in , ,

Beheer swartvlek met RovicLeers se jongste navorsing

This post is also available in: English

Daar is niks wat ’n boer so beïndruk en oortuig soos wanneer uitstekende proefresultate prakties in die veld gedemonstreer word nie. Dit is hoekom RovicLeers deurlopend die geleentheid benut om hulle jongste navorsing en tegnologiese verbeteringe aan hulle werktuie op die manier bekend te stel. RovicLeers besef ook dat daar daadwerklik opgetree moet word om sitrusboere te bemagtig om die swartvlekswam, wat dreig om Suid-Afrika
se grootste sitrusuitvoerkontrakte te kelder, hok te slaan. Vyf jaar gelede het CRI (Citrus Research Institute), die Universiteit van Stellenbosch se Departement Plantkunde en ander belanghebbende liggame begin om boere se
behoeftes te identifiseer, met drie-dimensionele kameras moderne ontledings by sitrus te doen en verskeie spuite in die veld te evalueer.

Met die berugte swartvlekprobleem wat begin dreig het, het RovicLeers twee jaar gelede aan boord geklim en hand aan hand saam met die slimkoppe begin werk om hulle spuite volgens die proefresultate en insette van die akademici te begin aanpas. Tans is hulle in die finale ontwikkelingsfase en hulle kan spog dat die spuitkop en toedieningsgedeelte van hulle Cima-spuit slaggereed is om hierdie gevreesde swam te beheer. RovicLeers se hoofkantoor is gerieflik in Blackheath in die hartjie van die vrugtewêreld geleë. Hulle is inderwaarheid sedert 1984 besig om in noue samewerking met die Universiteit van Stellenbosch en ander belanghebbende liggame, hulle spuite en ander toerusting voortdurend volgens die jongste navorsing te ontwikkel en aan te pas. Oor die afgelope 30 jaar het hulle ook ’n uitstekende reputasie met hulle deurbrake in die behandeling van kern- en steenvrugte en druiwe opgebou. Die swartvlekprobleem wil maar net nie weggaan nie, maar RovicLeers is vasbeslote om die probleem op te los.

RovicLeers se Cima-spuit is 'n sentrifugale waaierspuit met venturiverstuiwers wat ontwikkel is om die swartvlekswam in die kiem te smoor.
RovicLeers se Cima-spuit is ‘n sentrifugale waaierspuit met venturiverstuiwers wat ontwikkel is om die swartvlekswam in die kiem te smoor.

Verlede maand het RovicLeers die boere in die Oos-Kaap getakel en inligtingsryke tegniese lesings en boorddemonstrasies in Hankey, Patensie, Addo en Kirkwood gehou. Daar was eerder gefokus op die meganiese aspekte van basiese toedieningsbeginsels as op die chemiese sy daarvan. Marius Ras, bemarkingsdirekteur van RovicLeers, en Johan Steyn, RovicLeers se verteenwoordiger in die Oos-Kaap, het
hierdie lesings en demonstrasies aangebied. Marius is ’n meganiese ingenieur en bemoei homself met die ingenieurskundige kant van spuittegnologie. Hy kyk met ’n vergrootglas na die atomisering van vloeistof, lugmomentumoordrag, die bestuur van boomstrukture en die vlakke van herwinning van die aktiewe bestanddele wat jy nodig het om by sekere beheervlakke uit te kom. Hy het die ingewikkelde beginsels van spuittegnologie in eenvoudige en verstaanbare terme aan die boere verduidelik.

Nadat die Cima-spuit sy werk gedoen het, het die boere self in die boord gaan kyk om die neerslag van nader te beskou en te besluit watter bespuiting die beste resultate gelewer het.
Nadat die Cima-spuit sy werk gedoen het, het die boere self in die boord gaan kyk om die neerslag van nader te beskou en te besluit watter bespuiting die beste resultate gelewer het.

Marius het die verhouding tussen die drie belangrikste faktore, naamlik optimale druppelgrootteseleksie, lugmomentum tot grondspoedbalans, en optimale watervolumes per hektaar, verduidelik. “Hierdie drie faktore is interafhanklik van mekaar – jy kan nie die een regkry en die ander verkeerd hê en dan gunstige resultate verwag nie,” het hy gesê. Marius kon met berekeninge bewys dat ’n boer tot 70% verbetering in die herwinning van aktiewe bestanddeel op die teiken kan bereik as sy verhoudings reg is. Hy kon ook aandui dat die neerslag op die blare meer doeltreffend raak as die druppels kleiner word en die hoeveelheid water as oplosmiddel per hektaar minder word, wat natuurlik baie meganisasiebesparings vir ’n boer kan inhou. “Dit is uiters belangrik om te verstaan dat die getoonde toetsdata in samewerking met die CRI en Universiteit Stellenbosch slegs kommersieël aanwendbaar is as die nodige produkregistrasies daarvoor beskikbaar is, “sê hy.

Die fl uoresserende kleurstofmengsel word gebruik sodat die boere die neerslag in die donker onder ’n ultravioletlig kon besigtig. Johan Steyn, verteenwoordiger van RovicLeers in die Oos-Kaap, hou die ultravioletlig omhoog.
Die fluoresserende kleurstofmengsel word gebruik sodat die boere die neerslag in die donker onder ’n ultravioletlig kon besigtig. Johan Steyn, verteenwoordiger van RovicLeers in die Oos-Kaap, hou die ultravioletlig omhoog.

Uit die besprekings na die tyd het dit duidelik geword dat die kommunikasie en samewerking tussen die Croplife SA, CRI en die Registrateur krities belangrik is om die toetsdata prakties aanwendbaar te maak. Die inligting op die registrasieetikette word ook nie altyd reg vertolk nie. “Daar is soveel gevestigde persepsies onder produsente, chemiese verteenwoordigers en raadgewers, wat dringend verander moet word as ons swartvlek doeltreffend wil bestry,” sê Marius. Tydens die boorddemonstrasie is daar ’n aantal rye met verskillende behandelings bespuit, wat uit verskillende watervolumes met dieselfde hoeveelheid aktiewe bestanddeel per hektaar
toegedien is. Die water is met fluoresserende kleurstof gemeng sodat die neerslag in die donker onder ’n ultravioletlig besigtig kon word. Na sononder moes die boere self in die boorde ingaan om die verskillende behandelings se neerslae met mekaar te vergelyk en punte daarvoor toe te ken. Daarna het Marius statistieke volgens die boere se puntekaarte saamgestel en dit bespreek.

So lyk ’n Cima-spuit se neerslag met ’n gemiddelde druppelgrootte van 80 mikron en 2 000 liter water per hektaar.
So lyk ’n Cima-spuit se neerslag met ’n gemiddelde druppelgrootte van 80 mikron en 2 000 liter water per hektaar.

Dit het duidelik gewys dat ’n watervolume van so min as 2 000 liter per hektaar die beste en eweredigste neerslag gee. RovicLeers het ook al fenomenale baanbrekerswerk oor pekanneute, avokado’s en groente gedoen. Hulle
volgende navorsingsiklus gaan op mango’s konsentreer. Hulle is tans besig om die aanvoorwerk daarvoor te
doen en uit te reik na die mangobeheerliggame. Binne twee jaar behoort daar ’n beduidende deurslag gemaak te word.

Werktuie en navorsing loop hand aan hand en om jou voorsprong te verseker, skakel vir Mariu
s Ras by 082-453-4808 of stuur vir hom ’n e-pos na mariusr@rovicleers.co.za

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Sorg vir jou werktuie en hulle sorg vir jou

Kontrakteurboer sê: LEMKEN werk beter vir minder diesel