in ,

Boer gee mielies ’n beter kans

This post is also available in: English

“As dit goed gaan met die wortels, gaan dit met alles goed,” sê Pieter van de Merwe van Kriel op die oostelike Hoëveld. Om die beste moontlike omstandighede vir sy mielies se wortels te skep is dié beginsel wat hy voor oë hou wanneer hy sy bewerkingspraktyke beplan en toerusting aankoop wat die werk moet doen.

“In die ou tyd het ons gedis, geploeg, gelykgemaak, saadbed voorberei en dan geplant. Later het ons stappe probeer uitskakel deur van beitelploë gebruik te maak en toe kom die no-till-wa, wat nie vir almal werk nie,” vertel hy.

Pieter bedink, bestudeer en probeer alles om van sy saaiboerdery ’n sukses te maak, want soos hy sê, “ek is ’n saaiboer”.

Maak diep los met Great Plains

Die oplossing wat hy gevind het lê in ’n stelsel van strookbewerking met beheerde spoorverkeer en die toerusting wat hom help om die regte resultate te bereik, kom al die pad van Amerika af, naamlik Great Plains, wat deur AgriAfrika ingevoer en versprei word.

Pieter was saam met sy plaaslike handelaar, Winston Ritchie van Standerton, by die fabriek en het vol planne teruggekom. Die masjien wat hy daar gesien het om sy hele bewerkingstelsel netjies bymekaar te bring, was die Great Pains Sub-Soiler (8-ry), wat die grond tot 400 mm diep in stroke, 91 cm uitmekaar, behoorlik kan losmaak.

Oor die afgelope twee seisoene het Pieter die Sub-Soiler deeglik op sy plaas getoets en almal het saamgewerk om seker te maak dat die masjien Afrika-gereed is. Pieter sê hulle het gevind dat die skare ’n bietjie vinnig afslyt in sy kombinasiegronde, wat wissel van Hutton tot sand. Die skare word nou bykomend verhard deur ’n vernuftige proses wat bekend staan as hardbekleding (hardfacing). Op die werkskant van die skaar word ’n growwe sweislaag gemaak waarop ’n lagie sand vaspak wanneer daar gewerk word. Dit beteken dat sand teen sand skuur en nie sand teen staal nie.

Die arm wat die skaar aan die balk heg, is ook verstewig om seker te maak geen verdigtingslaag kan die Sub-Soiler stuit nie. Pieter sê met opeenvolgende bewerkings in dieselfde strook word dit natuurlik al hoe makliker, maar ’n boer moenie nodig hê om te wonder of hy nuwe grond kan breek nie.

Die Sub-Soiler verwyder verdigtingslae onder die grond sonder om die oppervlakreste te versteur. Daar is ’n snykouter voor elke skaar wat plantreste sny en nog ’n voordeel is dat die materiaal gemaklik tussen die arms kan deurvloei omdat daar net in die rye gewerk word. Die masjien loop dus glad, sonder verstoppings, en die roller agter elke skaar kan die materiaal ferm vasrol. Die saadbed in die strook bly heerlik sag vir die wortels om hulleself gerieflik uit te strek.

Sny fyn en maak gelyk met Great Plains

Nadat die Sub-Soiler die plantstroke voorberei het, gebruik Pieter nog ’n Great Plains-produk, naamlik die TurboTill met sy twee stelle snykouters, vir ’n vlak vertikale bewerking om die reste oor die hele land in klein stukkies te sny en en met die bogrond te vermeng sodat dit vinniger tot kompos kan afbreek. Die Turbo-Till maak ook die hele land lekker gelyk vir die planter wat moet volg.

Met ProAgri se besoek aan die plaas het die Augustuswinde wild gewaai, maar die enigste stoffie in die lug was waar die masjiene besig was om te werk. Pieter wys daarop dat die stropertafel wat hy gebruik, horisontale swaailemme onderaan het, wat reeds met strooptyd die materiaal ’n eerste keer sny.

Geen stoppelbeweiding word op die plaas toegelaat nie, want saam met die strookbewerking is die behoud van biologiese materiaal die groot geheim vir vogbewaring in die grond.

Dit werk, want selfs nou na die vorige twee droë seisoene wys die skare dat die grond daar diep onder nog vogtig is, daar waar die wortels dit nodig het. Pieter sê hy was eintlik verstom om te ervaar dat hy vanjaar, ondanks die droogte, steeds op droëland ’n oesgemiddeld van 7 ton per hektaar kon behaal met sy konvensionele mielies.

Plant presies met Great Plains  

Na die weldeurdagte grondvoorbereiding moet die plantwerk ook presies en perfek verloop en daarvoor word nog ’n masjien uit die Great Plains-fabriek ingespan, naamlik die 8-ry Yield Pro-planter. Met die hulp van ’n Trimble-presisiestelsel plaas die planter die saad presies in die ontvanklike vrugbare stroke grond.

