in

Boer van die jaar aangeval

This post is also available in: English

Die wreedaardige aanval op Charles Back, bekende wyn- en kaasmaker, van die Fairview-landgoed in die Paarl Dinsdag in die vroeë oggendure terwyl hy geslaap het, het weer die lig op plaasaanvalle en ‘n gebrek aan landelike veiligheid in Suid-Afrika gewerp.

Na verneem word, is Charles in die vroeë oggendure deur drie mans aangeval nadat hulle die veiligheidsdeure oopgebreek het. Hulle het op die vlug geslaan met elektroniese items en is tans nog op vrye voet.

Charles is in 2017 as die Landbouskrywers SA se 2017 Nasionale Boer van die Jaar aangewys.  Charles is by uitstek ‘n leier en voorbeeld vir baie en is lank reeds betrokke by die skep van bemagtigingsgeleenthede, nie net vir sy eie werknemers nie, maar ook vir mense in die omgewing. Daar is talle voorbeelde van hoe sy besigheidsplanne honderde gesinne bevoordeel.

“Agri SA veroordeel die aanval ten sterkste en beskou dit as nog ‘n aanval wat ‘n negatiewe beeld van SA in die buiteland skep. Ons kan nie die tipe slegte publisiteit bekostig nie. Dit kan die toerismebedryf in die Wes-Kaap nadelig raak en toeriste na die gesogte deel van ons land afskrik”, sê Dan Kriek, president van Agri SA.

“Dit wys weereens dat aanvallers niemand sal ontsien om hulle doel te bereik nie, nie eens iemand wat so baie vir sy werkers en die gemeenskap doen nie.  Nieteenstaande sy traumatiese-ervaring is hy Woensdag nadat hy uit die hospitaal ontslaan is terug plaas toe.  Hy is ‘n voorbeeld vir ons almal, dat ons nie moet toelaat dat sulke gebeure ons onderkry nie,” sê Kriek.

Kriek doen ‘n beroep op die polisie om alles moontlik te doen om die skuldiges aan te keer en voor die hof te daag.

Landbouskrywers SA sê dit is jammer dat ’n nasiebouer en gemeenskapsheld soos Charles en sy gesin geteiken word deur mense uit die einste gemeenskap waar hy voortdurend planne maak om mense ’n beter toekoms en hoop te gee.

“Die aantal aanvalle op plase en ook in dorpe op alle gemeenskappe is kommerwekkend en ’n kwessie wat nie meer onder die mat ingeskop kan word nie. Daadwerklike aandag moet aan veiligheid en sekuriteit gegee word.   Die landbousektor en gemeenskappe is bereid en gereed om te help en mens vra jouself die vraag: hoeveel mense moet nog blootgestel word aan sinnelose geweld ten koste van misdadigers?

“Ons besef misdaad is kompleks en dat die oorsaak daarvan nie in enkele redes vasgevat kan word nie.  Maar des te meer is dit nodig dat gemeenskappe en instansies nou moet hande vat om dit aan te spreek.  Misdaad is ons almal se probleem en dit is nou tyd dat ’n skeidslyn van reg, geregtigheid en wedersydse respek vir lewe getrek word,” se Magda du Toit, Voorsitter Landbouskrywers SA.

Bron: Agri SA en Landbouskrywers SA

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Leer mooi boer op Mooikrans

Dom Boer se lag vir die dag: