in ,

Beweidingsopsies vir droë gebiede in SA: Tipes Weidingstelsels

This post is also available in: English

Uit ‘n Gids vir grondgebruikers, deel 2, saamgesteld deur: Claire Relton, Bonnie Schumann, Cobus Theron en dr Sue Milton-Dean, borg: Global Environment Facility

Eerste en mees belangrik, word weidingstelsels in twee hoofkategorieë ingedeel: Aanhoudende beweidingstelsels en Wisselweidingstelsels.

In beide gevalle kan dit geïmplementeer word met of sonder die omheining van kampe. Elk van die stelsels het positiewe en negatiewe impakte wat oorweeg moet word vir die spesifiieke konteks waarin dit gebruik gaan word. Geen enkele weidingstelsel is perfek nie en kan as beste praktyk onderskryf word nie.

Bykomend is dit slegs deur langtermyn monitering van sleutel indikatore dat die effek van ‘n spesifieke weidingstelsel gekwantifiseer kan word. Te algemeen word die vergelyking tussen verskillende weidingspraktyke gebaseer op subjektiewe opinies en omstandigheidsbewyse. Onder hierdie staan geen-beweidingspraktyk uit as die mees effektiewe onder alle boerdery en omgewingstoestande. Bykomend is die plaasbestuursaktiwiteite soos die monitering van veldkondisie, herstel van heinings, en die voorkoming, vermindering of rehabilitasie van veldagteruitgang, net so belangrik, indien nie meer belangrik, vir volhoubare boerdery nie, as die keuse van die weidingspraktyk wat gebruik word

Aanhoudende Beweiding

Slegs een kenmerk word verander in die eenvoudige weidingstelsel, naamlik die veelading. Vee of wild het aanhoudende, onbeperkte toegang tot die een weidingsarea. Teen hoë veeladings sal die veldkondisie swaarkry, maar teen lae veeladings mag ekonomiese opbrengs per eenheidsarea laag wees. Hierdie beweidingspraktyk is nie algemeen onder kleinveeboere in die Karoo nie (Todd et al. 2009). Aanhoudende beweiding is egter algemeen op wildplase in die Karoo aangesien wild nie maklik tussen kampe geskuif kan word nie (Esler et al. 2006), gevolglik sal die gebruik van hierdie benadering waarskynlik verhoog met die toenemende oorskakeling van kleinvee- na wildboerdery. Hierdie praktyk word be-oefen op kommunale grond waar daar geen heinings is nie en vee ook nie meer opgepas word nie (Salomon et al 2013). Teen lae veeladings is die diere hoogs selektief en sal hulle eerste die beste gehalte weiding vreet.

Wisselweiding

Wisselweiding kan breedweg beskryf word as daardie stelsels waar periodes van ontblaring (weiding) afgewissel word met periodes van rus. Daar is ‘n reeks van wisselweidingstelsels wat elk verskil in hulle metodes en doelwitte (Esler et al. 2006). Oor die algemeen kan wisselweiding ingedeel word in twee hoofkategorieë, naamlik dié wat gebruik maak van kort beweidingsperiodes van minder as een maand; en daardie wat langer weidingsperiodes gebruik (verskeie maande) (Todd et al. 2009). Wisselweiding word op sommige kommunale grond toegepas in die afwesigheid van heinings. In hierdie gevalle stuur veewagters die vee strategies om oorbeweiding en kuddekompetisie by waterpunte uit te skakel (Salomon et al 2013). Afwisseling tussen periodes van beweiding en rus, sal die plante toelaat om te herstel, groei en reproduseer, afhangend of reën voorkom tydens die rusperiode. Rusperiodes moet seisoenaal afgewissel word om plante met verskillende groeisiklusse (bv. grasse en bossies) toe te laat om hulle siklusse te votooi. 

Figuur 1. Skematiese diagram wat die beginsel van wisselweiding aandui waar kampe periodes van afwisselende rus en beweiding ervaar.

Minder Kampe of Langer Beweidingsperiodes

Hierdie weidingstelsels is ontwikkel deur die Departement van Landbou by Grootfontein in die Oos-Kaap en vereis oor die algemeen minder infrastruktuur in die vorm van heinings, asook minder ingewikkelde bestuur. Beweidingsperiodes van 2-6 maande word gebruik wat afgewissel word met lang periodes van rus. Wisselweidingstelsels het twee tot agt, of selfs meer kampe. Rusperiodes word afgewissel sodat elke kamp in ‘n ander seisoen in die opeenvolgende jaar bewei word. Die rusperiodes help die plante om te herstel, terwyl die beweidingsperiodes (ontblaring) groei stimuleer. Seisoenale variasie laat plante wat slegs sekere tye van die jaar aktief is, toe om te herstel gedurende opeenvolgende seisoene. Dit is veral belangrik om die groei van beide Karoobossie en grasse te bevorder.

