in ,

2018 VOLVO XC 60: ELEGANTE SWEED IN ‘N STYLVOLLE JAS

This post is also available in: English

Deur DIRK GALLOWITZ van Ultimate Drive

Hedendaagse Volvo-motors gedy onder die eienaarskap van die Chinese Geely motormaatskappy. Nie net is die jongste Volvo’s stylvol in ontwerp nie, die afwerking en bougehalte binne en buite tref met elegansie en ‘n onderbeklemtoonde weelde.

Die nuwe XC60 is Volvo se middelkind sportnuts wat netjies inpas tussen die bekroonde XC90 (‘n jaar of wat gelede Suid-Afrikaanse Gilde van Motorjoernaliste se gesaghebbende Motor van die Jaar) en die oulike en baie gewilde XC40. Die 2018 XC60 is die tweede generasie XC 60 en is vroeër  vanjaar welverdiend aangewys as Wêreld Motor van die Jaar. Die pragtige SUV is in Mei 2018 plaaslik bekendgestel kort op die hakke van sy XC40 kleinboet. Sedert die eerste bekendstelling van die XC60 nege jaar gelede het die Sweedse sportnuts wȇreldwyd meer as een miljoen eenhede verkoop wat ongeveer 30% van Volvo se totale globale verkope was. Die XC60 is Europa se topverkoper middelslag es-joe-wee en is die Volvo-model wat die meeste verkoop in Suid-Afrika. Die XC60 boks teen sterk teenstanders in die middelgrootte weelde SUV segment, met veral die Duitse trio naamlik  Audi Q5, BMW X3 en Mercedes GLC wat domineer.

Die Sweed se elegansie bring egter ‘n vars alternatief na hierdie hoogs kompeterende arena.

In Suid-Afrika is die nuwe XC60 beskikbaar met twee dieselenjins (D4 en D5) en twee petrolenjins (T5 en T6) wat almal met ‘n 8-spoed outomatiese ratkas toegerus is om krag deur al vier wiele na die pad te stuur. Drie afwerkingsvlakke is beskikbaar naamlik die intreevlak “Momentum”, ‘n Sportpakket bekend as die “R-Design” en die “Inscription” topmodel.

Ons het onlangs die D5 model in die luukse “Inscription” afwerkingspakket vir ‘n week onder hande gehad en was behoorlik beïndruk met die elegante Sweed.

volvo

Die nuwe XC60, soos met die XC40, vertoon nou meer konserwatief. Die wigvormige ontwerp van die eerste generasie het plek gemaak vir ‘n stasiewa-agtige kajuitontwerp met ‘n mooi Hofmeister-knak nader aan die D-pilaar, terwyl die diep keeplyn onder teen die deure sterk ooreenkomste met die XC40 toon. Nuwe hoofligte asook nuutontwerpte agterligte tref visueel en gee aan die nuweling ‘n varser, meer moderne voorkoms. Ek verstout my om te sê dit is na my mening die mooiste SUV in sy segment met Lexus se NX wat ook sterk kompeteer vir die eerste prys.

Soos met die S90 sedan, die V90 stasiewa en groter XC90 sportnuts, ry die nuwe XC60 nou ook op Volvo se nuwe SPA-platvorm (Scalable Platform Architecture) wat sorg vir ‘n veel meer sublieme ritgehalte op teer sowel as grondpad. Ek was aangenaam verras met die paddinamika, greep en balans van die XC60 as die draaie en swiepe met entoesiasme aangepak word. Selfs op grondpad was die XC60 vasvoet met die veerstelsel wat sinkplaat en slaggat impakte ewe gemaklik kon absorbeer. Terwyl al die modelle oor vierwielaandrywing beskik, word enjinkrag na die wiele gestuur soos wat rystoestande dit vereis. Op die grondpad het die rekenaarstelsel meestal die krag na al vier wiele gekanaliseer, terwyl met gewone teerpadry aandrywing grotendeels deur die voorwiele geskied. Ons toetsmodel was met  die opsionele lugvering opsie toegerus wat ook bygedra het tot die XC60 se uitstekende ritgehalte en hantering. Terloops die silinders wat die lugvere beheer is agter in die vloer onder die laairuimte gemonteer. Die stelsel laat ook toe om, met die druk van ‘n skakelaar wat agter teen die binnekant van die laairuim gemonteer is, die XC60 se bak te laat sak wanneer daar goedere in die bagasieruim gelaai moet word.

