in ,

Agriteknuus: Landboutegnologienuus vanoor die wêreld

Land Rover Defender kan nou elektries loop

՚n Omskakelstel is nou in Engeland beskikbaar om Land Rover Defenders na volle elektriese aandrywing om te skakel. Omgeskakelde Land Rovers is 18 maande lank op ՚n plaas getoets. Volgens verslae is die voertuig stil en rats met verbeterde veldry- en sleepwerkverrigting.

Electrogenic, die vervaardiger van die stelsel, reken die stelsel kan homself binne net vier jaar betaal.

Die omskakeling is glo eenvoudig met ՚n laespanning elektriese motor wat die dieselenjin vervang. Dit bout aan die Defender se bestaande koppelaarklokhuls vas en die voertuig se ratte werk soos normaalweg. Die 89,4 kW en 235 Nm wringkrag van die elektriese stelsel vergelyk glo goed met die oorspronklike dieselenjin.

՚n Elektriese vakuumpomp, kragstuur en verwarming is bygevoeg, tesame met LUD-ligte. Die batterypak van 53 kWu bestaan uit twee eenhede wat inmekaar geprop word en in die enjinruim geplaas word.

As die batterye volgelaai is, kan jy 160 km ver op die pad ry, en meer as jy op die plaas of in die veld ry. Die stelsel is toegerus om oornag vanaf wisselstroom te laai (vinniger laai is opsioneel) en dit verg geen onderhoud nie.

“Defenders wat met ons maklikinstalleerbare omskakelingstelle toegerus is, doen alles wat van hulle verwag word stil en doeltreffend,” sê Steve Drummond, medestigter van Electrogenic. “Hulle is altyd gereed vir gebruik – prop net uit en daar gaan jy; geen nodigheid meer vir ritte na die vulstasie en kitswarmte op koue, ysige oggende.”

Die omskakelingstel sal vanaf Oktober vanjaar beskikbaar wees. In Suid-Afrika is elektriese plaasbakkies reeds ou nuus. Die boer wat ՚n gawe plaaslike elektriese bakkie begeer, hoef nie verder as Worcester te soek nie, waar Rumax deurlopend beter oplossings vir die boer ontwikkel.

Bron: https://www.electrogenic.co.uk/,www.ProAgri.co.za

՚n Ge-outomatiseerde toekoms wink

AgXeed, ՚n nuwe Hollandse maatskappy, kry belangrike rolspelers in die wêreld van landbouwerktuie aan boord.

CLAAS het ՚n samewerkingsooreenkoms met AgXeed aangegaan en ՚n minderheidsaandeel in die maatskappy se internasionale befondsing bekom as ՚n teken van hulle verbintenis tot tegnologiese groei. Die doelwit is om saam te werk aan die ontwikkeling en kommersialisering van geoutomatiseerde landbouwerktuie.

Onlangs het Amazone ook ՚n geldelike belang in die maatskappy aangekondig. Die doel van die strategiese vennootskap is om Amazone se gemonteerde werktuie verder te ontwikkel vir geoutomatiseerde gebruik op die land.

Amazone beskryf AgXeed se ge-outomatiseerde intervlakke as nommerpas vir hulle produkreeks. Die kombinasie van minimale grondverdigting, die beste gewigsverspreiding en buigsame moniteringsones skep nuwe moontlikhede vir intelligente boerdery-oplossings.

Die AgBot met rusperbande is reeds suksesvol gebruik saam met Amazone se grondbewerking- en planttoerusting, en daarbenewens kan die vierwiel-AgBot ook saam met Schmotzer-êe (deel van die Amazone-groep) gebruik word vir meganiese onkruidbeheer.

Maar dit is nie al nie. Die FTender alpassende voortenkstelsel vir saaden kunsmis, saam met die FT-P vir gewasbeskermingsmiddels en vloeibare kunsmis, kan ook met ՚n reeks Amazone-toerusting gekombineer word vir spesifieke aanwendings. Verskeie sensorstelsels moniteer en ontleed deurlopend die werk wat gedoen word.

CLAAS sê in sy mediavrystelling dat die boerderybedryf produktiwiteit in die komende dekades verder moet verbeter om aan die behoeftes van ՚n groeiende wêreldbevolking te voldoen. Die samewerking met en belegging in AgXeed is vir CLAAS ՚n logiese stap na toekomsgeskikte tegnologie.

“Ons betrokkenheid bied CLAAS toegang tot vernuwende tegnologie in ՚n bekende marksegment en vul ons eie kundigheid in outomatisasie en robotika aan,” verduidelik Thomas Böck, HUB van die CLAAS-groep. “In ruil put AgXeed voordeel uit ons wye kundigheid en netwerke op baie gebiede, soos data-oordrag, intervlakke en aandrywingoplossings. Hierdie oplossing bied boere en kontrakteurs stewige ekonomiese toegevoegde waarde, wat binnekort beskikbaar sal wees.”

AgBot en sy verwante sagtewareoplossings en -platforms, sal na verwagting in 2022 beskikbaar wees.

Opsionele rusperbande met breedtes van 300 tot 910 mm, saam met ՚n lae maksimumgewig van 6 ton (sonder ballasgewigte), maak die AgBot erg grondvriendelik.