Van ‘n praktiese oogpunt mag die beweidingsbenadering van elke boer varieër van die opsies soos hierbo bespreek aangesien die lys nie volledig is nie. Nogtans val die praktyke wat gebruik word tog in een van die opsies soos genoem. Sisteem veranderlikes kan oorweeg word in die lig van huidige plaaslike toestande op elke plaas, of ‘n kombinasie van benaderings kan gevolg word.

Meerkamp Wisselstelsels

Nie-selektiewe Beweiding (NSB)/Kort Beweidingsperiodes (korter as ‘n maand)

John Acocks se navorsing in die 1960’s het boere aangemoedig om hulle vee te forseer om nie-selektief te vreet om meer smaaklike spesies toe te laat om minder smaaklike spesies te uit-kompeteer en domineer en om veldagteruitgang in die Karoo te vertraag (Hoffman & Cowling 2003). Hierdie stelsel het gepoog om die natuurlike beweidingspatrone van groot wilde migrerende herbivore na te boots, soos hulle natuurlik voorgekom het voor die vestiging van boere in die koloniale era (Hoffman & Cowling 2003). Hierdie patroon behels hoë-intensiteit beweiding vir ‘n kort tydperk, gewoonlik minder as twee weke, en indien moontlik deur gemengde kuddes. Vee word in klein kampies gejaag wat deur elektriese omheinigs afgekamp word. Na beweiding word die kampies vir ten minste een jaar gerus. Hoë veedigtheid verminder selektiewe beweiding en derhalwe bevorder dit die inname van minder smaaklike (maar nie-giftige plante) en keer dit dat onsmaaklike spesies ‘n kompeterende voordeel het (Hoffman & Cowling 2003). NSB, soos deur Acocks, ontwikkel, is waarskynlik vandag een van die mees algemene beweidingstelsels in die Karoo.

Holistiese Hulpbronbestuur  / Kort Periode Beweiding

Ook genoem: Holistiese Beplande Weiding, Hoë digtheid beweiding, of Savory Weidingsmetode

Hierdie stelsel is ‘n aanpasbare bestuurde, tyd beheerde wisselweidingstelsel, soortgelyk aan die nie-selektiewe beweidingstelsel, omdat die beweidingsperiodes kort is (maar vir verskillende redes). Dit is gedurende die 1970’s in Zimbabwe ontwikkel deur Alan Savory. Beweiding van smaaklike spesies deur groot groepe vee mag dikwels plantegroei stimuleer en ‘n toename in produksie bevorder. Versteuring deur groot groepe diere sal die grondkors breek, ekosisteem dienste soos ontbinding, minerale sirkulering en plantegroei stimuleer.  Kort rusperiodes van ongeveer 2-3 maande word gewoonlik beoefen en hang grootliks af van die reënval. Die Holistiese stelsel word algemeen geassosieër met die sogenaamde wawiel kampuitleg, alhoewel dit nie verpligtend is nie. Die wawielstelsel het ‘n sentrale waterpunt met kampe wat uitwaarts strek.

  • Die tyd wat die diere in ‘n kamp spandeer is gebaseer op die weidingsplan en die werklike ontblaring (gewoonlik 50 – 70%). Algemeen gesproke gebruik hierdie stelsel kort beweidingsperiodes van een tot sewe dae. 
  • Die rusperiode is gebaseer op plant herstel biomassa, wat grootliks afhang van die reënval en seisoen.
  • Veldkondisie moet elke dag gemonitor word om agteruitgang te voorkom. 
  • Rekordhouding word aanbeveel en laat boere toe om moontlike oorsake vir suksesse of mislukkings te identifiseer. 
  • Veldkondisie en herstel word grootliks beïnvloed deur grondtipe, reënval en plantegroei tipe. 

Multi-kamp en Uitgestelde Wisselbeweiding

Ook genoem: Die groepkamp benadering

In hierdie stelsel word die plaas in ‘n aantal onafhanklik funksionerende eenhede soos oewerveld, berg of hangveld opgedeel, wat verskil in produktiwiteit, plantsamestelling en drakrag (Hoffman et al. 1999). Hierdie weidingstelsel is ontwikkel deur dr. Piet Roux vir plase wat uit ‘n verskeidenheid van landskapstipes bestaan. Elke landskapseenheid word afgekamp en dan in ‘n aantal kleiner kampe opgedeel wat uit dieselfde landskap en veldtipe bestaan (Teague et al. 2011, 2013). Stelle van kampe oor die landskapseenhede word dan gegroepeer in bestuurseenhede, om kampe met verskillende gebruike  of benutting in verskillende seisoene op te deel (Hoffman et al. 1999).

’n Trop vee word dan aan ‘n spesifieke stel kampe toegewys en geroteer tussen die kampe met variërende rus en beweidingsperiodes (Esler et al. 2006). Daar is baie variasies van die groepkampstelsel. Die ontwerp van die stelsel is buigsaam en kan bestaan uit ‘n reeks van bestuurstegnieke (soos intensiewe, nie-selektiewe beweiding vir kort periodes) (Hoffman et al. 1999). Die beweidingsperiode van ‘n stel kampe moet gewissel word van een jaar tot die volgende, want die verskillende plantegroeitipes groei, blom en vorm saad in verskillende tye van die jaar, en al die plantegroeitipes het tyd nodig om te herstel (Hoffman et al. 1999). Daar mag so min as drie en so baie as 20 of 30 kampgroepe op ‘n plaas wees.