volvo

Die kajuit, soos by al die nuwer generasie Volvo-motors, is minimalisties en met skoon lyne ontwerp en luuks toegerus. Ons toetsmodel se wit leerafwerking en ligte houtpanele het bygedra tot die “skoon”  voorkoms. Digitale spoedmeter en toereteller agter ‘n smaakvol ontwerpte stuurwiel het die moderne aanslag in die XC60 se kajuit beklemtoon. Die voorste paneel word visueel oorheers deur die vertikaal geplaaste bykans A4 skryfbladgrootte tablet-agtige info-raakskerm waarop alle inligting-, klank- en kommunikasiestelsels bedryf word. Die sateliet navigasie, parkeerkamerabeelde, radio- en ritinligting en klimaatbeheer vir voor en agter word hier vertoon deur bloot jou vinger te gebruik om van bo na onder of sywaarts te “blaai” soos met hedendaagse slimfone die gebruik is. Die stelsel werk intuїitief en is gebruikersvriendelik wanneer jy met al die opsies vertroud is. Die “Inscription” afwerkingpakket is omvattend in standaardtoerusting wat elektriese sitplekke, panoramiese glas en sondak, leerbekleedsel, ruitinligting,  outomatiese ligte en ruitveërs. Ons toetsmodel was ook toegerus met die opsionele sitplekmassering, selfparkeerstelsel en 360˚kamerabeelde.

Volvo het die nuwe XC60 ook omvattend toegerus met ‘n hele rits aktiewe en passiewe veiligheidstelsels asook bestuurderhulpstelsels. Daar is ’n blindekolgonser met waarskuwingsligte in die kantspieëls wanneer ‘n voertuig links of regs verbygaan. Die stuurwiel wat ferm terugdruk as jy per abuis uit jou baan “gly” werk uitstekend, terwyl die stelsel jou ook aanraai om te rus wanneer dit deur middel van jou bestuurstyl agterkom jy raak effe moeg. Afstandbeheer wanneer die spoedbeheer aangeskakel is rem as jy op die ooppad die voertuig voor jou te vinnig nader, terwyl die stelsel ook waarsku en vanself rem wanneer dit blyk dat ‘n botsing moontlik raak. Ook die waarskuwingalarm wanneer die stelsel die moontlikheid van ‘n voetganger wat voor die motor mag inloop voortydig “raaksien”. Daar is talle meer van hierdie stelsels wat Volvo pioniers gemaak het in proaktiewe veiligheidstelsels, wat as standaardtoerusting by die nuwe XC60 te vinde is om dit een van die veiligste motors nog te maak. Soveel so dat tydens die XC60 se Euro NCAP botsveiligheidstoetse in 2017 het  dit die hoogste telling behaal van alle nuwe voertuie wat getoets was met ‘n byna voltelling van 98% in die kategorie vir volwasse insittendes.

Die nuwe XC60 D5 word aangedryf deur Volvo se 2,0 liter viersilinder turbodieselenjin wat in die D5 173kW se krag lewer met 480Nm wringkrag. Die dieselenjin is heerlik stil met gladde en wakker verrigting danksy die 8-gang outokas wat seepglad oorskakel.  Volvo se amptelike petrolverbruik word aangegee as 5,5 liter/100 km, maar ons syfer het so by die 8 liter/100 km gedraai grootliks weens my swaar regtervoet.

Die 2018 Volvo XC60 D5 Geartronic AWD Inscription verkoop vir R776 800.

volvo

What do you think?

1 point
Upvote Downvote

Total votes: 1

Upvotes: 1

Upvotes percentage: 100.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Bokhaarmark trek voordeel uit swak rand

Wolmark styg weer