in

Balfour-hooidag wys al die opsies

This post is also available in: English

Die Balfour Boere-unie rus nie op hulle louere as dit by die suksesse van die afgelope paar jaar se hooidae kom nie. Hulle het vanjaar weer baie hard gewerk en ‘n uitstekende boeredag aangebied.

Hierdie keer het hulle vir ‘n 1 000 mense kos voorberei en toe loop daar 1 007 mense deur die hekke! Verlede jaar was daar 900 mense.

Ernstige hooimakers en belangstellendes het onlangs op Gert Kriek, voorsitter van Balfour Hooidag, se plaas bymekaargekom om te sien watter wonderlike werktuie landboutoerustingvervaardigers boere bied om mooi hooi mee te maak.

Die eerste Balfour-hooidag is in 2011 aangebied en vanjaar spog hulle met die agtste een, terwyl die besoekersgetalle elke jaar gesond groei. Vanjaar was daar 10 maatskappye wat hulle toerusting en masjinerie se kragte en werkverrigting kon demonstreer.

Trekkers en werktuie van staatmakerhandelsmerke soos Kubota, Massey Ferguson, Valtra, Case, Gaspardo, Sitrex, Pottinger, Cicoria, Kverneland, Kongskilde, McHale, Alpler, Vermeer, Fella, John Deere, Falcon, Krone, Kuhn, Lely, Landini, Gallignani en CLAAS is deur handelaars en agente soos Smith Power Equipment, Valtrac, Northmec, BHBW, New Holland, Myburg Toerusting, Orbach, Jupidex, AFGRI en Trekland gedemonstreer.

Gert Kriek en sy vrou Amoné, werk hard agter die skerms om te sorg dat die Hooidag vlot verloop.

Gert sê: “Dit is ons agtste boeredag sedert die eerste een in 2011. Ons het vanjaar tien maatskappye wat demonstreer en ‘n klomp statiese uitstallers wat baie bygedra het om die dag suksesvol en vol te maak. Ons het vanjaar ook beeste laat vertoon omdat die meeste hooimakers natuurlik beeste het.”

In die Balfour-streek sal die boere elke lappie gras moet benut. “Ons het die helfte van die die normale hoeveelheid gras afgehaal, so die oestreste sal ons diere deur die winter moet trek,” sê Gert.

John Deere se 5055E het ‘n kraglewering van 40,5 kW en trek die v-vormige Kuhn Speedrake SR 112 GII, met sy 12 tolle met gemak.

Jupidex het sy 870 Mini-Rondebaler vir kleiner toepassing gedemonstreer. Die werktuig is deur ‘n vierwielaangedrewe Kubota L3200 getrek.

Lely se Welger RP 160 V Classic-baler se bale is styf saamgepers en vertoon baie netjies. Northmec is die agent en hulle is ook die verskaffers van Case, soos hierdie Case 155 Puma met ‘n maksimum kraglewering van 142 kW.

CLAAS se 230 Talos sleep die ses-tol CLAAS Volto 800-belugter wat die hooi baie egalig versprei om gou en deeglik te droog.

Isuzu City Deep Johannesburg beskou die boeremark as baie belangrik. Mark Steele verkoop trokke; Lourencia Swannepoel verkoop trokke en sleepwaens en jy kan ‘n goeie gebruikte voertuig by Jannie Wybenga gaan koop.

Jupidex se Kverneland Taarup 4336-snyerkneuser lewer ‘n produk wat maklik droog en baal. Die Kubota M130X wat vooraan loop, lewer 96,6 kW, weeg 4 390 kg en sy hyser kan 5 800 kg optel.

Kevin Lesser, bemarkingskommunikasiebestuurder van John Deere, is trots op elke produk wat hulle lewer – van die grootste tot die kleinste.

Massey Ferguson se 1840 blokkiesbaler en 4708 trekker, wat 61 kW lewer, loop soos ‘n eenheid saam.

Jannie Myburg bou werktuie vir eg Suid-Afrikaanse omstandighede. Die swaardiens hark wat hy by die Hooidag bekendgestel het beloof om hooimakers se lewe aansienlik makliker te maak.

Die New Holland-span, hulle trekkers en werktuie, is onmisbaar as dit by hooimaak kom. Dewald Janse van Rensburg, Andre Niewoudt, Neville Nel, Corne Grey en Hendry Curry het die stalletjie beman.

Orbach Agri is naby Vereeniging geleë en spits hulle al 18 jaar lank toe op hooimaaktoerusting. Die SRRT470-kraghark is gebou vir ons taai Suid-Afrikaanse hooi.

Die Valtrac-span was Attie de Villiers, verkoopsbestuurder; Jaap Strauss, verkoopsverteenwoordiger in die Oos Vrystaat; Philip Blignaut, hoofbestuurder en Arthur Potgieter, verkoopsverteenwoordiger in die Oostelike streek. Hulle het die klein APV-strooiers voor hulle stalletjie uitgestal. Die KS 40 kan agter op ‘n bakkie of vierwielmotorfiets gemonteer word om kunsmis, gif en fynsaad vir klein takies te strooi. Die strooiwydte is ses tot twaalf meter, afhangende van wat jy strooi.

 

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Die voorlopige skatting van mielies is 2,15% minder as verlede seisoen

Noodrit om diere te red eindig in tragedie vir boer