Voorbeeld van ‘n vierkamp weidingstelsel (Saayman 2016):

In hierdie geval word slegs drie groepe kampe elke jaar gebruik, terwyl die vierde groep gerus word vir ‘n hele jaar en slegs gebruik word in die derde weiseisoen. Op die manier word die groep 18 maande in total gerus, waarna dit afwisselende rus kry vir 6-9 maande oor ‘n vierjaar periode. Die 18 maande rusperiode volg na die groep vir twee keer vir beweiding gebruik is in die vorige kalenderjaar, met slegs ses maande rus tussen die beweidings. Die stelsel kan ook op plase met min kampe gebruik word, aangesien ‘n vierkamp sisteem gevolg kan word op dieselfde basis as ‘n vier kamp groepstelsel  (Saayman 2016).

Veewagterstelsel as ‘n wisselweiding benadering

In sekere gevalle sluit sosiale, ekonomiese of kulturele versperrings die omheining van weivelde uit. Om die finansiële koste van omheinings te voorkom, sowel as om die tyd en arbeid wat dit verg om heinings op te rig, uit te skakel, kan die oppas van vee deur veewagters ook gebruik word om die weipatrone van vee te manipuleer. Hierdie stelsel laat buigsaamheid toe in veebeweging, maar benodig intensiewe arbeid om ernstige agteruitgang te voorkom. Die gebruik van omheinde kampe in meentgronde word deur sekere skrywers bevraagteken. Die benadering van die oppas van vee vir wisselweiding, teenoor omheinde kampe, word bevorder en verskeie potensiële voordele soos die verbetering van huishoudings, herlewing van gebruike, vermindering van veediefstal, vermindering van predasie en verbetering van biodiversiteit bestuur, word ontdek. (Salomon et al 2013).

Praktyke om te vermy

  • Oorbelading, veral in gebiede wat sensitief is vir gronderosie, soos teen rivierlope of in gebiede waar tussenspesie weiding kan voorkom (de Beer 2016).
  • Aanhoudende beweiding waar medium of hoë veeladings benodig word.
  • Herhaalde beweiding binne een groeiseisoen of dieselfde seisoen beweiding jaarliks (met ander woorde die russeisoen moet elke jaar verskil).
  • Aanhou van ongeskikte veerasse en eksotiese wildspesies. 

Oorbeweiding gebeur makliker op veld in ‘n swak toestand, in vergelyking met veld in ‘n goeie toestand, want daar is minder smaaklike plante en elke plant word dus swaarder gevreet. Oorbeweiding en omgewingsagteruitgang is moontlik ongeag die tipe vee of wild teenwoordig.

Plaas infrastruktuur

  • Vee moet toegang hê tot skoon en vars water en gereelde ondersoeke moet ingestel word na die kwaliteit en kwantiteit van watervoorsieing, veral in voerkrale en by lakterende ooie.
  • Watervoorsiening infrastruktuur moet gereeld geïnspekteer word en goed onderhou word om water te bespaar en oorbenutting of vermorsing te voorkom.
  • Deur wisselweidingskampe rondom ‘n sentrale waterpunt te maak kan ‘n aantal kampe van water voorsien word en kan veldagteruitgang wat met waterpunte geassosieër word, beperk word tot een sentrale gebied.
  • Swaar weidruk en vertrapping rondom waterpunte, wat lei tot plantegroei en grond agteruitgang, is goed gedokumenteer in Suidelike Afrika (Andrew 1988). In ariede weivelde word die effek van vee op die plantegroei vererger deur die stadige hersteltempo in lae reënval gebiede.  (Ross 1995; Farmer 2010) Derhalwe moet waterpunte weg van sensitiewe areas soos eskarpe, vleilande en spesiale inheemse plantgemeenskappe, teelgebiede van inheemse wildlewe en argeologiese of historiese gebiede opgerig word
  • Netso moet paaie sulke sensitiewe areas vermy. 
  • Paaie moet goed gedreineer wees om grootskaalse afloop en erosie te voorkom en dit moet ook waterlope teen regte hoeke oorsteek om afloop weg te lei en erosie in die spore te verhoed. 
  • Omheinigs, alhoewel duur, is ‘n waardevolle manier om vee en wild teen predatore, siekte oordraging en diefstal te beskerm. 

In die wildboerdery bedryf word heinings van 1,8 m aanbeveel vir die meeste boksoorte, alhoewel ‘n heining van 2,4 m nodig is om koedoes binne te hou. Vir groter en meer gevaarlike wild, soos buffels, geld spesifieke omheiningsregulasies en provinsiale bewaringsowerhede moet gekontak word vir spesifikasies.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Die Vaaldriehoek word dalk nog valer

ProAgri 237