in

2019 RENAULT KOLES: ‘n Praktiese en bekostigbare ou grote

renault koleos

This post is also available in: English

Deur Dirk Gallowitz van Ultimate Drive

Renault het besluit om sy relatief duur en weelderige Kadjar uit die mark te onttrek en het in die plek daarvan die Koleos uit sy Samsung stal in Suid-Korea gaan haal. Nou as die Koleos vir jou bekend klink, is jy nie te ver van die spoor af nie. Renault het ‘n Koleos model in die vroeë 2000’s plaaslik gehad wat net nie die mas kon opkom nie. 

Alhoewel die destydes Koleos heerlik gery het, was die stilering omtrent so aanvaarbaar soos lou bier op ‘n warm dag langs die krieketveld terwyl die Proteas deur Zimbabwe gelooi word.

Die nuweling ding in die Sportsnuts arena mee met onder meer die Hyunda Tucsan, Honda CR-V, Ford Kuga, VW Tiguan en Nissan se X-trail, terwyl dit met ‘n wielbasis van 2,710 mm en totale lengte van 4,670 mm die grootste in sy klas is. Die ruim Koleos is plaaslik beskikbaar in drie modelle naamlik die voorwielaangedrewe basis model “Expression” en twee weergawes van die luukser “Dynamique” wat met 4 x 2 en 4 x 4 aandrywing toegerus is.

Al die modelle gebruik ‘n CVT-tipe outomatiese ratkas en slegs ‘n 2.5 l vier-silinder petrolenjin word gebruik wat 1.26 kW en 233 Nm lewer.  Brandstofverbruik word amptelik aangegee as 8,1 liter per 100 km. Van buite is stilering hoeking met ‘n bakwerk soortelyk aan die X-trail. Van voor het die neus- en sierrooster ontwerp sterk ooreenkomste met die jongste geslag Megane terwyl agter die Koleos modern vertoon met uitlaatpype wat netjies in die buffer geïntegreer is en die agterligte treffend ontwerp is. Beide die hoofligte en agterligte gebruik volledige LED-tegnologie vir groter doeltreffendheid in die donker.

Binnekant is die ruim kajuit verrassend luuks en treffend modern met 34 stoorplekke vir bottels en allerhande megêfterjies. Die voorste bekerhouers tussen die sitplekke het opsies om die drinkgoed warm of koel te maak, terwyl die 7 liter kapasiteit van die kassie tussen die voorste sitplekke ‘n paar lafenissie vir die pad kan stoor. So ook vir die voorste paneelkissie wat 11 liter se bêreplek bied.

 Sagte leerbekleedsel in die Dynamique modelle is mildelik aangewend wat die kajuit ‘n heerlike weeldegevoel gee en bydra dat die sitplekke heerlike gerief en steun aan vyf volwassenes bied met ‘n klasleindende 29cm beenspasie vir die agterste passasiers.  Die groot laairuim van 700 liter kan verder vergroot word na 1795 liter as die agterste ry sitplekke se ruglenings (60/40) in ‘n japtrap platvou deur bloot ‘n knip te trek.  Onder die laaivloer is ‘n volgrootte spaarwiel netjies ingepas.

Wat indruk wek is die groot A4 grootte 8.7’ tablet raakskerm met hoë definisie kleurbeelde en Renault se R-Link2 funksionaliteit. Die skerm is vertikaal geposisioneer en bied toegang tot al die rit en voertuig inligting, kommunikasie- en klankstelsels asook  die kamerabeelde van die tru-kamera.  Ook SatNav wat met stemopdragte kan werk is standaard in die topmodelle. Die stelsel werk intuitief maklik en kan ook met veegbewegings van die vingers gemanipuleer word.  Die instrumente paneel se toereteller en spoedmeter is digitaal.  ‘n Netjiese stuurwiel met afstand beheerskakelaars vir die spoedbeheer kan teleskopies en op- en af verstel word.  Tipies Renault is die skakelaars vir klankbeheer en radio op die stokkie gemonteer regs agter teen die stuurkolom. Elektriese beheer vir die vensters, kantspieëls en bestuurdersitplek is standaard op die Dynamique-modelle.  So ook klimaatbeheer, ses USB-koppelpunte en ‘n SD kaargleuf.

