in

Bielie in die bosveld: Nissan Patrol Y62 – 5.6L V8

Nissan
Foto: Calvin Fisher

This post is also available in: English

Deur  Dirk Gallowitz en Andre de Clerk

Ons het onlangs die geleentheid gehad om die nuwe Nissan Patrol Y62 se vermoë op die pad en in die veld te toets. Die Patrol Y62 is al in 2010 in Dubai bekend gestel, maar het eers redelik onlangs sy debuut op plaaslike bodem gemaak. Met die eerste oogopslag is daar ‘n magdom blink kroom wat op ons blinkswart toetsmodel nogal dadelik die oog gevang het. Terwyl die “bling” dalk op die swart voertuig effe te “Oosters”vir sommiges mag vertoon, is ons seker dit sal gewild wees onder  Afrika-politici  en kopers uit die Ooste en Midde Ooste.  Sedert sy bekendstelling in 1951 het die Nissan Patrol ‘n reputasie gebou van ongekende betroubaarheid met ‘n  veldryvermoë wat selde geklop kan word.

In Suid-Afrika skrum die  Nissan Patrol en die Toyota Land Cruiser 200VX teen mekaar en beide voertuie is massief in grootte en statuur.  Die nuwe Patrol is 2m breed sonder die spieëls (wat nogal verbasend goed platvou vir hulle grootte), 5,1 m lank en net-net kort van 2 m hoog en bied gemaklik sitplek vir 7 insittendes!

Nissan het weggedoen met die soliede agteras en beweeg die nuwe Patrol nou op onafhanklikke vering voor en agter wat tot gevolg het dat die voertuig ongelooflik sag en gerieflik bestuur vir sy fris lyf. Tog moet daar maar versigtig bestuur word op smal enkelbaan paaie, want die Patrol loop die baan kant en wal vol.  Die nuwe model  maak gebruik van ‘n “Hydraulic Body-Motion Control System” wat die voertuig beter hantering deur draaie asook beter artikulasie in die veld gee. Die stelsel sorg dat die nuwe Patrol redelik min bakrol deur draaie het ten spyte van sy swaar en logge lyf van 2,7 ton leë gewig!

Verder bied die stelsel ongelooflikke artikulasie  vir ‘n voertuig met onafhanklikke vering wat bydra tot die Patrol se uitsonderlike veldryvermoёns.

Foto: Calvin Fisher

Op die ooppad  teen togspoed is dit opmerklik dat die stuur van die nuwe Patrol lig bly, selfs teen hoër snelhede. Beide skrywers verkies ‘n stuur wat swaarder gelaai voel soos wat die spoed hoër raak. Ons is deesdae so bederf met die nuwer generasie dieselenjins in hierdie segment dat die V8 petrolenjin nogal iets is om aan gewoond te raak.  Die 5,6 liter normaalge-aspireerde V8 sleep die groot voertuig gemaklik en versnelling  tussen 100 -160 kpu is indrukwekkend om die minste te sê, met die toereteller wat net aanhou klim as die regtervoet geplant word. Die lekkerste deel van die ooppad bestuur was die Patrol se moeitelose versnelling vanaf 120kpu wanneer ‘n ander voertuig verbygegaan moet word.

Binne is die kajuit groot, weelderig en omvattend toegerus soortgelyk aan die top luukse sedanmotors wat tans plaaslik beskikbaar is. Die sagte leerbekleedsel spreek van uitstekende gehalte en vakmanskap.

Daar is ‘n legio elektroniese toerusting beskikbaar in die Patrol, maar ek moet bieg dat party skakelaars en funksies op ‘n paar snaakse plekke sit. Ek is egter oortuig dat eienaars gemaklik met die ergonomie en uitleg  sal raak hoe meer tyd in die kajuit gespandeer word. Wat wel uitstaan is die nuwe Patrol se klasleidende spasie vir die voorste en 2de ry insittendes terwyl  die 3e ry sitplekke steeds meer vir tieners as volwassenes geskik is. Bestuurderhulpstelsels onder die “Nissan Mobility”- vaandel sluit in onder meer, blindekol monitering, noodremming, aanpasbare spoedbeheer asook ‘n stelsel wat die bestuurder waarsku wanneer die voertuig uit die rybaan neig en nog vele meer.

Die voorste sitplekke is elektries verstelbaar en kom met ingeboude verhitting, terwyl die breë voorpaneel ‘n groot kleur raakskerm huisves waarop die 3D Nissan satelietnavigasie, kamerabeelde en ook al die kommunikasiestelsels, rit- en voertuiginligting beskikbaar is. Ook die eksklusiewe  Bose®   AM/FM/MP3/CD  klankstelsel met 13 luidsprekers en ‘n digitale klankversterker word op hierdie skerm beheer. TV skerms met koordlose oorfone is agter in die kopstutte van die voorste sitplekke ingebou om aan die agterste insittendes  vermaak te bied. Daar is ook ondermeer ‘n 12-volt kragkoppel, 9 bekerhouers, vier bottelhouers,’n glas sondak, sleutelose toegang/ aanskakel asook vele meer geriefies wat maar normaalweg by peperduur luukse limousiens te vinde is.

