is die Lewende Hawe Inligting en Opsporingsisteem (LITS- Livestock Identification and Traceabilty System) so belangrik vir siektebeheer. Mense het identifikasiedokumente waardeur hulle individueel geïdentifiseer kan word, maar dit word nie vir opsporing gebruik  nie. Selfone blyk die beter metode te wees om mense op te spoor, maar dit geskied ten koste van hulle privaatheid.

Met COVID-19 is dit ook belangrik om toetsing van mense in die algemeen uit te brei sodat moontlike brandpunte in die land vasgestel kan word en seker gemaak kan word dat die nodige behandeling en ondersteuning betyds, waar dit nodig is, verskaf word. Dieselfde geld ook vir dieresiektes. Daar word voortdurend opnames gemaak om probleemareas te identifiseer en om behulpsaam te wees met beter siektebestuur en toekomsbeplanning. Die Departement Dieregesondheid is gewoond aan die praktyk van siektebeheer wat ons President ingestel het om COVID-19 te beheer.

President Ramaphosa praat dikwels van die afplat van die kurwe.  Dit is wat ons ook by dieresiektes probeer doen. Ons voorkom die verspreiding van siektes tussen diere in een kudde en ook die getal kuddes wat besmet raak met ‘n spesifieke siekte op nasionale vlak.  President Ramaphosa verwys ook na sosiale afstand tussen mense – dit is die rede waarom siektes soveel vinniger versprei waar daar ‘n hoë digtheid diere bymekaar is (bv. melkerye, voerkrale, ens.) teenoor vrylopende veldbeeste. Tydens die onlangse bek-en klouseer uitbreek is daar waar diere wat van meer as een bron afkomstig,  gemeng is, om daarna weer na meer as een bestemming geskuif te word, as ‘n beheermaatreël,  nie toegelaat nie, om sodoende verspreiding van die virus te verhoed. Deur jou sosiale afstand te hou, verminder jy die moontlikheid van infeksie. Hy het ook versoek dat mense in hul gebuigde elmboog moet hoes en nies om die verspreiding van aërosolsprei van COVID-19 te verhoed. Diere kan nie versoek word om dit te doen nie, maar ons kan wel die biosekuriteit van ons plase opskerp om die verspreiding van siektes deur instrumente, emmers, rubberskoene, voertuie, ens. te beperk.

Om COVID-19 te beheer, word ons ook aangeraai om ons hande deeglik te was of elke 20 minute te ontsmet. Ons pasiënte kan dit nie doen nie, maar weereens kan ons met biosekuriteit sorg dat die was en ontsmetting van instrumente, toerusting, ens. kan help om die verpreiding van die siekte te voorkom.

Gedurende grendeltyd bly ons tuis aangesien ‘n aansteeklike siekte nie kan versprei as daar geen beweging is nie. Inperking kan vergelyk word met ‘n plaas of diere wat onder kwarantyn geplaas word. Beweging van diere en mense wat asimptomaties is, maar steeds die virus onder lede het, word erken as een van die belangrikste maniere waarop die virus versprei.  Taxis word bespuit en ontsmet om die verspreiding van die Coronavirus te voorkom.  Dit is ook van toepassing op voertuie wat diere vervoer – hulle behoort gewas en ontsmet te word tussen vragte- of tussen plase, of na vendusies of abattoirs.

Mense se temperatuur word gemeet en indien die temperatuur verhoog is, word hulle nie toegelaat op ‘n vlug of om ‘n winkel binne te gaan nie en word daarna getoets vir ‘n siekte. Netso word diere ook vir bek-en-klouseer getoets voordat hulle gelaai word om geneem te word na ander plase, vendusies of abattoirs. Indien van die diere verdag voorkom, word verdere toetse gedoen. Wanneer enige diere by aankoms by die nuwe bestemming positief is (of verdag voorkom), word alle kontakdiere beskou as hoë risiko en onder kwarantyn geplaas tot daar bewys is dat hulle negatief is. Hierdie optrede word gevolg in ‘n poging om die verspreiding van die siekte te bekamp.

Een voordeel wat diere-eienaars tans het bo mense en die COVID-19, is dat baie van die dieresiektes deur inenting voorkom kan word. Die slagspreuk ”why wait, vaccinate” is van toepassing op baie dieresiektes  en sal hopelik ook ‘n werklikheid word wanneer navorsres ‘n toepaslike entstof teen COVID -19 ontwikkel. Of dit nou ‘n menslike siekte soos COVID-19 of ‘n dieresiekte soos bek-en klouseer is, bly so ‘n uitbreek vernietigend vir die mense wat geraak word en veroorsaak dit hartseer en ernstige ekonomiese verliese vir almal.

Ons kan ‘n siekte slegs beheer deur saam te werk om die verspreiding te verhoed.

Medewerkers:

Dr. Sewellyn Davey, Veeartsenydienste, Wes-Kaap

Dr. Grietjie De Klerk, Dieregesondheid, Department van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling

Dr. Pieter Vervoort, Nasionale Dieregesondheidsforum

Dr. Faffa Malan, Herkouer Veterinêre Vereniging van Suid-Afrika (RuVASA)

Bron: RuVASA siekteverslag

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Wolmark daal

TLU SA bekommerd oor uitdagings as gevolg van volgehoue inperking