in ,

Bek-en-klouseer kom op ‘n baie slegte tyd

This post is also available in: English

Die onlangse uitbreking van bek-en-klouseer in Limpopo kom op ‘n baie slegte tyd vir die rooivleisbedryf. Die bedryf gaan tans onder ’n landswye droogte gebuk. Voer- en mieliepryse het die hoogte ingeskiet en die koopkrag van die verbruiker is onder druk.

Dit is te midde van ‘n kuddeboufase ná die droogte van 2016. Al dié faktore plaas baie druk op boere se kontantvloei en finansiële oorlewing. Alles verteenwoordig ‘n uitdaging vir die missie van die RPO wat daarop geskoei is om vir die produsent ‘n mededingende en volhoubare rooivleisbedryf te fasiliteer.

Daar is die afgelope jaar (Januarie tot Desember 2018) 29 180 ton beesvleis uitgevoer, wat 4,02% van die plaaslike produksie is. Die markwaarde van die uitvoere beloop R1 790 918 024,73. Gedurende dieselfde tydperk is 701,2 ton skaapvleis met ‘n markwaarde van R43 164 652,36 uitgevoer, wat 0,69% van die plaaslike produksie is.

Altesaam 16 474 815 skaapvelle ter waarde van R594 182 260,36 en 8 552 648 kg huide ter waarde van R102 445 668 is uitgevoer. Alles dui daarop dat die meeste van Suid-Afrika se handelsvennote geen verdere vleisuitvoere vanaf die land sal aanvaar nie. Dienooreenkomstig moet ons aanvaar dat die beraamde 4,02% bees- en 0,69% skaapvleis wat vir uitvoere bestem was deur die plaaslike mark opgeneem gaan word.

Dit mag tot gevolg hê dat verbruikerspryse sywaarts en selfs afwaarts beweeg. Dié scenario hou uiteraard katastrofiese gevolge vir boere in wat reeds onder finansiële druk is.

Die RPO is vol vertroue dat die uitvoere van huide en velle spoedig deur middel van bilaterale gesprekke met ons handelsvennote hervat kan word. Rooivleisuitvoere en uitvoere van genetiese materiaal word egter in ‘n groter mate deur die verlies van die bek-en-klouseervrye sone status geraak.

Daarom is dit noodsaaklik dat alles moontlik gedoen word om Suid-Afrika se bek-en-klouseervrye sone status te herwin. Die nasionale RPO is optimisties oor die samewerking tussen die nasionale en provinsiale departemente van landbou met die bedryfsorganisasies soos die nasionale Dieregesondheidsforum, waarvan die RPO deel is.

Die RPO ondersteun die vier werkgroepe wat tot stand gebring is om die proses te bestuur, naamlik:

-Bestuurskomitee

-Tegniese taakspan

-Handelstaakspan

-Kommunikasietaakspan

Daar moet in ag geneem word dat die verlies van Suid-Afrika se bek-en-klouseervrye sone status slegs as gevolg van twee diere is wat positief vir bek-en-klouseer in die vrye sone getoets het. Die diere is net buite die beheerde gebiedin die noordelike gedeelte van Limpopo gevind. Effektief het die twee betrokke diere Suid-Afrika se bek-en-klouseer-vrye-sone status tot ‘n einde gebringen daar is geen aanduiding dat die siekte in die res van die land voorkom nie.Die beheer van bek-en-klouseer is krities tussen lande wat boere van lewendehawe is.

Bek-en-klouseer is uitsluitlik ‘n dieresiekte en het geen impak op menslike gesondheid nie.Indien die bekampingsproses suksesvol is,kan Suid Afrika sy bek-en-klouseer-vrye sone status binne ‘n jaar herwin. ‘n Voorvereiste vir sukses is die dringende en spoedige implementering van die land se nasionale naspeurbaarheidstelsel.

Bron: RPO Rooivleis Bulletin

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Wolmark daal met 2,7%

Boere benodig meer ondersteuning