in , ,

2022 Isuzu D-Max: Nommer 7 uiteindelik hier

Isuzu-bakkieliefhebbers in Suid-Afrika moes lank wag, maar die sewende geslag van die gewilde D-Max, voorheen die KB, is uiteindelik plaaslik bekendgestel. Soos voorheen sal drie bakvorms beskikbaar wees, naamlik ՚n enkelkajuit, ’n anderhalfkajuit (“Extended Cab”) en ՚n dubbelkajuit.

Die 2022-reeks word plaaslik met twee enjinkeuses beskikbaar gestel: ’n Heel nuwe 1,9-liter diesel asook die bestaande 3-liter diesel. Die 1,9-liter turbo-dieselenjin lewer 110 kW teen 3 600 opm met ’n piekwringkrag van 350 Nm wat tussen 1 800 en 2 600 opm beskikbaar is.

Die bestaande drieliter-turbodieselenjin uit vorige geslag D-Max is omvattend hersien vir die nuwe model, nou met minder skadelike uitlaatgasse en beter brandstofgebruik. Van die verbeteringe is die nuwe turbo-aanjaer met verhoogde turboreaksie en ՚n meer doeltreffende, laewrywingontwerp wat grootliks bydra dat die enjin nou 140 kW (10 kW meer) teen 3 600 rpm met 450 Nm (70 Nm meer) piekwringkrag tussen 1 800 en 2 800 opm bied. Die nuweling kom met ՚n keuse van ՚n hand- of outomatiese ratkas met ses gange elk.

Vir die 2022 D-Max-reeks het Isuzu splinternuwe afwerkingsvlakke gekies. Die enkelkajuit bied die keuse tussen ՚n standaardmodel en ՚n L, en is net met die 1,9-liter-enjin beskikbaar.

Die standaardmodel word met die volgende kenmerke toegerus: staalvellings met 205R 16C -bande, ՚n AM/ FM-radio met ՚n straalplaatspeler en Bluetooth-verbinding, ՚n USB-kragpunt, handbeheerde lugversorging en materiaalbekleedsel vir die sitplekke.

Die L, wat beskikbaar is as ՚n 4×2 en ՚n 4×4 en die keuse van die hand-of outomatiese ratkas bied, voeg die volgende kenmerke by: Sentrale sluiting met afstandbeheer, staalvellings met 255/65 R 17-bande, elektriese vensters, ՚n veelfunksiestuurwiel en ՚n middelkonsole met ՚n deksel tussen die sitplekke.

Die anderhalfkajuit is beskikbaar as ՚n standaardmodel, asook ՚n L, LS en LSE.

Die standaardmodel en die L is net met die 1,9 liter-enjin en handratkas beskikbaar. Die LS is ook net met die 1,9 liter-enjin beskikbaar, maar met die keuse van die hand- of outomatiese ratkas.

Die LS se bykomende kenmerke sluit die volgende in: ՚n Seweduim-raakskerm met Android Auto en Apple Car Play, WiFi-verbinding, ՚n USB-kragpunt agter in die kajuit, ՚n veelfunksiestuurwiel wat met leer oorgetrek is, asook ՚n oorhoofse konsole met kaartleesliggies en plek vir ՚n sonbril. Die buiteafwerking van die LS bevat kleurgekodeerde deurhandvatsels, kleurgekodeerde stampers voor en agter, halogeen-kop- en dagryligte en misligte asook ՚n metaalgrys sierrooster en swart kanttrappies.

Die LSE is net met die drieliterenjin en outomatiese ratkas beskikbaar en bied die keuse tussen ՚n 4×2 en 4×4. Die LSE se bykomende kenmerke sluit die volgende in: ՚n chroom-sportstaaf agter die kajuit, chroomafwerking vir die buitespieëls, deurhandvatsels en sierrooster, ՚n rolstaaf en dakspore asook ՚n negeduim-raakskerm en outomatiese dubbelsone-klimaatbeheer.

Die meerderheid van die reeks is dubbelkajuite en die volgende modelle is beskikbaar: Drie L-modelle, vier LS-modelle, twee LSE-modelle asook ՚n nuwe vlagskip, naamlik die V-Cross waarvan twee weergawes, naamlik ՚n 4×2 en 4×4 met die outomatiese ratkas beskikbaar is.

Die L is beskikbaar as ՚n 4×2 of 4×4 met die outomatiese ratkas of ՚n 4×4 handrat. Die LS bied albei enjinkeuses; daar is ՚n 1,9-liter 4×2 handrat en outomaties, asook ՚n drieliter 4×4 met die keuse van albei ratkaste. Die LSE en V-Cross is net beskikbaar met die drieliterenjin en die outomatiese ratkas, maar voornemende kopers kan tussen ՚n 4×2 en 4×4 kies.

Die V-Cross is die nuwe vlagskip van die reeks en bied die volgende bykomende kenmerke: donkergrys agttienduim-allooiwiele, donkergrys afwerking vir die deurhandvatsels, voorstamper, uitgeboude modderskerms, sierrooster en sportstaaf asook grys kanttrappies. Aan die binnekant is daar leerbekleedsel en voorsitplekke met agt elektriese verstellings, klavierswart afwerking vir die binneruim en ՚n digitale instrumentepaneel wat volgens die bestuurder se behoeftes aangepas kan word.

Die nuwe D-Max is baie veiliger as sy voorgangers en die volgende kenmerke is standaardtoerusting, selfs vir die intreemodelle: Sluitweerremme met noodremhulp en elektroniese remkragverspreiding, wegtrek- en afdraandehulp, sleepswaaibeheer en twee lugsakke.

Die L-modelle word met presies dieselfde kenmerke toegerus, maar ՚n alarmstelsel met afstandbeheerde sentrale sluiting word bygevoeg, asook ISOFIX-hegpunte vir die agtersitplekke van die dubbelkajuit.

Die LS spog met ՚n trukamera, agterste parkeersensors en sewe lugsakke.

Die LSE voeg die volgende kenmerke by: ՚n banddrukmonitor, ՚n blindekolmonitor, ՚n agterste dwarsverkeermonitor, sleutellose toegang met ՚n aansitknoppie asook outomatiese ruitveërs en outomatiese ligdiode-kopligte.

Die V-Cross doen sy reputasie as vlagskipmodel gestand deurdat ՚n intelligente bestuurshulpstelsel standaardtoerusting is: Hierdie stelsel bevat onder meer die volgende kenmerke: ՚n Stereo-kamera met radartegnologie, voorbotswaarskuwing, outonome noodremhulp, aanpasbare spoedbeheer, ՚n stelsel wat moegheid by die bestuurder bespeur, baanhouhulp, baandwaalwaarskuwing en aanpasbare spoedbeheer. Daar is ook ՚n veelvuldige botsremstelsel wat as Multi Collision Brake bekend staan; die remme word dadelik geaktiveer sodra die lugsakke ontplooi word; dit verhinder ook dat die voorste insittendes se koppe aan mekaar raak.

Pryse vir die 2022 Isuzu D-Max reeks, wat ‘n waarborg van vyf jaar of 120 000 km en ‘n diensplan van 90 000 km insluit, is as volg:

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Leave a Reply

Your email address will not be published.

Visit Staalboer at NAMPO 2022

Corteva Agriscience invests in Africa Middle East seed treatment capability