As jy plae soos onkruid, siekte en insekte in jou gesaaides suksesvol met chemiese middels wil beheer, moet jou spuittoerusting aangepas wees vir die doel en alle dele moet in goeie werkende toestand, reg ingestel en gekalibreer wees vir die plaag wat jy wil beheer. In hierdie artikel kyk Koos le Roux stap vir stap na 'n praktiese metode om 'n balkspuit korrek te kalibreer.
Wat beteken kalibrasie?
Kalibrasie bepaal die hoeveelheid water wat 'n plaagdoderspuit, toegerus met gegewe spuitpunte, teen 'n gegewe spuitdruk en trekkersnelheid oor 'n hektaar sal uitspuit, sodat die aanbevole hoeveelheid chemiese middel daarby gevoeg kan word om 'n spuitmengsel van die korrekte konsentrasie te verkry.
Vooraf voorbereiding
Alvorens die spuit gekalibreer word, is dit belangrik om die volgende voorbereiding te tref:
• Gaan die spuittoerusting behoorlik na vir lekkasies, verstopping of enige ander foute en vervang dele wat geslyt is.
• Lees die etiket op die plaagmiddelhouer deeglik om die korrekte dosis te bepaal.
• Bepaal die volume water wat per hektaar saam met die middel bespuit gaan word deur gewasdigtheid en die teiken in ag te neem.
• Bepaal die klei-inhoud van die grond omdat dit die dosis by onkruiddoders kan beïnvloed. Dit word gewoonlik op die etiket aangedui.
• Kies die tipe spuitpunte wat gebruik word, naamlik platwaaier- of kegelspuitpunte. Gewoonlik word platwaaierspuitpunte vir onkruidbespuiting en kegelspuitpunte vir siektebespuiting gebruik.
• Bepaal die voorgeskrewe druk waarteen gespuit moet word.
Die kalibrasieproses
1. Haak die spuit agter aan die spesifieke trekker wat vir die bespuiting gebruik gaan word.
2. Maak die spuittenk halfvol water.
3. Beweeg dan met die trekker en spuit na 'n land waarvan die saadbed gereed is vir die plantproses.
4. Meet 100 m in die land af en merk die afstand met twee paaltjies.
5. Stel die trekkermasjien dan tot op die gekose aantal omwentelinge per minuut, byvoorbeeld 1 800 opm.
6. Skakel oor na die gekose rat, byvoorbeeld vierde rat.
7. Laat die trekker dan in hierdie rat en by die gekose omwentelinge per minuut deur 100 m beweeg, dit wil sê die trekker moet reeds op spoed wees voordat dit die eerste paaltjie bereik. Neem die tyd in sekondes oor die 100 m tussen die twee paaltjies (die ideaal is sowat 40 sekon¬des oor die 100 m). Verander die rat en opm sodat die 100 m so na as moontlik aan die ideaal afgelê word.
8. Herhaal en kry die gemiddelde tyd. Moet verkieslik nie op dieselfde spoor ry nie.
9. Met die trekker nou in stilstaande posisie, stel die masjien tot die gekose omwentelinge per minuut en skakel die spuit in werking.
10. Stel die drukreguleerder tot die aanbevole druk, byvoorbeeld 300 kPa vir 'n vooropkom-onkruidbespuiting.
11. Meet nou die hoeveelheid water wat elke spuitpunt in 'n gemerkte houer lewer vir die aantal sekondes oor 100 m, in hierdie geval 40 sekondes, byvoorbeeld 900 ml.
Breedwerpige bespuiting van vooropkomonkruiddoder
Gebruik die korrekte spuitpunte vir breedwerpige bespuitings.
Meet die afstand tussen die spuitpunte op die spuitbalk, byvoorbeeld 0,5 m. (Die spuitbreedte van een spuitpunt is gelyk aan die afstand tussen twee spuitpunte op die balk). Die spuitpatrone van die spuitpunte moet verkieslik 50% oorvleuel op die grond.
Ons beskik nou oor die volgende gegewens:
* Een hektaar is 100 m x 100 m.
* Op die etiket word die dosis "algeheel per hektaar" aangegee, byvoorbeeld 5 liter onkruiddoder per hektaar.
* Die hoeveelheid spuitmengsel wat een spuitpunt oor 100 m lewer, byvoorbeeld 900 ml.
* Spuitpuntspasiëring is gelyk aan 0,5 m (spuitwydte is dus 0,5 m).
* Die inhoudsmaat van die spuittenk, byvoorbeeld 500 liter.
