in ,

Beperk bosvarkskade só:

This post is also available in: English

 Verwoesting en skade is bosvarke se enigste bydrae tot enige boerdery — en hulle is oor ՚n groeiende gebied in Suidelike Afrika bedrywig.

Soos wat boerderye uitbrei en ont­bossing toeneem, soek die varke kos in landerye en boorde, nie net omdat daar gedeeltes van hulle natuurlike habitat vernietig word nie, maar ook omdat die ‘nuwe’ voedselbron hulle verder en verder weglok van hulle natuurlike verspreidingsgebiede.

Bosvarke stroop die oeste in mielielande, pynappelplantasies, aartap­pels, bone, grondbone, tamaties en allerlei groente en vrugte. Mielieboere skat dat een bosvark 100 kilogram mielies per seisoen vreet. Hulle dolwe ook die wortels van suikerriet om, vertrap die grond en verniel plante. Bosvarke plunder ook boorde. In makadamiaboorde het boere gevind dat ՚n volwasse vark ongeveer 6 kilo­gram neute (dop en al) per uur vreet. Volwasse varke kan tussen 3 tot 6% van hulle liggaamsmassa per dag eet.

Maar dit is nie net die produkte wat bosvarke vreet wat die boer benadeel nie. Hulle verniel ook die infrastruktuur soos pype, krippe en damme, en trap paadjies wat erosie en verdere skade veroorsaak.

Veeboere spring ook nie altyd die skade vry nie. Dikwels vreet die bos­varke die beeslekke op en so af en toe sal hulle veral jong diere doodmaak en vreet. Die bosvark is immers ՚n omnivoor en roofdier. Vleis vorm ՚n deel van hulle dieet (amper soos bobbejane).

 Roofdierbeheer

In die verlede is probeer om bosvark­getalle met gif te beheer, maar min boere hou daarvan om gif te gebruik omdat dit nie prooi-spesifiek is nie en omdat onskuldige diere aan die karkasse van vergiftigde varke wat nie opgespoor en vernietig kon word nie kan vreet en vrek.

Daar is vier opsies vir die beheer van bosvarke:

Jag met honde

Honde kan gebruik word om bosvarke op te spoor en vas te keer sodat hulle geskiet kan word. Dit is belangrik om die honde so op te lei dat hulle uit die vark se pad bly, aangesien die varke die honde kan aanval en selfs kan doodmaak. Daar is ook die moont­likheid dat die honde ander diere se spoor volg in plaas van die varke en dan is die hele jagtery verniet.

Volg-en-bekruip

՚n Enkele persoon kan ook die bosvarke bekruip en skiet. Hierdie metode werk veral laataand of vroeg soggens wan­neer die bosvarke aktief is.

Bosvarke se vleis is smaaklik en kan bydra om vir die skade wat hulle aanrig te vergoed.

Onthou: wanneer probleemdiere gejag word, moet jy steeds seker maak dit is wettig. As jy nie seker is wat die wet hieroor sê nie, besoek gerus hier­die webtuiste: www.nw.nipas.co.za.

Bosvarke is naglewend en daarom is dit die beste om hulle vroegoggend of skemeraand te probeer betrap. (Foto’s verkry deur Flickr, geneem deur Bernard DUPONT)

Aas in vanghokke

Wanneer aas gebruik word om die probleemvarke te vang, kan ՚n mens uiteenlopende resultate verwag. Bosvarke het ՚n sterk reuksintuig en hulle vermy vreemde reuke. Wanneer hulle die eerste keer ՚n vanghok sien, word hulle nie dadelik nuuskierig en gaan bekyk die ding nie. Daarom is dit nodig om die vanghok vir ՚n lang tydperk op ՚n plek te plaas, dan die aas daarin te sit en dan gereeld te inspekteer. Maak seker dat die plek waar jy die hok plaas naby die gewone roete van die varke is sodat hulle beslis daar verby moet loop. Gevangde bosvarke kan dan hervestig of vernietig word.

Grensbeveiliging

Stewige, doeltreffende heinings om jou landerye en boorde kan die verlies van oeste as gevolg van bosvarke aansienlik verminder. Tans word hierdie metode as die mees omgewingsvriendelike keuse beskou.

Heinings moet sterk wees en diep geanker sodat die bosvarke dit nie kan oplig nie. Dit word ook aanbeveel dat daar minstens twee geëlektrifiseerde drade aan die buitekant gespan moet word.

Daar word gespekuleer dat bosvarke nie van die reuk van kool hou nie en dat boere dit as ՚n afweermiddel kan gebruik. ՚n Ry kool kan dan buite of tussen ander gewasse geplant word, maar daar is tans nie genoeg inligting oor die doeltreffendheid hiervan beskikbaar nie.

Bosvarke teel vinnig aan en hulle getalle neem sterk toe. Daar is geen kommer dat die spesie uitgewis sal word wanneer dit as ՚n probleemdier gejag word nie. Nogtans is dit noodsaaklik om deurentyd die omgewingsimpak ook in gedagte te hou wanneer bosvarke bestry word.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Sypaadjietuine: ‘n Liefdestaak wat honger mense voed

Jag kan wildbedryf red