Vitamech se Väderstad-planter bly steeds ’n kampioen

Vitamech se Väderstad-planter bly steeds ’n kampioen

Die opwinding in Väderstad-geledere was groot toe hulle Tempo 16-ryplanter twee maande gelede aangewys is as die vinnigste planter in die wêreld. Hierdie groot gebeurtenis het in Hongarye plaasgevind. Hulle kon teen ’n spoed van 20 tot 22 km/h, 504 hektaar in 24 uur kafdraf. Dit kon alles plaasvind teen ’n presisiepersentasie van 98,5% waar mieliesaad, korrelkunsmis en onkruiddoder geplaas is. Dit beteken dat haasbekke en dubbelplasings feitlik nooit voorgekom het nie.

Baie planters kan teen daardie spoed werk, maar dit sit nie in elkeen se broek om daardie presisieplasing te handhaaf nie. Die Tempo se Paralex-raam wat pragtig om die kontoere vou en die deurlopende kommunikasie tussen die spoedmeter en die aandryfmotor verseker dat die saadplasing teen enige helling of spoed steeds presies dieselfde bly.

Die geheim agter die Väderstad-ontwerp is dat die planters met positiewe lugvloei werk wat die saad tot in die grond volg. Ander blaasaksieplanters los die saad op ’n stadium dat dit vryval. “Ons gebruik ’n blaasaksie om elke pit teen 15 meter per sekonde deur die stelsel tot in die onderkant van die plantvoortjie te blaas. ’n Drukwielietjie volg kort op die hakke van die plantbuis om die saad dadelik in die grond vas te druk voor dit kan wegspring of -rol,” sê Richard Waha, produkspesialis van Väderstad wat spesiaal NAMPO toe gekom het om die span van Vitamech by te staan. Vitamech is die alleeninvoerder van Väderstad-werktuie in Suid-Afrika.

Die ander voordele van ’n blaasaksie is dat die saad altyd regaf beweeg en nie teen die kante stamp as die planter oor rowwe terrein beweeg nie. Daardie millisekondes is natuurlik krities belangrik vir akkurate saadplasing. “As jy jou spasiëring op 20 cm gestel het kan jy maar gaan grawe – die pitte sal presies 20 cm van mekaar af wees,” sê Richard.

Wat die Tempo verder besonders maak, is dat dit ’n baie eenvoudige planter is. Elektriese motors dryf die kunsmisstelsel en elke plantereenheid aan. Daar is nie kettings wat kan afval nie. Die kommunikasiestelsel vertoon elke ry-eenheid op die skerm en sensors in die saadbuise moniteer elke saadjie se plasing. Oorslanery en dubbelplasings word dadelik uitgewys.

Die kunsmis word skuins onder elke saadjie geplaas waar dit die beste benut word. “Die eerste Väderstad is met die uitmeeteenheid toegerus waarmee ons planters vandag nog uitkom en dit is steeds akkurater as enige ander planter s’n,” sê Richard. “Ons is ook die enigste planterbouer wat hierdie stelsel gebruik. Dit is die hart van die planter wat presisieplant teen ’n hoë spoed moontlik maak, en ronde en plat sade kan deurmekaar geplant word. Die saadplaat is ook maklik toeganklik en neem net tien sekondes om te ruil.”

Kalibrasie is ook baie eenvoudig. “Jy hoef slegs die verlangde hoeveelheid saad per hektaar of die afstand tussen die pitte op jou slimtoestel of die I-pad in die kajuit in te voer. Van daar af doen die planter die res,” sê hy.

Die 16-ry se saadtenks het ’n inhoudsmaat van 100 liter elk, ’n 20 liter giftenk en ’n sentrale kunsmistenk wat 5 000 liter korrelkunsmis hou. Met ’n vol kunsmistenk benodig die planter 260 kilowatt trekkerkrag.

Hierdie Sweedse werktuigbouer skop gereeld stof in die oë van hulle mededingers. Twee jaar gelede het hulle Tempo 12-ry die wêreldkord in Bulgarye met sonneblomsaad gebreek en drie jaar gelede het dit in die Oekraïne gebeur.

Die planter se onderhoud is ook doodeenvoudig, met assies wat uitgedraai word om vervang te word. Die droë vesconite-buste en stofdigte seëls maak daaglikse onderhoud ook ’n plesier.

Vir jou rekordbrekerplanter, skakel Jurie Swart by +27 (0)83-375-8840, Louis van der Merwe by 072 626-8409, Vitamech by 021-907-8000 of e-pos Jurie@vitamech.co.za.

Hooffoto: Die Vitamech-span voor hulle Nampo-stalletjie is Richard Waha (Väderstad), Jurie Swart, Louis van der Merwe, Dudley Fourie, Shaun Fourie en Connie Campher.

Vitamech

Connie Campher, Richard Waha en Jurie Swart voor die 16-ry Tempo wat belowe om rekords op jou plaas te breek.

Vitamech

Die planteenheid van die Tempo werk baie eenvoudig en plaas pitte presies teen ’n baie hoë plantspoed.