in ,

2019 Porsche Cayenne S: Brandrissie warm op teer en grond

porsche

This post is also available in: English

Deur Dirk Gallowitz van Ultimate Drive

Porsche se derde generasie Cayenne, ‘n sportiewe sportsnuts was laasjaar plaaslik bekendgestel en is ook aangewys as ‘n finalis in die gesaghebbende 2019 Autotrader Suid-Afrikaanse Gilde van Motorjoernaliste se Motor van die Jaar kompetisie.

Die nuweling is omvattend verbeter op die uitgaande model wat wȇreldwyd uiters gesog en gewild geword het ten spyte van skeptisisme onder Porsche puriste dat luukse sedanmotors en SUV’s nie in die Porsche-stal hoort nie .

Die eerste generasie Cayenne was Zuffenhausen se eerste vierdeur sandtrapper en is aangedryf deur ‘n V8 petrolenjin, die eerste sedert die 928 modelle. Ons toetsmodel was die Cayenne S, toegerus met ‘n 2,9 liter dubbelturbo petrolenjin wat 324kW (15kW meer as die uitgaande model) en 550Nm lewer. Hierdie krag word na al vier wiele gestuur deur ‘n 8-spoed Tiptronic “torque converter” ratkas, wat elektronies geprogrammeer is om dubbelkoppelaar-tipe oorskakeling te simuleer vir seepgladde verrigting op die ooppad sowel as in stedelike verkeer. Die kombinasie stel die nuwe Cayenne S in staat om die 0- 100 kpu in 5,2 sekondes af te blits en indien toegerus met die opsionele Sport Chrono pakket soos ons toetsmodel, is die lopie selfs vinniger teen 4,9 sekondes. Inderdaad verstommende verrigting  vir ‘n vierwielaangedrewe sportsnuts wat twee ton weeg!

Porsche se witjasse het die die derde generasie Cayenne omvattend vernuwe. Vir die leke oog is die voorkant oënskynlik onaangeraak gelaat, maar skuins van die agterkant beskou vertoon die nuweling vars, modern en sportief. Die groot luginlate voor, nuwe en groter wielontwerp en die dubbelle uitlaatpype agter dra alles by tot ‘n sportief aggressiewe voorkoms. Die meeste sigbare veranderinge is egter binne  die kajuit van die nuwe Cayenne S aangebring.  Eerste indrukke is modern maar steeds uitstekend afgewerk, minimalisties en tog sportief weelderig. Die nuutste kommunikasietegnologie en elektronika met digitale instrumentasie is gebruik veral met die skakelaars op die middelkonsole en die instrumentasiepaneel. Die groot 12.3” hoë definisie inligting- en vermaak raakskerm stel ‘n nuwe standaard in die segment en werk intuїtief maklik. ‘n Klein stuurwiel met skakelaars vir die klank, spoedbeheer en telekommunikasie, vertoon sportief en kan hoogte en teleskopies verstel. Ook die groot sport sitplekke vertel van die Cayenne se sportiewe gene.

Hantering is uitsonderlik sportief vir so ‘n swaar wa. Danksy die Volkswagen groep se modulȇre MLBevo platform wat ook diens doen in ondermeer die Bentley Bentayga en Lamborghini Urus, is die rit verbasend sag, dit ten spyte van groot lae-profiel bande en ‘n sportiewe veerstelsel vir wanneer die Cayenne S se uitstekende paddinamika en hantering op die proef gestel was. Porsche se uiters doeltreffende 4D Chassis Control stelsel speel uiteraard ook hier ‘n groot rol. Ook die aluminium multi-skakel vering agter wat in samewerking met die “Porsche Active Suspension Management”- stelsel uitstekend werk, veral wanneer die Cayenne S deur die knap draaie en swiepe van die Kaapse bergpasse gelooi is. 

Stuurgevoel en terugvoer is na my mening klasleidend met akkuraatheid en presisie soortgelyk aan rasegte sportmotors, veral wanneer die ratkas in Sport en Sport+- modusse gery word. Die opsionele Sport Chrono pakket waarmee ons toetsmodel toegerus was, kom met ‘n “overboost”- skakelaar waarmee ‘n verdere kragimpuls vir 20 sekondes geaktiveer kan word. Die nuwe Cayenne S is nie net rissiewarm op die teer nie, maar is heel gemaklik op die grondpad met uitstekende greep en padhouvermoë wanneer die ratkas in “Off-road”- modus gestel word.

Porsche het dit weereens reggekry om ‘n klasleidende voertuig in sy segment te bou met die derde generasie Cayenne S. Nie net is die nuwe Cayenne prakties en familievriendelik nie, dit bied verrigting wat menige sportmotors sal troef, kan vyf insittendes in groot gerief en weelde vervoer en kan selfs op die grondpad baljaar! Die Cayenne S is nie goedkoop nie, maar kompeteer prysgewys uitstekend met soortgelyke verrigting SUV’s beskikbaar in SA, maar die Porsche naam reputasie klop die teenstanders gewoonlik met bogemiddelde terugkoopwaarde.  ‘n Pakket wat inderdaad moeilik is om te klop.

Die nuwe Porsche Cayenne S verkoop in Suid-Afrika (September 2018) vir R1 296 000 en sluit in Porsche SA se 3-jaar/100 000 km Drive Plan.

What do you think?

1 point
Upvote Downvote

Total votes: 1

Upvotes: 1

Upvotes percentage: 100.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Die jongste weervoorspelling

2019 Nasionale Begrotingsrede – ’n geleentheid om na beste praktyk terug te keer