Die nuwe Koleos is ook omvattend toegerus met passiewe en aktiewe veiligheidstelsels en het derhalwe ‘n vol  5-ster EuroNCAP veiligheidsgradering in 2017 tydens botstoetse verwerf.

Op die pad word die bestuurder  gehelp met ondermeer stelsel soos ABS  remme, EBD (elektroniese remkrag verspreiding), ESP (elektroniese stabiliteitsbeheer) en EBA (Elektroniese remhulp) asook parkeerhulp wat gonsers en ‘n trukamera insluit. Uiteraard is daar ook ses lugsakke wat insittendes voor en langs die kante beskerm tydens impak met ‘n botsing asook ‘n gonser om te waarsku waaneer ‘n ander voertuig in die bestuurder se blindekol binnery.

Die nuwe Koleos se misligte skyn ook om die hoek na die rigting waarna die voorwiele gestuur word wanneer daar om draaie gery word.

Tydens die bekenstellingsrit op sopnat modderpaaie na ‘n week se indringende reën in Gauteng, het die Koleos se hantering en ritdinamika beїndruk.  Die onderstel het gladde paaie, modderpoele en watergevulde slaggate met die grootste gemak hanteer.  Ek  is gewoond aan die bogemiddelde ritgehalte waarmee Franse motorvervaardigers bekend geword het, maar die Koleos het my verwagtinge oortref.

CVT ratkaste sal seker nooit my gunsteling wees nie, maar Renault kon dit met die nuwe Koleos regkry om met behulp van slim sagteware die ergste frustrasie te elimineer  wat gewoonlik CVT’s kenmerk en het die CVT in die Koleos byna soos ‘n gewone outomatiese ratkas gevoel wanneer ek die ratpedale agter die stuur gebruik het om die ratte te “wissel”.

Met die 4 x 4 model kan uit drie ritmodusse gekies word, waar die motor se rekenaar kies hoeveel krag na die voor- en agterwiele gestuur word. Kies jy 2WD word al die krag na die voorwiele gestuur vir die bes moontlike brandstofverbruik. Met 4WD AUTO kies die stelsel die beste program na gelang van die padoppervlakte en greep van die wiele en versprei die krag tussen die voor- en agterwiele tot ‘n maksimum van 50 persent voor en agter indien nodig.

Wanneer daar egter op grondpad en in die veld gery waar modder en sand oppervlaktes getrotseer word, kies liefs die 4WD LOCK opsie waar die stelsel in permanente vierwieltrek geskakel word tot ‘n maksimum van 40 kpu waarbo die stelsel outomaties die viertrek-modus afskakel. Met ‘n 210 mm grondvryhoogte ry die Koleos heel gemaklik oor die meeste plaaspaaie se middelmannetjies.

Die nuwe Renault Koleos is standaard indrukwekkend toegerus met uitstekende afwerking vir ‘n besonder goeie waarde-vir-geld prys. Met die padgedrag , ritgehalte en ruim kajuit behoort hierdie praktiese ou grootte binnekort die gunsteling familiewa te wees.

Pryse:

Koleos Expression           R399 900

Koleos Dynamique          R439 900

Koleos ynamique 4×4     R479 900

Ingesluit by die verkoopprys van die nuwe Renault Koleos is ‘n 5-jaar/150 000 km meganiese waarborg, ‘n 5 jaar/ 90 000 km diensplan en ‘n 6-jaar anti-roes waarborg. Dienste moet elke 15 000 km gedoen word.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Hoe mededingend is die Suid-Afrikaanse sojaboonbedryf?

wol

Wolmark styg