Om te bepaal hoeveel spuitmengsel nou per hektaar, dit is 100 m x 100 m, uitgespuit gaan word om die gegewe, byvoorbeeld 5 liter onkruiddoder, mee te vermeng, moet soos volg te werk gegaan word:
* Deel 100 m deur 0,5 m (dit is die afstand tussen twee spuitpunte) = 200. (Dit beteken dat een spuitpunt dus 200 keer heen en weer beweeg om 1 ha ten volle nat te spuit).
* Vermenigvuldig die hoeveelheid spuitmengsel wat op 0,5 m x 100 m uitgespuit is (dit wil sê opgevang in byvoorbeeld 40 sekondes) met 200 om die hoeveelheid spuitmengsel per hektaar (100 m x 100 m) te bepaal, byvoorbeeld 900 ml x 200 = 180 liter. Die spuit sal dus 180 liter spuitmengsel per hektaar uitspuit.
* Die gegewe dosis is 5 liter onkruiddoder per hektaar. Meng nou 5 liter onkruiddoder met elke 180 liter water.
* Die spuittenk kan 500 liter vloeistof hou. Dus kan 500 liter gedeel deur 180 liter = 2,8 ha spuitoppervlakte met een spuittenk bespuit word,
* Voeg nou 2,8 x 5 liter = 14 liter onkruiddoder in 'n spuittenk vol water.
Vermenging
Indien die chemiese middel 'n vloeistof is:
* Maak die tenk halfvol met water.
* Voeg die middel by.
* Vul dan verder tot bo.
* Stel die beroeringstelsel in werking sodat die plaagdoder behoorlik vermeng word.
* Indien verskeie plaagdoders saam gespuit gaan word, moet die onverdunde konsentrate afsonderlik in die spuittenk gevoeg word, terwyl die roerder in werking is. Maak egter seker dat die verskillende mengsels saam gespuit kan word. U plaagdoderraadgewer kan inligting hieroor gee.
Indien die chemiese middel 'n benatbare poeier is:
* Vermeng die gewenste hoeveelheid poeier eers met 'n klein hoeveelheid water in 'n emmer met 'n roerstok om 'n gladde en klontvrye pasta te vorm.
* Voeg dan meer water by terwyl dit geroer word om 'n vloeibare suspensie te verkry.
* Hanteer verder soos vir vloeibare chemiese middels.
Spuitbalkhoogte
Indien die balk te laag is, sal strepe gespuit word en indien die balk te hoog is, sal te veel oorvleueling met bespuiting plaasvind. Oor die algemeen gee spuitpunte met wye spuithoeke 'n egalige verspreiding naby die grondoppervlakte, terwyl spuitpunte met klein hoeke weer op 'n groter hoogte gebruik moet word. Platwaaierspuite met 'n spuithoek van 110 grade kan redelik naby die grond gebruik word en spuitpunte met 'n hoek van 80 grade moet weer hoog bokant die grond gestel wees.
Humiditeit
As daar min vog in die lug is, moet nie gespuit word nie omdat verdamping dan hoog is. Kleiner druppels bereik nie die teiken nie en 'n laer neerslag word ook verkry.
Wind
Wind kan druppels wegwaai, wat nie net oneweredige bedekking veroorsaak nie, maar aangrensende gewasse kan beskadig. Om vir wind te vergoed, kan spuite wat groter druppels lewer, gebruik word, of die spuit kan teen 'n verlaagde druk gekalibreer word.
Gewasdigtheid
Gewasdigtheid moet in aanmerking geneem word wanneer 'n spuitvolume gekies word. Indien die gewas digte blare het, sal meer water nodig wees om die plant binne te dring. Indien die teiken baie laag aan 'n hoë plant is, moet valarms gebruik word om die plante doeltreffend te bespuit.
Onthou: Spuit die tenk elke keer so leeg as moontlik voor hervulling.
As al die bogenoemde faktore in ag geneem word, as al die berekenings reg is om die toediening van die regte hoeveelheid spuitstof te verseker en as die regte toerusting gebruik word, behoort die die toediening suksesvol te wees om 'n goeie oes te verseker.

Spuite wat behoorlik vooraf gekalibreer word, sorg vir suksesvolle toediening en uiteindelik ‘n goeie oes. (Foto: Donald Peake)
Kies die regte spuitpunt: Gewoonlik word platwaaierspuitpunte vir onkruidbespuiting en kegelspuitpunte vir siektebespuiting gebruik.





