in , ,

Agrobosbou: Beveg klimaatsverandering en voed die boer

Klimaatsverandering is warm op almal se lippe, en nog meer so na die onlangse 2021-Klimaatsveranderingberaad (COP26) van die Verenigde Nasies.

Arm lande is veral meer kwesbaar vir klimaatsverandering se nagevolge, soos ՚n afname in grondvrugbaarheid en ՚n toename in ontbossing en verwoestyning. Hoewel kommersiële boere die nagevolge langer kan afweer as die kleinboer, ly hulle saam daaronder.

Maar agrobosbou het moontlik die oplossing.

Agrobosbou betrek bome by algemene landboubedrywighede om die simptome van klimaatsverandering te bekamp en só die bio-ekonomie te stimuleer en voedselsekerheid te verseker. Voorbeelde hiervan is om te boer op woudrande of binne-in woude, asook om bometussen gewasse te plant.

Agrobosbou dra by tot omgewingsbewaring, volhoubare houtproduksie en ՚n toename in boomgewasse wat sowel die behoeftes van boere as die mark vervul.

Die aanplant van bome dra by tot grondverryking en die bewaring van biodiversiteit. Verder vang die blare koolstofdioksied op in die lug (koolstofbeslaglegging) en terselfdertyd plaas die wortels van sekere bome belangrike voedingstowwe (stikstofbinding) terug in die grond sodat gewasse sterker en beter kan groei. Die boomwortels trek ook water van diep onder in die grond na die grondoppervlakte sodat ander plante soos gras kan groei en die grond bedek.

Deur bladwisseling lewer elke boom organiese materiaal wat gesonde leemgrond help vorm. Wanneer die blare op die grond val, is dit nie net ՚n bron van voedingstowwe nie, maar ook grondbedekking wat die bolaag vogtig hou. Gesonde wortels hou die grond bymekaar en verhoed erosie en modderstortings gedurende vloede.

Die boer vind baat by agrobosbou deurdat dit help om aardverwarming te verminder en so droogtes en onvoorspelbare reënvalpatrone help verlig.

Deur meer bome op sy plaas aan te plant, brei die boer die biodiversiteit van sy landboubedrywighede uit omdat die bome ook ՚n oes lewer. Bome wat aangeplant word vir houtproduksie kan gebruik word vir boumateriaal of as brandstof. Bome kan ook geplant word om ՚n bykomende oes van vrugte, neute, palmolie, kakao of koffiebone te lewer. Bome dien ook as voer in droë maande wanneer weiding karig is en hulle skaduwee bied skuiling teen die hitte wanneer die son warm brand.

Om ՚n boom te plant vereis egter geduld omdat dit sorg en hulpbronne verg om dit te laat groei totdat jy die spreekwoordelike vrugte daarvan kan pluk. Daarom moet enigiemand wat agrobosbou wil beoefen ՚n langtermyningesteldheid hê. Dit beteken ook dat boere hulle kennis moet uitbrei na boomsorg om te verstaan watter bome waar aangeplant kan word, hoe dit versorg moet word, op watter manier dit geoes en bemark word en waarvoor die produk alles gebruik kan word; ՚n mens moet tog slim en winsgewend boer!

Agrobosbou het reeds sy staal in verskeie dele van Suidelike Afrika gewys. In Malawi het die aanplant van bome naby gewasse of weiding ՚n positiewe impak gehad. Die bome verskaf organiese materiaal aan die grond, skaduwee vir jong plante, voer vir vee en vuurmaakhout vir boere.

In die noordelike dele van die RSA het die aanplant van houtagtige meerjariges aangetoon dat die praktyk minimale grondversteuring aanmoedig, grondbedekking vermeerder en agrobiodiversiteit uitbrei.

Mosambiek se Gorongosa-koolstofbeslagleggingsprojek het sowel voedsel as inkomste gegenereer deur veselperske- (Mangifera indica l.) en kasjoeneut- (Anacardium occidentale l.) -boorde aan te plant, asook houtwerke te skep met lebbekbome (Albizia lebbeck (l.) Benth.). Tesame daarmee het agrobosbou ook die vervaardiging van houtskool ՚n hupstoot gegee deur die aanplant van Oos-Afrikaanse mahonie (Khaya nyasica (Welw.) C.DC.) en grondvrugbaarheid is verbeter met anabome (Faidherbia).

Die grootste probleem met die instelling van agrobosbou op plase is dat boere ook toegang tot bykomende hulpbronne soos saad of saailinge sal moet verkry. Hulle kennis en vaardighede rondom boomsorg moet ook aangevul word – iets wat moeilik is in afgeleë en arm gemeenskappe.

Bome is noodsaaklik vir die ekostelsel en lewer grondliggende produkte en oeste aan sowel landelike as stedelike gebiede. Hierdie houtreuse bied beskerming en belangrike voedingstowwe vir die mense, diere en plante in die bome se onmiddellike omgewing. Miskien is dit tyd om bome deel van jou boerdery te maak?

Bronne:

https://allafrica.com/stories/202111160511.html

https://www.intechopen.com/chapters/75172

file:///C:/Users/proag/Downloads/ASAPglobalchangeposterresearchgate.pdf

https://www.worldagroforestry.org/about/agroforestry2?kid=342

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Leave a Reply

Your email address will not be published.

SA Boerperd Veilingskalender 2022

Angus-veilingskalender