in

APV en Pöttinger: Vestig weiding vinnig en ekonomies

This post is also available in: English

Die regte masjien vir die werk wat gedoen moet word – dit is elke boer se wens. Op Erich Hillermann se suikerrietplaas net buite Pietermaritzburg word daar noukeurig navorsing gedoen voordat ’n masjien aangekoop word. “Met die rand se waarde het dit baie duur geword om werktuie aan te koop en elke werktuig moet sy ekonomiese waarde bewys,” vertel Erich. Hy het onlangs in ’n APV PS 300-lugdruksaaier van Valtrac belê, wat op sy bestaande kombinasieskottelwerktuig pas. Die doel is om hawer te saai vir groenbemesting. Aangesien suikerriet ’n meerjarige gewas is, het ’n boer maar min geleentheid om te sorg dat die grondstruktuur en samestelling reg is van die land wat vir die volgende paar jaar die suikerriet moet dra.

Voor die vestiging van ’n nuwe land maak die Hillermanns seker dat die reste van die gebrande suikerriet goed ingewerk word saam met ’n goeie dosis kompos. Aan die begin van die winter word daar dan hawer geplant wat as groenbemesting vir die nuwe suikerriet dien. Vroeër jare het hulle met ’n dubbelskotteleg gewerk om die grond op die land fyn te maak en dan die saad met ’n kunsmisstrooier gestrooi voor alles agterna vasgerol is. Daar was ’n paar probleme: Die plaas het baie kontoere waar daar skerp gedraai moet word. Dit beteken die swaar skotteleg moes dikwels vorentoe en tru gesleep en gestoot word, en op die wenakker is wyd en dubbeld gestrooi om seker te maak daar is nie dele wat oorgeslaan word nie. Erich sê hy het gewerk op 50 kg saad per hektaar, maar hy kon nooit verseker dat dit oral en egalig gestrooi word nie. Nou, met die APV PS 300-saaier, is die werk presies en die koste baie laer. Net een bewerking is nodig, wat beteken brandstof word bespaar, minder arbeid en tyd word gebruik en net 25 kg saad per hektaar is nodig vir ’n stewige, egalige plantestand. Erich sê benewens die geld wat hulle spaar, is hy ook beïndruk met die eenvoudige kalibrering. “Dit is sommer tjop-tjop,” sê hy. “Op die beheerpaneel kies jy hoe wyd jy wil plant, asook jou spoed en plantestand en dan laat jy die eenheid vir 30 sekondes of ’n minuut loop. Die saad word in ’n bak opgevang en dan geweeg. Die gewig word ingesleutel en die eenheid pas sy uitmeetspoed aan.” Radarsensors wat die grondspoed meet, verseker dat die regte hoeveelheid saad uitgeblaas word, ongeag die spoed. Daar kan ook sensors op die driepunt geplaas word wat die plantproses stop wanneer die rollers op die wenakker gelig word.

So bietjie verder noord, in die Vryheid-omgewing, het Derick Craig ook onlangs na deeglike navorsing in ’n APV PS 300-saaier belê, maar die masjien wat sy saaier abba kom ook uit die APV-fabriek en heet ’n APV GP 300. Die GP 300 het twee stelle vingers van onderskeidelik 12 en 8 mm wat die grond versteur en gelyk maak om die saadbed voor te berei. Voor die tande is ’n skraper wat hindernisse soos groot klippe, miershope of molshope uit die pad vat, dan volg die tande, die saadbuise en heel agter is ’n Cambridgeroller wat goeie grondkontak verseker. Derick sê as gevolg van die droogte het hy nog nie regtig kans gehad om die masjien te gebruik vir die doel waarvoor hy hom aangekoop het nie, en dit is om nuwe gras in bestaande veld te vestig. “Om hervestiging in bestaande lande te doen, moet die grond darem ’n bietjie klam wees,” sê hy. Die APVkombinasie is wel deeglik in bewerkte grond getoets en Derick het sy tef, Rhodes- en oulandsgras vir die hooimark daarmee gevestig. Hy is baie tevrede met die masjien se stewigheid, netjiese afwerking, eenvoudige kalibrering en akkurate saaiwerk sonder mors.“Nou kan ek alles in een beweging doen,” sê hy.

