in , ,

Agri Afrika dra boere deur dik en dun

This post is also available in: English

Die Legend stropertafelkar het ’n stewige, lang balk, maar hy kan steeds in die trekker se spoor bly te danke aan die vier stuurbare wiele. Verstelbare klampe en rubberskokbrekers sorg dat die tafel knus en veilig vervoer kan word.
Alles gaan oor tyd,” vertel Piet Fiets Gildenhuys van Heidelberg in die Suid-Kaap. Die vensterperiode vir oestyd in die streek is bitter klein, want daar val nie net winterreën nie. Dit sous in Oktober en November ook wanneer die koring, kanola en gars gesny en gedors moet word.
“Ons moet sny sodat die graan kan afdroog. Veral by gars knak die stingels ook sodra dit ryp is en dan kom die nat suidoos nog van die see se kant af ook hieroor.”
Daar is nie tyd om vir kontrakteurs te wag nie; boere moet self hulle dinge doen. ’n Ander eienskap van die omgewing is dat dit heuwelagtig is en dat die lande nie vir myle aaneen strek nie, maar in kampe verdeel is. Dit beteken ook dat toerusting soos stropertafels en platsnyers tussen lande, deur hekke en op hobbelrige grondpaaie vervoer moet word.
Van die tafels weeg tot vyf ton en is in die ou taal 40 voet (12,2 m) wyd. Die masjiene is juis so groot sodat daar vinnig gewerk kan word, maar om nou so ’n bielie op sy eie wielietjies deur slaggate te sleep, is nie goed vir die masjien se toestand of sy baas se gemoed nie. By party modelle kan die stelle wiele draai sodat dit in die lengte gesleep kan word, maar die twee wiele in ’n stel is te naby aan mekaar om hindernisse soos middelmannetjies op grondpaaie te hanteer.
Piet Fiets het saam met die manne van Agri Afrika begin werk aan die ontwikkeling van ’n stropertafelkar spesiaal vir sy 35-voet (10,7 m) MacDon. Tussen die boere en die slim manne by Agri Afrika en AFRIT, die landboumaatskappy se vennoot wat goed bekend is in die vragmotorwêreld, is daar ’n plan gemaak.
’n Paar prototipes is op die plaas getoets voordat die ware Jacob vrygestel kon word.
“Daar was ’n hele paar uitdagings,” beduie Leonard Kennedy, Agri Afrika se verteenwoordiger in die streek. Die balk waarop die gewig van die tafel rus, is amper 10 meter lank en hy moet sterk genoeg wees om nie te buig of knak nie. Die kar moet egter ook daartoe in staat wees om skerp draaie by plaashekke in te hanteer.
Dan lyk alle stropertafels ook nie presies dieselfde nie en die kar moet aanpasbaar wees vir verskillende modelle.
Die uiteinde is ’n stewige plaaslik geboude Legend-tafelkar waarvan die voorste en agterste wiele stuurbaar is om in die spoor van die trekker te kan loop sonder om ’n hekpaal of twee saam te neem.
Die kar is geskik vir enige stropertafel en selfs mielie- of sonneblom plukkerkoppe. “Nou kan ons oes as ons moet oes,” sê Piet Fiets.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Met haar Massey op pad suidpool toe

Die slim platsnyer