Nissan se 2018 Patrol is egter steeds ‘n hardebaard veldvoertuig en kom met permanente 4-trek wat die opsies bied: 4WD Automaties (die voertuig kies hier waar die kragverdeling die nodigste is), 4WD en 4WD Laestrek. Daar is ook opsies vir Pad, Sand, Sneeu en Klip rywerk.  ‘n Agterste ewenaarslot en heuwel-af beheer is standaardtoerusting. Wisseling tussen die verskillende opsies is maklik en gebruikersvriendelik. Daar is ook ‘n kamera opsie wat baie handig te pas kom in die veld, veral  in aggenome dat die Patrol aansienlik breër is as die deursnee 4×4 wat in die veld gaan ry. Die enigste nadeel is dat hierdie kamera nie bo 15 kpu operasioneel bly nie – die skerm keer dan weer terug na die normale radio of navigasie skerm. Dit sou onses insiens veel meer prakties wees as dit kan aanbly totdat die bestuurder dit self weer afskakel. Die skerm kom self aan sodra jy naby ‘n voorwerp kom , terwyl alarms waarsku wanneer daar te naby  aan ‘n voorwerp  of hindernis gery word. Dit is gerieflik wanneer die kamerabeelde nie operasioneel is nie.

In die spasie tussen die spoedmeter en toerteller op die instrumentasie agter die stuurwiel, word ook aangedui watter rymodus in gebruik is. Op die grondpad ry en hanteer die groot Patrol heerlik, danksy die voordeel van ‘n 2,7 ton gewig, onafhanklikke vering (kronkel vere agter) en groot Bridgestone Dueler bande (265/75/18) met ‘n hoë profiel. Die traksiebeheer  reageer vinnig wanneer die agterent wil uitkom op los grond, terwyl die uitstekende onderstel en veerstelsel vir gerustellende paddinamika sorg, selfs deur skerp draaie.

Die nuwe Nissan Patrol word aangedryf deur ‘n lewendige nuwe generasie V8 petrol enjin wat 298 kW en 560 Nm se piekverrigting lewer. Al hierdie krag word deur ‘n permanente 4-trekstelsel na al vier die wiele gestuur via ‘n 7-gang outomatiese ratkas met die hulp van, wat Nissan noem “Adaptive Shift Control “ en  “Downshift Rev Matching”.  Die ou grote sleep gemaklik  3,5 ton met die 140 liter petroltenk wat dan  handig te pas kom.

Ons moet erken, dat na die paar dae se toets en selfs strawwe veldry, ons gewonder het wanneer gaan ons laestrek nodig kry met die nuwe Patrol?  Selfs die naelbyt- uitdagings van die Weskus se  los diksand is moeiteloos deur die Patrol hanteer. Daar waar die gemiddelde 4×4 lae strek, ‘n ervare bestuurder en die hulp van ‘n sleeptou nodig kry, loop die Patrol gemaklik deur, grootliks danksy die fris V8 se baie wringkrag teen lae toere. Dalk miskien as jy in Botswana ‘n wa sleep in dik los sand moet sleep, gaan  laestrek vereis word. Daar is so baie krag dat die voertuig moeiteloos deur en oor allerlei tawwe en uitdagende hindernisse gekruip het.

Volgens Andre de Clerk, ons 4×4 ghoeroe  was ons toetsmodel Patrol se petrolpedaal geweldig sensitief wat dit moeilik gemaak het waar dit belangrik was om die baie perdekrag onder die enjinkap  in toom te hou, veral tydens tegniese rywerk in die veld.

Na die veldrysessies het Andre die volgende oor die nuwe Patrol gesê:  “Die traksiebeheerstelsel werk ten beste tussen 1500 en 2000 toere en die regtervoet moet dan geleer word om liggies sy werk te doen ten einde wieltol te vermy.  Tydens ons sandry toetse het die stelsel beїndruk met hoe gemaklik dit werk. As jy bietjie wil speel in die duine sal ek aanbeveel om die traksie beheer af te skakel , anders sny die sisteem die enjinkrag en kom jy nie lekker uit die sand nie. Wees net versigtig vir te vinnig wegtrek sonder die funksie aangeskakel anders  “spin” die kragtige Patrol homself vinnig in die sand in.

Nissan

Ek het gevind dat as jy die Patrol op die sywal van ‘n duin laat dwars ry, is daar soveel krag beskikbaar dat die voertuig vanself weer reguit trek met net so bietjie meer pedaal. Ek vermoed die traksie beheerstelsel skakel nie geheel af nie – dit voel asof daar nogsteeds ‘n mate van beheer uitgeoefen word. Tot my verbasing het die Patrol met redelike gemak deur al die tegniese dele beweeg sonder om op die sleepstang of voorbuffer te skraap. Selfs nie eers die trappies langs die kante het deurgeloop nie”.

Na afloop van ons toetstyd met die 2018 Nissan Patrol V8 is beide van ons eens dat ons so ‘n klein bietjie verlief  geraak het op hierdie monster V8 Patrol. As jy nie te veel gepla is oor ‘n groot petrolrekening nie en jy is so ietwat van ‘n motorliefhebber, gaan jy heelwaarskynlik ook gek wees oor hierdie nuutste weergawe van Nissan se legendariese es-joe-wee.

Slegs een model van die 2018 Nissan Patrol Premium is beskikbaar in SA teen R1 299 000. Koop jy hom kry jy ook Nissan Assured se klasleidende 6-jaar/150 000 km waarborg en omvattende 3-jaar/90 000 km diensplan by die prys ingesluit.

What do you think?

1 point
Upvote Downvote

Total votes: 1

Upvotes: 1

Upvotes percentage: 100.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Trekkerverkope is 12% hoër vanjaar

Plaasaanvalle in Vrystaat neem af, maar meer moorde vind in 2018 plaas