in

Agri SA waarsku oor die uitbreek van bek-en-klouseer in die noorde van Limpopo

Foto: North Dakota State Government

This post is also available in: English

Agri SA is baie bekommerd oor die aankondiging deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DAFF) vroeër vandag dat Suid-Afrika se bek-en-klouseer-vrye status tydelik opgeskort is.

DAFF het Suid-Afrika se status opgeskort na laboratoriumtoetse die uitbreek van die siekte in die verre noordelike dele van Limpopo bevestig het. Dit beteken dat enige uitvoere waar ‘n bek-en-klouseer-vrye-sone-verklaring vereis word, nie tans gesertifiseer kan word nie.

Kenners van DAFF en Limpopo se veeartsenykundige dienste het verdere ondersoeke gedoen om resultate te verifieer en om die omvang van die uitbraak te bepaal. Beheermaatreëls sal na aanleiding van die bevindings van hierdie ondersoek in plek gestel word.

Bek-en-klouseer is ‘n ernstige, hoogs aansteeklike virussiekte wat lewende hawe affekteer met ‘n beduidende ekonomiese impak. Dit raak beeste, varke (huishoudelik en wild), skape, bokke en ander gesplete-klou diere. Dit raak nie mense nie. Tekens van bek-en-klouseer sluit in depressiewe diere en sere in die bek van diere wat maak dat die diere onwillig is om te eet.

“Enige aangemelde voorvalle van bek-en-klouseer moet met die grootste erns behandel word weens die ernstige implikasies wat hierdie hoogs aansteeklike siekte vir lewende hawe- en wildboere kan hê,” sê Janse Rabie, Agri SA se hoof van natuurlike hulpbronne. “Enige verdagte gevalle moet onmiddellik by die plaaslike staatsveearts aangemeld word.”

DAFF het gesê die geaffekteerde gebied is onder kwarantyn geplaas en geen beweging van diere en diereprodukte word toegelaat nie. Die saak is Maandag (7 Januarie 2019) by die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (OIE) aangemeld.

Boere verder weg van die gebied is gewaarsku om bio-sekuriteitsmaatreëls in ag te neem, wat beteken dat hulle nie nuwe diere in hulle kuddes moet toelaat nie en dat die beweging van hulle eie kuddes na ander plase beperk moet word.

Bron: Agri SA

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

‘n Groot gees in die veebedryf oorlede

Valtra draf los voor met diens, tegnologie en betroubaarheid