in ,

Word deel van die Hilux-familie…dis lekker

Hilux

Dit is lekker om deel van die “in”-groep te wees! Met die vriendelike ondersteuning van Pat Hinde Toyota Springs blaf ProAgri nou saam met die groot honde. ’n Spiksplinternuwe 2016 Toyota Hilux 2.4 GD-6 dubbelkajuit-kragmasjien is vir ’n jaar lank tot ons redaksionele span se beskikking gestel sodat ons vreesloos al ons bedrywighede kan aanpak.

Ek het die voorreg gehad om saam met ’n kollega die Hilux op sy eerste behoorlike 3 000-km rit deur die Oos- en Suid-Kaap te neem met ’n hele versameling plaasbesoeke en padomstandighede wat gewissel het van gladde teergerief tot klipperige veld en modderige mielielande en ek kan nie wag vir die volgende rit nie.

Die Hilux is kragtig, bestuur maklik, ry gerieflik en is verbasend ekonomies. Selfs deur al die berge en dale op pad kus toe kon ons ’n gemiddelde brandstofverbruik van 8,4 liter per 100 km handhaaf.

Ons het probeer om sover moontlik in Eco Mode te ry, maar was dankbaar vir die kitskragvoorsiening wat die Power Mode-knoppie bied wanneer ons ’n trok of ander stadige padsluiper teen ’n opdraende moes verbygaan.

Ons het nie ’n 4X4-model nie, maar die ewenaarslot was heeltemal mans genoeg ons deur die glibberige modderpoele op ’n Karoo-plaas (ja, regtig!) te neem. Dit het 120 mm in die Venterstad-omgewing gereën net voor ons, ironies genoeg, ’n artikel moes gaan doen oor spilpunte. Daardie wêreld weet nie wat om met soveel water te doen nie, so daar was ’n hele paar prettige diep poele by plaashekke.

Met die ewenaarslot kon ek duidelik voel hoe gryp die wiele vas nadat die een kant begin glip het. Nêrens anders was dit regtig nodig om dit te gebruik nie, want die Hilux se lekker groot wiele en krag neem jou gemaklik oor die meeste hindernisse. As ek ’n boer is, sal ek tog miskien ’n sak mielies op die bak saamry, want op sinkplaatpad het die bakkie se stert vir my ’n bietjie meer wipperig gevoel as waarvan ek hou.

Ons het egter nooit enige twyfel gehad dat ons op die afgesproke tyd sou uitkom waar ons moes nie. Een ding wat ek wel op die lang pad gemis het, is spoedbeheer, nie net vir die gerief om jou voet te laat rus nie, maar ook om seker te maak jy kruie aan onder die spoedbeperking.

Die kajuit is heerlik ruim, die sitplekke is gerieflik, selfs met ses dae se aanhoudende ry, en die instrumentepaneel is maklik leesbaar en navigeerbaar met ’n knoppie op die stuurwiel wat jou deur die inligtingspyskaart neem van ritafstande, huidige en gemiddelde brandstofverbruik en hoe ver jy nog kan ry voor die volgende brandstofstop.

Die agtersitplekke is ook heel gerieflik met genoeg beenruimte. Ons het dit vir die meeste van ons bagasie en ons voorraad tydskrifte gebruik, want agter op die bak raak dit maar goed stowwerig so op die plaaspaaie.

’n Indrukwekkende raakskerm-vermaaksentrum is in die middel van die instrumentpaneel, ook maklik bereikbaar vir ’n passasier, en jy kan jou foon of USB-stokkie indruk vir langpadmusiek. Ek kon dit ongelukkig nie regkry om my foon deur die Blue Tooth van die bakkie te laat werk nie. Laat die handelaar jou maar help om dit te doen voordat jy plaas toe ry met die bakkie.

Noem dit nou maar die ydelheid van die vrou, maar dit sou darem lekker gewees het as net een van die sonskermpies ’n spieëltjie gehad het. Tussen die sonskerms is daar ’n gerieflike houertjie vir ’n sonbril of ietsie wat jy buite sig wil bêre. Daar is ook meer as genoeg ander holtes waarin jy enigiets, van koffiebekers en koue water tot ’n beursie en ’n skroewedraaier, kan saamry.

Een van die lekkerste ervarings om met die Toyota Hilux 2.4 GD-6 dubbelkajuit boere te gaan besoek, is dat ons omtrent op elke plaas begroet is met: “Ek sien julle ry darem met ’n ordentlike voertuig – julle kan agter my aanry lande toe.”

Om deel te word van die topverkoperbakkiefamilie in die land, skakel Pat Hinde Toyota Springs by 011-812-1030. Besoek www.toyota.co.za/ranges/hilux-double-cab om na die spesifikasies van die verskillende modelle te kyk.

Hilux

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Aquadam

Aquadam help mense deur die droogte

simmentaler

Ons praat oor kruisteling – Simmentaler: Die syfers praat