in

2019 TOYOTA COROLLA: ‘n Legende is terug!

toyota corolla

This post is also available in: English

Deur DIRK GALLOWITZ van Ultimate Drive

Dink maar terug aan die Toyota’s van weleer en name soos die Conquest, Tazz en RunX sal onwillekeurig herinneringe oproep van gewilde en geliefde Toyota luikrue wat hardebaard, taai en betroubaar Suid-Afrikaanse paaie plat gery het. 

Meer onlangs het die Auris probeer om daardie rol te vervul maar kon, ten spyte van goeie bougehalte en goeie Toyota-gene, net nie die mas opkom nie.

Nou het Toyota die luikrug teruggebring na SA met die legendariese Corolla kenteken daarop en nadat ons die nuweling onlangs op die Suid-Afrikaanse mediabekenstelling in die Kaap gery het, is ons oortuig die nuwe Corolla gaan voortbou op die sukses van die Toyota luikrug legendes van weleer.

Die nuweling is gebou op die Toyoto New Global Architecture (TNGA) onderstel en is langer, laer en meer elegant as die Auris-model wat dit vervang.  Die nuwe ontwerp tref met moderne, bykans futuristiese trekke buite en binne die kajuit.  Aan die voorkant is dit veral die skerp hoeke en sterk lyne van die kenmerkende sierrooster van die nuwe geslag Toyota’s wat die oog vang.  Die moderne ontwerp vertoon sportief en aggresief wat verder versterk word met LCD hoofligte en geïntegreerde dagliggies.

Agter beklemtoon die voorkoms Toyota se nuwe moderne ontwerpfilosofie en tref met bultende  rondings en moderne lyne.  Die agterklapvenster is meer gerond as ooit en die LED agterligte is op die buitenste hoeke geplaas om die motor se breë plat voorkoms te beklemtoon.  Die drukvin hoog bo-op die agterklap met ‘n haaivin antenna asook die swart lugskort laag in die agterste buffer draai by tot die nuweling se sportiewe voorkoms.  Ons is veral beïndruk met die nuwe “Oxide Bronze” bakkleur, terwyl ‘n “Scarlet Metalic”  rooi en “Carribean Blue” ook nuwe opsies tot die standaard bakkleure voeg.

Binnekant is die nuwe Corolla luikrug self ‘n groter treffer met ontwerp, ergonomie en bougehalte.  Geen wonder, want die toegewyde span ghoeroes wat Toyota Motors se Europese gehalte moet bepaal en wie ook verantwoordelik was vir die C-HR se bekroonde binneruim, het seker gemaak die nuweling se kajuit steek nie af by die beste wat Europa se Motorreuse kan produseer nie.  Die kajuit bied genoeg ruimte vir vyf insittendes wat nou selfs lang ritte in gerief kan geniet.

Die Xr-modelle is toegerus met pragtige sportsitplekke in Alcantara beklee wat breë skouers ondersteun en waarvan die ruglening se kante om die bolyf vou en dit vashou wanneer daar teen hoë spoed deur draaie gery word.  Die agtersitplekke kan heeltemal gelyk met die laairuimte platvou.

Tydens ons bekenstellingsrit deur die Boland en oor die pragtige maar uitdagende Bainskloofpas, het die nuwe Corolla luikrug verras met paddinamika, greep en balans wat eerder verwag kan word van veel duurder en kragtiger blitsbukse.

Die nuwe TNGA platform vorm die basis vir alle toekomstige Toyota’s wat ontwikkel gaan word en in die nuwe Corolla-reeks staan bekend as die GA-C, wat verantwoordelik is vir die nuweling se uitstekende padgedrag en besonder goeie hantering.  Nie net sorg die GA-C vir ‘n beduidende gewigsverlies by die Corolla luikrug nie, dit het ook tot gevolg dat die onderstel tot 60% meer rigied is en ‘n laer gravitasiepunt daar stel wat gesamentlik sorg vir mimimale bakrol deur draaie en optimale greep.  Agter doen ‘n veelskakel veerstelsel diens, terwyl ‘n nuut ontwerpte skokbrekerklep-ontwerp vir voor en agterskokbrekers bydra tot ‘n gladder en meer gerieflike ritgehalte.  ‘n Verdere voordeel is die stuurstelsel wat nou meer akkuraat is met beter terugvoer na die bestuurder.

Die 2019 Corolla Luikrug word aangedryf deur dieselfde 1.2  turbo viersilinder petrolenjin wat ook diens doen in die C-HR.  Die enjin lewer 85 kW en ‘n konstante wringkrag wat piek by 185Nm tussen 1,500 en 4,000 toere. Krag word na die voorwiele gestuur deur ‘n uitstekende 6-spoed handratkas met lekker kort oorgooie.  Alternatiewelik is daar ‘n nuwe CVT palwisselkas wat Toyota die “Sport Sequential Shiftmatic Continiousluy Variable Transmission” noem.  Hierdie CVT is geprogrammeer om 10 “ratte” na te boots en is seker die beste CVT-kas wat ek in die onlangse verlede ervaar het.

Deur die kort uitdagende draaie en kronkels van Bainskloof het ek die Coraolla tot die uiterste probeer beproef en die CVT het briljant gereageer.  In “handratkas”-modus kon ek die remme aanhelp deur “af te rat” terwyl die CVT die “rat” gehou het as ek toere hoog wou hou wanneer ek die motor deur die draaie en swiepe gelooi het.

Die 0 – 100 kpu lopie neem 9,5 sekondes in die handrat terwyl die CVT ‘n tyd van 10,4 sekondes behaal.  Topspoed vir die handrat is 200 kpu met die CVT wat by 190 kpu uitasem raak.  Amptelike brandstofverbruik word aangegee as 6,1 liter per 100 km vir beide modelle.

Die nuwe Corolla kom toegerus met ‘n lang lys van aktiewe en passiewe veiligheidstoerusting.  Daar is ondermeer sewe lugsakke vir die bestuurder en voorste passasiers wat kant, gordyn en knielugsakke insluit.  Stabiliteitsbeheer asook ABS, EBD, remhulp en heuwelwegtrek hulp kom as deel van die standaard toerusting.  Ook so die ISOFIX hegpunte vir die kinders se veiligheidstoeltjies.

Die nuwe Corolla luikrug gaan baie harte wen. Die binneruim herinner my aan die klasleidende Corolla twincam 16v GLi Executive van die vroeg negentigs en kom met paddinamika en greep wat belofte van heerlike verrigting en meer krag oproep. Die Corolla legende is voorwaar terug!  

Alle Corolla luikrug modelle word verkoop met ‘n 6 dienste/90 000 km diensplan asook ‘n 3 jaar/100 000 km waarborg.  Dienste word elke 12 maande/15 000 km gedoen.

Pryse :

Corolla Luikrug 1.2 T Xs 6 spoed handrat              =             R336 800

Corolla Luikrug 1.2 T Xs CVT                                      =             R347 400

Corolla Luikrug 1.2 T Xr CVT                                      =             R367 100

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

NERSA se tariefbesluite sal boere seermaak

ProAgri 229