in ,

Agrico sit toepaslike tegnologie in die boer se hand

This post is also available in: English

Dutoit Agri is ՚n toonaangewende boerdery en op hulle groot skaal moet daar deurlopend na maniere gesoek word om presisieboerdery nog meer presies te maak. Hulle het ՚n ruk gelede oor ՚n groot hekkie gespring toe hulle Agrico se spilpunte met die vernuwende Advanced Rain-beheerstelsels aangeskaf het.

Boonop hang die waterskaarste in die Swartland soos ՚n groot swaard oor die boere se koppe, maar hulle twee groenteplase, Skaapkraal en Platkloof, is met die hulp van Agrico slaggereed om hulle water so ekonomies moontlik te bestuur.

“Ons het aanvanklik baie rondgevra en ondersoek ingestel oor watter spilpunte ons moes koop. Agrico se spilpunte het bewys dat hulle nie net bekostigbaar is nie, maar ook sterk genoeg vir Afrika-omstandighede en tegnologies aan die voorpunt. Verder word dit gerugsteun met onvergelykbare plaaslike diens,“ sê Frikkie Bothma, Dutoit Agri se landgoedbestuurder van Platkloof en Skaapkraal.

“Die Windsaver, Cablesaver en Wheelsaver wat die spilpunt teen wind, kabel- en wieldiewe beskerm, asook die webbeheerstelsel het ons omstandighede soos ՚n handskoen gepas.”

Op Skaapkraal buite Malmesbury is die spilpuntnetwerk onder konstante druk, omdat die opgaardam hoër as die pompstasie en spilpunte is. Die spilpunte kry dus dadelik water as die waterfiskaal die masjiene aanskakel. Die spilpunt kan dan vinniger of stadiger gestel word om meer of minder water op ՚n slag toe te dien.

Die webbeheerstelsel word vanaf ՚n toep op ՚n slimtoestel gebruik. Die toep se gebruikerskoppelvlak is netjies uiteengesit met duidelik verstaanbare voorstellings en kleurkodes. Johann Raal, Skaapkraal se produksiebestuurder, weet ook presies hoeveel water deur hulle nege spilpunte gaan. “Ons stelsel is eenvoudig en baie akkuraat,” sê hy.

“Vanuit ՚n bestuursoogpunt is hierdie webbeheerstelsel met sy teksboodskapkennisgewings baie gerieflik. Ek weet dadelik wanneer ՚n spilpunt aangeskakel word of wanneer daar onderbrekings en probleme is. Op sy selfoon kan hy boonop sien hoeveel millimeter water toegedien word en waar die spilpunt op die land staan. Die klant kry outomaties boodskape vanuit die stelsel. As daar ՚n onreëlmatigheid of probleem opduik, sal daar ՚n waarskuwing uitgestuur word. As ՚n volgende rugsteun het Agrico deurlopend personeel in hulle hoofkantoor aan diens wat kan help met foutsporing en om verstellings te maak. Volledige rekord word ook gehou van alles wat in die stelsel gebeur het.

Johann Raal bespaar geweldig baie diesel en tyd deur sy spilpunte vanaf sy selfoon te beheer.

Op die plaas Platkloof buite Piketberg het Dutoit Agri dit ՚n stappie verder geneem. Hulle pompinstallasie bestaan uit pompe in die opgaardam en aanjaagpome in die pompstasie, wat water aan ՚n netwerk van spilpunte voorsien. Die drukbehoeftes verskil in verskillende dele van die stelsel en ook soos masjiene aan- of afgeskakel word; dus moes hulle die kommunikasie tussen die spilpunte en die pompe heeltemal outomatiseer. Wanneer die slimtoestel ՚n spilpunt aanskakel, gee die spilpunt vir die toevoerpompe die opdrag om aan te skakel. Die VSD’s wat die pompe beheer kan dan die druk aanpas soos nodig, om aan die drukvereistes oral in die stelsel te voldoen. Hier praat die pompe en spilpunte deurlopend met mekaar. Boonop is die beheer van die pompe in die dam en die aanjaagpompe in die pompstasie interaktief, sodat al die pompe optimaal en veilig aangewend word.

Op Gabri Beselaar, Dutoit Agri se produksiebestuurder op Platkloof, se slimfoon is daar dus nog ՚n bladsy binne die selfde toep wat die spilpunte beheer, wat die pompe se werking en funksies aandui. Hy kan die werking van sy pompe noukeurig dophou. “My arbeid is nou minder en my watertoediening meer doeltreffend en presies. Die spilpunt weet op die regte oomblik wanneer om die pomp af en aan te skakel of die spoed te verander. Menslike vertragings of foute word nou uitgesluit,” sê hy.

Gabri Beselaar, Dutoit Agri se produksiebestuurder op Platkloof, kan selfs sy pompe vanaf sy selfoon dophou en beheer.

As ՚n pyp bars, kan die pomp se beheerstelsel agterkom dat daar te veel water aangevra word terwyl die druk verminder. Dit skakel dan die dompelpompe in die dam en die aanjaagpompe dadelik af.

“Van 2015 af toe ek hier aangekom het, tot nou, kon ons met die hulp van grico se Advanced Rain-stelsel tussen 20 en 25% water bespaar,” sê Gabri.

Die stelsel verseker ook dat die pompe so doeltreffend as moontlik aangewend word om elektrisiteit te bespaar en dan is daar nog die besparing van personeel en bestuur se kosbare tyd waardeur Agrico se Advanced Rain Beheerstelsel verseker dat Dutoit Agri se besproeiing so ekonomies en doeltreffend as moontlik gedoen word, om winste te maksimeer.

Met ՚n Agrico-stelsel kan jy landboustorms oorleef. Skakel Alfred Andrag by 082-824-1214 of 021-950-4111 of e-pos alfred.andrag@agrico.co.za vir meer inligting.

Gabri Beselaar is hoogs tevrede met Agrico se uiters moderne Advanced Rain-webbeheerstelsel.

What do you think?

1 point
Upvote Downvote

Total votes: 1

Upvotes: 1

Upvotes percentage: 100.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

kaasfees

Vier SA Kaasfees se 18de jaar in 2019!

Die toppunt van spilpuntbesproeiing: Zimmatic maak die onmoontlike moontlik