Marinus Kohler van Reitz het ook die APV PS 300 die afgelope seisoen deeglik ingespan met die vestiging van ’n paar honderd hektaar tef. Hy sê: “Ek sou die werk op geen ander manier gedoen gekry het nie.” Die reën was laat, die werk was baie en sterk wind het dit onmoontlik gemaak om soos vroeër met ’n kunsmisstrooier te saai. “Die APV het pype met uitlate en jy kan die hoogte na jou behoefte stel,” sê hy. Hy het die saaier op ’n kombinasieskottelwerktuig gemonteer en die saad net voor die rollers gestrooi sodat dit dadelik vasgetrap kon word. Marinus sê Valtrac se mense het hom mooi gehelp om ’n paar tandekryprobleme aan die begin reg te stel en van toe af het hy eenstryk deur gewerk sonder moeilikheid. Daar was geen verstoppings van die fyn tefsaad nie, die kalibrasie werk eenvoudig en bly konstant as dit eers ingestel is, daar was goeie verspreiding van die saad sonder enige bankvorming en dit het alles gesorg vir ’n goeie plantestand en opbrengs. Vorentoe gaan die APV hom veral help om groenbemesting te vestig met die oog op graanproduksie. “Dit is goeie waarde vir geld,” sê Marinus.

Pöttinger Terradisc 3001

‘n Hoëspoed kompakdis (kombinasieskottelwerktuig) wat uitstekend met die APV PS 300 saamwerk, is die Terradisc 3001 van Pöttinger wat ook deur Valtrac in Suid-Afrika versprei word. Die Terradisc werk op die driepunt en is ontwerp vir vinnige vlakbewerking met deeglike snywerk. Die skottels word twee-twee saam aan ‘n balk gemonteer met reguit staalarms wat verhoed dat die skottels kant toe uitswaai. As gevolg van die rubberskokbrekers in die dwarsbalk het die skottels ‘n wegbreekaksie van tot 10 cm na bo om klipskade te voorkom, en hulle val dadelik weer terug in hulle posisie. Reste word in gelyke stukkies gesny en deeglik ingewerk in die bogrond waar hulle kan afbreek om by te dra tot die grond se biologiese inhoud en tekstuur. Agter die skottels is ‘n stel vingers wat die saadbed mooi gelyk maak en heel agter volg ‘n roller vir vastrap. Die rollers sorg ook vir die dieptebeheer en dit kan hidroulies vanuit die kajuit gestel word. Valtrac bied tans die opsie van ‘n Cambridge-of dubbelroller aan. Die Terradisc sleep lig en maklik, maar wanneer hy die APV-saaier dra, vorm hulle saam ‘n redelike gewig, wat dus vra vir ‘n stewige trekker van minstens 90 kW. Die 3-metermasjien weeg 2 155 kg met die Cambridge-roller en 2 080 kg met die dubbelroller. ‘n Ander voordeel van die Terradisc is dat bitter min onderhoud nodig is. Die skottels se laers is in ‘n geseëlde eenheid en daar is net twee ghriespunte aan die roller.

apv julie terra

Vir meer inligting oor Valtrac se APV- en Pöttinger-oplossings, skakel Attie de Villiers by 083-261-9863, 056-817-8006 of stuur ’n e-pos na attiedev@valtrac.co.za. Besoek ook www.valtrac.co.za vir skakels na meer inligting.

Erich Hillerman se APV PS300 word op ’n kombinasieskottelwerktuig geabba vir sny, saai en vasrol in een beweging.
Erich Hillerman se APV PS300 word op ’n
kombinasieskottelwerktuig geabba vir sny,
saai en vasrol in een beweging.
Derick Craig van Vryheid sê hy moes as gevolg van die droogte vanjaar in bewerkte grond saai, maar hy sien uit daarna om die APV 300-saaier in te span vir die hervestiging van gras in bestaande lande sodra die veld weer nat is.
Derick Craig van Vryheid sê hy moes as gevolg van die droogte vanjaar in bewerkte grond saai, maar hy sien uit daarna om die APV 300-saaier in te span vir die hervestiging van gras in bestaande lande sodra die veld weer nat is.

Die APV PS 300 kan maklik aangebring word op ’n wye verskeidenheid grondbewerkers.
Die APV PS 300 kan maklik aangebring word op ’n wye verskeidenheid grondbewerkers.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Slim besproeiing: Ocmis verseker oes in droogte

Kubota: Hierdie is die eeu vir hidrostatiese tegnologie