Die voertuig het ՚n verstelbare spoorwydte, vragvoelende hidroulika en ՚n driepuntstelsel met ՚n hysvermoë van 8 ton. ՚n Elektriese kragaftakker, onafhanklik van enjnspoed, en eksterne hoëspanningverbindings is opsioneel beskikbaar. Die elektriese toerusting sluit al die tegnologie in wat vir gevaar- en hinderniswaarneming nodig is, en ook ՚n RTK-stuurstelsel (werkliketydkinematika) in.

AgBots sal in verskeie groottes en werkverrigtingsklasse beskikbaar gestel word.

Bron: CLAAS-mediavrystelling, www.amazone.com

Miljoen Masseys vir boere gemaak

AGCO het onlangs die produksie van die miljoenste trekker in hulle Massey Ferguson® Beauvais-aanleg gevier. Hierde beduidende mylpaal val saam met die maatskappy se 175ste verjaarsdag. Massey Ferguson vervaardig reeds sedert 20 November 1960 trekkers in Beauvais, Frankryk.

Thierry Lhotte, vise-president en besturende direkteur van Massey Ferguson EANE en president van AGCO in Frankryk, het die miljoenste trekker wat in Beauvais vervaardig is – ՚n MF 8S.305 Dyna-VT™ – oorhandig aan Thierry Aubrée, ՚n boer en kontrakteur van die dorpie, La Chapelle des Fougeretz in Bretagne, Frankryk.

“Namens al ons werkenemers en handelaars, bedank ek ons klante vir hulle volgehoue vertroue,”

het mnr Lhotte gesê.

Die nuwe 8S is ՚n toevoeging tot mnr Aubrée se Massey Ferguson-vloot, wat reeds vier trekkers, drie stropers en twee groot balers insluit.

Boussad Bouaouli, vise-president, Vervaardiging in Beauvais, het die betrokkenheid van werknemers benadruk: “Sedert 1960 was daar nog altyd mense wat die aanleg aan die gang gehou het, altyd met die fokus om die boer eerste te stel, om die uitdagings van die tyd te aanvaar en, bo alles, met ՚n suiwer oog op die toekoms.”

Dit alles het in 1960 met die MF 825 begin. Daarvandaan het die aanleg deurlopend gegroei om met vernuwing ikoniese trekkers te lewer, insluitend:

  • Die MF 3000-reeks in 1968, die eerste trekkers met aanboordelektronika,
  • Die MF 8600 in 2008, met die doeltreffendekragkonsep wat omgewingsimpak verminder te danke aan die eerste gebruik van selektiewe katalitiese vermindering in ՚n landbouwerktuig.
  • MF 8S-reeks in 2020, met die bekroonde Protect-U™-konsep, wat ՚n ruimte van 24 cm tussen die kajuit en die enjinruim beteken om hitte, geraas en vibrasies uit die kajuit te hou en verkoeling en werkverrigting bevorder. Die MF 8S-reeks is in 2021 as die Trekker van die Jaar aangewys, die Red Dot: Produkontwerptoekenning in 2021 en die Plaaswerktuigtoekenning in 2022.

Vernuwende ontwikkeling het die fabriek die afgelope jare gekenmerk, en tot 100 trekkers kan daagliks vervaardig word vir verskeping aan handelaars in 70 lande.

Bron: https://news.agcocorp.com/news

Case IH gaan groot met nuwe vlagskip-rondebaler

Spesiaal vir groter veeplase en kontrakteurs, is die nuwe RB HD Pro ontwerp om digter bale van ՚n wye reeks gewasse te maak, van nat kuilvoer tot droë strooi.

Daar is twee modelle: die RB456HD Pro (1,2 m-wye bale van 90 cm tot 1,65 m in deursnee) en die RB466HD Pro (1,2 m wyd, maar van 90 cm tot 1,9 m in deursnee). Vir elke grootte is daar drie rotoropsies: ՚n voerrotor, 13 kerfmesse of 25 kerfmesse, wat beteken daar is altesaam 6 modelle.

Toegerus met swaardiensonderdele en minder bewegende dele, is die hoofkenmerke ՚n volledig herontwerpte baalkamer en dryfbandbaan, sowel as versterkte en vergrote rollers, aste en agterklap. Die sterker ratkas en aandrywing stoot die aantal bale per uur glo op en baalgrootte, toedraai en digtheid word alles vanuit die kajuit verstel.

“In sommige opsigte het ons dinge vereenvoudig ter wille van betroubaarheid en onderhoud, soos om die aantal aandryfkettings en sleerollers te verminder,”

sê Michal Jankowski, Case IH produkbemarkingsbestuurder.

Teen 30 ton per uur is die balers ontwerp on enigiets van strooi tot hooi en van gras- tot mieliekuilvoer in verskillende kerflengtes te hanteer, te danke aan nuwe glyvry dubbelaandryfrollers en ՚n wye reeks messtelle wat vanuit die kajuit gekies kan word. Die ekstrawye rotor help om verstoppings te voorkom, maar in die ongewone geval van verstopping help die nuwe valvloer om dit gou uit die weg te ruim.

Die nuwe balers sal vir die lenteseisoen van 2023 beskikbaar wees.

Bron: prof

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Leave a Reply

Your email address will not be published.

Fourie Scheepers Zinabos Bonsmara

Firestone launches Maxi Traction Harvest tyre