in ,

Ry teen 10 sent per kilometer!

‛n Splinternuwe plaaslik vervaardigde tweewiel- of vierwielaangedrewe bakkie vir al jou plaasrywerk gaan op NAMPO vertoon word.

Die bakkie, met die blitsnaam, JOLT, se topspoed is 110 km/u, hy spog met allemintige wringkrag van 500 Nm, het amper geen onderhoud nodig nie, kan ‛n vrag van 750 kg dra en sy lopende koste is werklik 10 sent per kilometer!

En anders as wat ‛n mens sou verwag, is dit nie een van die bekende voertuigmaatskappye wat die bakkie vertoon nie. JOLT is die breinkind van Jaco Pieters van Rumax, wat landwyd bekend is vir sy uitstekende, bekostigbare voermaaktoerusting.

Jaco, wat sy loopbaan in landboumasjinerievervaardiging met die bou van ‛n hamermeule in die motorhuis begin het, het nog nooit teruggedeins vir nuwe tegnologie nie. Sy fabriek in Worcester spog met die nuutste rekenaarnumeriese beheertegnologie (CNC) en hy gebruik selfs driedimensionele drukwerk in sy vervaardigingsproses.

“Energie is die uitdaging van die toekoms,” sê Jaco. Hy speel al lank met die gedagte dat boere die voordeel van elektriese voertuigaandrywing moet kan benut en is nou gereed om by NAMPO sy eerste elektriese bakkie EN motorfiets te wys.

Die motorfiets sal 80 km/u kan ry, het 80 Nm wringkrag en sal so 80 km ver kan ry voor die battery herlaai moet word. Jy kan nog ‛n battery bysit om verder te ry.

Die bakkie sal 300 km ver kan ry voor dit nodig is om die batterye te herlaai. Jy kan hom laai deur ‛n verlengkoord by ‛n muurprop in die skuur in te prop. Die batterye sal 2 000 keer herlaai kan word voordat hulle doeltreffendheid begin afneem. Dit is ook moontlik om meer batterye in die voertuig te sit om verder te kan ry.

Die aandrywing geskied deur ‛n elektriese motor in elke wiel.

Jaco sê: “Ons het gekyk hoe ver ry boere gewoonlik met hulle plaasbakkies en dit is so ontwerp dat ‛n boer omtrent ‛n week lank sal kan ry voor hy moet herlaai.”

Die bakkies is nog nie gereed om wettig padlangs te ry nie, want die tegnologie het die regulasies so bietjie vooruit geloop.

Jaco sê daar is nog ‛n paar voordele waarna boere kan uitsien, benewens die lae lopende koste. Aangesien daar geen olie- of lugfilters is nie, is normale versiening ‛n vreemde begrip. Die bakkie het gewone wiele en die bande is standaard 15 duim.

Jy sal nooit bang hoef te wees dat die warm uitlaatpyp die veld aan die brand gaan steek nie, want daar is geen warm uitlaatpyp nie!

Die bakkie kan ook baie goed vir jagtogte gebruik word of om patrollie te ry, want dit glip doodstil deur die veld of padlangs. Daar is ook geen probleem met middelmannetjies nie, want die bakkie loop hoog en is net so breed soos ‛n gewone bakkie.

Die motorfiets sal ook lekker deur die veld kan ry sonder enige irriterende geraas. Die bakwerk van die bakkie en motorfiets word van duursame veselglas gemaak, wat lig en taai is.

Gaan kyk by NAMPO by E22b hoe lyk die JOLT en praat solank met die bankbestuurder om so R300 000 gereed te hou. Vir meer besonderhede oor die nuwe ontwikkeling of oor Rumax se volledige reeks staatmakerprodukte, stuur n e-pos aan jaco@rumax.co.za of skakel hom by 082-335-3970.

 

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

smith power

Smith Power Equipment bied veelsydige oplossings vir Laeveldboere

Die Meganisasiegids sorg vir harmonie op die plaas