in , ,

AGCO beweeg nader aan die boer

Hoe kan jy jou klante help as jy nie nou saam met hulle werk nie? Dit is die vraag wat AGCO gemotiveer het om nader aan hulle klante – boere – te beweeg.

“Ons doel is om nader aan ons boere te beweeg; dit is ons strewe wêreldwyd. Ons beweeg nader aan hulle deur meer met hulle te gesels. Ons wil hulle verstaan. Ons wil weet wat hulle behoeftes en vereistes is. Ons vra watter bydra ons kan lewer en watter oplossings ons kan bied,”

vertel Dominik Reus, besturende direkteur van AGCO Africa.

Op ՚n mediageleentheid by NAMPO het hy vertel hoe belangrik dit vir hulle maatskappy is om nader aan boere te beweeg sodat boere van krag tot krag
kan groei.

“Om nader aan ons boere te kom beteken dat ons twee goed gedoen het. Eerstens het ons herbedink hoe ons met ons handelaars werk. Ons wil hand-aan-hand met hulle as ons vennote werk om beter oplossings en diens aan boere te bied.

AGCO het op sy mediageleentheid by NAMPO verduidelik hoe hulle die boer die middelpunt wil hou van hulle onderneming. Vlnr: Felix Seitz, hoof van verkope, Thierry Lhotte, vise-president van Massey-Ferguson EME, Dominik Reus, besturende direkteur van ACGO Africa, en Lionel Coetzee, hoof van bemarking.

“In Oktober 2020 het ons die verspreiding van ons werktuie in Suid-Afrika oorgeneem. Dit beteken dat ons sedertdien sowel die vervaardiger eas die verspreider van ons werktuie is en ons kan nou regstreeks met ons handelaars werk. Dit bring ons ook heelwat nader aan die boer, omdat ons daagliks deur ons handelaars met hulle kommunikeer.

“Tweedens fokus ons baie op produkte en tegnologie wat die boer help om die uitdagings wat hulle in die gesig staar aan te pak. Hulle moet meer produktief wees, meer produseer en terselfdertyd winsgewend en volhoubaar wees,”

brei Dominik uit.

Van die uitdagings wat boere het, is ‘n wêreldwye voedseltekort en toenemende vereistes rondom regmatige hulpbronbestuur en volhoubaarheid, asook om die vermorsing van hulpbronne te bekamp. AGCO is bewus daarvan en het stappe gedoen om hierdie uitdagings saam met die boer aan te pak.

Om verbeterde brandstofverbruik in hulle werktuie te bevorder – veral in die huidige omstandighede – is net een hiervan. Die tegnologiese verbeterings wat AGCO maak stel die boer in staat om skaars hulpbronne meer doeltreffend te gebruik. Dit sluit tegnologie in soos doeltreffende enjins, ratkaste en dryfaste.

“Hierdie besparings is meer as net brandstofbesparing,” verduidelik Dominik. “Dit sluit ook algemene geldbesparing in omdat dit moontlik word om ander hulpbronne meer ekonomies te gebruik. Gidsstelsels, outomatiese bestuur en tegnologie soos balkseksiebeheer is voorbeelde hiervan omdat dit die boer help om kunsmis en chemiese stowwe meer presies toe te dien.”

Thierry Lhotte en Dominik Reus voor een van die Massey-Ferguson-trekkers wat by NAMPO uitgestal is.

Verskeie masjiene by NAMPO het met die kenmerke gespog. Die wye trekkerreeks kan aan sowel klein- as grootboere se behoeftes voorsien. “Van boere wat met gewasse boer tot veeboere en melkboere, daar is ՚n trekker wat elkeen kan help,” sê hy. “Omdat ons daagliks met boere werk deur ons handelaars, kan ons op verskeie maniere waarde toevoeg. Indien ՚n boer ՚n probleem ervaar wat sy handelaar nie kan oplos nie, kan ons uitreik en help. Ons kan met hierdie nuwe, nouer band die boer se behoeftes beter verstaan en beter daarin voorsien.”

Terugvoering regdeur die waardeketting is van die uiterste belang vir AGCO; vanaf die ontwerpstadium, waar hulle graag boere se vereistes wil vasvang, tot die einde van die werktuig se volle leeftyd.

“Om nader aan ons handelaars te werk beteken nie net dat ons boere kan help om die regte werktuig vir die regte taak aan te skaf nie, dit stel ons ook in staat om beter diens, onderdelevoorsiening en tegnologie te ontwikkel,”

sê Dominik.

“Ek bedank graag ons handelaars wat saam met ons hier is om saam met die boere te kan gesels,”

voeg hy by.

Vir meer inligting oor AGCO en hulle werktuie, besoek hulle webtuiste by www.agcocorp.com.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 2

Upvotes: 1

Upvotes percentage: 50.000000%

Downvotes: 1

Downvotes percentage: 50.000000%

Leave a Reply

Your email address will not be published.

Kry die beste by PIC: Wêreldleier in varkgenetika

FES takes the lead in Zambian land preparation solutions