“Ek het nog nooit so ’n plantestand gesien soos met hierdie planters nie,” sê Pieter. Hy skryf die presiese saadplasing toe aan die positiewe lugdruk waarmee die Air-Pro®-uitmeetselsel werk en nuwe-tegnologie saadbuise waardeur elke pit gladweg kan glip. ’n Blaser in plaas van ’n vakuumstelsel vereis baie minder krag en minder dinge kan verkeerd gaan, sê Pieter.

Nog ’n eienskap van die planter waarvan Pieter baie hou, is die veerbelaaide staalaandrywingswiel wat op die grond loop vir kunsmisuitmeting. Hy sê die regstreekse kontak met die grond beteken dat die kunsmis vanuit die vier bakke op die planter die hele tyd presies afgemeet kan word om in die plantvoor geplaas te word, waar die groeiende wortels dit die nodigste het.

Pieter se vrou, Anchen, is nou betrokke by die boerdery en help ook met die dataverwerking op die rekenaar. Sy sê noudat hulle deur die jaar presisiebeginsels toepas met grondbewerking, in planttyd en in strooptyd, is dit soveel makliker om alles te bestuur. Sy kan ook sien hoeveel hulle bespaar aan brandstof, arbeid en kunsmis. Nie ’n pit of ’n stukkie grond word op die 1 100 hektaar saaigrond vermors nie, want met die presisiestelsel kan elke land netjies omsoom word vir nog agt rye, waar daar vroeër net wenakker was.

Oor dienslewering kan die Van de Merwes glad nie kla nie. Pieter sê die Ritchie-groep op Standerton kan miskien 90 km ver wees, maar hulle diens vat nie 90 km lank nie! Veral met die toetsing van die Sub-Soiler het hulle baie met die mense van Great Plains te doen gehad en Pieter is beïndruk met die moeite wat hulle tot in Amerika doen om voorsiening te maak vir ons boere se sandgronde en drievoetrye.

Hy sê ook noudat die stroke so lekker deurlug en vol organiese materiaal is, oorweeg hy dit om partye seisoene regstreeks te plant, sonder enige bewerking, maar hy sal hom laat voorskryf deur die grondtoestand en klimaat. Vir ’n verdigtingslaag hoef hy net nooit weer te skrik nie.

Vir nog AgriAfrika-oplossings, skakel Marius Tolmay by 083-581-5709, 012-541-1121 of e-pos marius@agriafrika.co.za. Boere op die oostelike Hoëveld kan vir Winston Ritchie skakel by 082-551-9565.

Anchen en Pieter van de Merwe het rede om breed te glimlag, want hulle bespaar tyd, brandstof en behaal gunstige resultate met hulle strookbewerking.
Anchen en Pieter van de Merwe het rede om breed te glimlag, want hulle bespaar tyd, brandstof en behaal gunstige resultate met hulle strookbewerking.
Die Sub-Soiler sny deur die reste, maak die grond baie diep los, tot op 400 mm, en rol dit dan vas vir ’n vrugbare plantstrook.
Die Sub-Soiler sny deur die reste, maak die grond baie diep los, tot op 400 mm, en rol dit dan vas vir ’n vrugbare plantstrook.
Die Sub-Soiler kan ook gebruik word vir die toediening van vloeibare kunsmis of ammoniakgas.
Die Sub-Soiler kan ook gebruik word vir die toediening van vloeibare kunsmis of ammoniakgas.
Die TurboTill met sy twee stelle geriffelde snykouters word gebruik vir ’n vlak vertikale bewerking om die reste te sny en met die bogrond te vermeng, en om die hele land lekker gelyk te maak vir die planter wat moet volg.
Die TurboTill met sy twee stelle geriffelde snykouters word gebruik vir ’n vlak vertikale bewerking om die reste te sny en met die bogrond te vermeng, en om die hele land lekker gelyk te maak vir die planter wat moet volg.
Met planttyd word die 8-ry Yield Pro-presisieplanter gebruik om die saad en kunsmis in die saadbedstroke te plaas wat deur die Sub-Soiler voorberei is.
Met planttyd word die 8-ry Yield Pro-presisieplanter gebruik om die saad en kunsmis in die saadbedstroke te plaas wat deur die Sub-Soiler voorberei is.

Pieter van de Merwe en sy trekkeroperateur, Patrick Qhuto, wys hoe diep werk die Sub-Soiler se skaar.
Pieter van de Merwe en sy trekkeroperateur, Patrick Qhuto, wys hoe diep werk die Sub-Soiler se skaar.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Beesbestuursprogram

Kempston Agri staan nou bankvas agter CLAAS