in

Veilige hande stuur Bonnox op sy tweede skof

Bonnox

Afrika bied tallose geleenthede, en die moontlikhede om die landboumark te ontwikkel is onbeperk. Daarom kom vele mense met geesdrif en volharding na hierdie kontinent om hulle lewensideale te verwerklik en om ’n bydrae tot die verbetering van talle boere se lewens te lewer.

Volker Harmen Schadewaldt en sy moeder, Hertha, het in 1951 Suid-Afrika toe gekom. Hy was ’n Duitse radiotegnikus wat uiteindelik by die destydse Jan Smuts-lughawe in Johannesburg gewerk het. Teen die einde van die vyftigerjare het hy met sy spaargeld ’n plasie by Laezonia, suidwes van Pretoria, gekoop. Boerdery was in sy bloed sedert sy oupa voorheen in Tanzanië geboer het.

Anita Gent, mnr Schadewaldt se dogter, vertel:

“My pa en ouma was baie lief vir Afrika met sy son en het daarvan gehou om met hulle hande te werk. Terwyl my pa besig was om doringdraad op sy plasie te span, het hy begin dink aan ’n plan om hierdie veeleisende werk makliker te maak. Dit is waar sy droom ontstaan het om sy eie, maklik-om-op-te-rig heinings te vervaardig.”

Destyds het mnr Schadewaldt ’n Amerikaanse vriend gehad wat hom ’n Sears, Roebuck & Co-nywerheidskatalogus uit Amerika gegee het. Daarin was ’n advertensie vir geweefde heinings – die perfekte antwoord vir die gedagte waarmee hy aan die speel was, en hy was oortuig dat Suid-Afrika so iets nodig gehad het.

Hy het na Amerika, Australië en Nieu-Seeland gereis waar heiningmaakmasjiene vervaardig is, maar hy kon nie een bekostig nie. Terug in SA, het hy met die befondsing van ’n draadmaatskappy twee masjiene wat skarnierdraad vervaardig ingevoer en die produk as een van hulle agente in Suid-Afrika versprei. Vandag kan hy beskou word as die persoon wat die konsep van skarnierdraadheinings na Suid-Afrika gebring het.

In 1962 het hy die naam, Bonnox, van ’n aptekerswaremaatskappy gekoop. Hy het van die naam gehou omdat die eerste deel, bon, goed en pragtig in Frans en Latyn beteken. Hy het ’n winkeltjie in die suide van Pretoria gehuur vanwaar hy sy heinings kon invoer en versprei. Sy vrou, Jean, was die boekhoudster en sy ma ’n aandeelhouer-werknemer wat gehelp het waar sy kon.

“My pa was ’n plannemens en met sy wonderlike planne het hy geweet hoe om die saak te stuur. As klein dogtertjie het ek in die winkel rondgespeel en omheining is steeds in my bloed. Hy en my ma het altyd Bonnox gepraat,” sê Anita.

Dit was nie die einde van mnr Schadewaldt se droom nie. In 1982 het hy ’n tweedehandse masjien vanaf Pennsylvania, Amerika, ingevoer. Hy het ’n winkel in Rosslyn, steeds ’n belangrike nywerheidsgebied noord van Pretoria, gekoop. Later het hy dit verkoop en in 1984 ’n eiendom in Sunderland Ridge, suidwes van Pretoria, gekoop toe die gebied net as nywerheidsenstrum begin ontpop het. Hy het een van die eerste fabrieke in die gebied gebou.

Nou het hy ’n fabriek en een rustende masjien gehad. Om die geldjies aan die rol te hou, het hy steeds ingevoerde en plaaslike omheiningsmateriaal verkoop.

Kort daarna het hy twee vergrendeling-draadweefmasjiene (Interlock) uit Nieu-Seeland ingevoer. Een was meer as ’n eeu oud en buite werking. Die bal was nou aan die rol en hulle kon dit bekostig om nog ’n paar mense aan te stel. Spoedig was die fabriek ten volle operasioneel.

In 1994 het mnr Schadewaldt nog ’n praktiese genie, die passer en draaier Charl de Beer, aangestel. Hy kon van enige stuk staal enige onderdeel vir die ou masjiene maak.

Na die val van die Berlynse muur in 1989 het mnr Schadewaldt, wat oorspronklik van Berlyn kom, Duitsland besoek. Hy het ook die nywerheidstad met talle staalfabrieke, Reutlingen, besoek en ’n groot ringskakelmasjien (Ringlock) van ’n maatskappy genaamd Wafios ingevoer.

As radiotegnikus was mnr Schadewaldt wetenskaplik aangelê en presies, en hy het daarvan gehou om met toegepaste wetenskaplike begrippe rond te speel. In samewerking met metallurge en ingenieurs het hy en sy verskaffers baie tyd en moeite daarin belê om die perfekte draadmengsel vir Bonnox te bepaal. Met ’n tipies Duitse werksetiek het hy nagte lank gewerk en was selde tuis.

Die vloerruimte het te klein geword. In 2002 het hy die perseel oorkant gekoop en ’n fabriek met twee selfgeboude masjiene ingerig. In 2010 het mnr Schadewald, toe reeds in sy tagtigs, as hoofbestuurder afgetree. Kort daarna het Anita, wat eintlik ’n apteker is, die leisels oorgeneem.

“Vandag vervaardig Bonnox 70 verskillende omheiningsprodukte van 600 tot 2 400 mm hoog vir elke moontlike toepassing op ’n plaas. Ons draad is ten volle versink en ’n enkele vertikale draad kan ’n spanning van 220 kg weerstaan. ’n Enkele horisontale draad stuit 415 kg. Bonnox se voorafvervaardigde heinings maak die lewe van duisende Suid-Afrikaanse boere veel makliker,” sê Anita, wat vasbeslote is om hierdie saak nog ’n leeftyd vorentoe te neem.

Skakel die vriendelike Bonnox-verkoopspan by 012-666-8717 of stuur n e-pos aan zane@bonnox.co.za, gerda@bonnox.co.za of linda@bonnox.co.za. Besoek ook Bonnox se nuttige webwerf by www.bonnox.co.za vir meer inligting.

Bonnox
Anita Gent is in 2013 as die nuwe
direkteur van Bonnox aangestel. In
haar hande is die 1965-uitgawe van die
Sears Roebuck & Co-nywerheidskatalogus
wat haar pa se droom geprikkel
het om maklik-om-op-te-rig heinings
in Suid-Afrika te vervaardig. Die eerste
uitgawe van die katalogus is in 1908
uitgegee.
Bonnox
So het mnr Schadewaldt in 1966 gedemonstreer hoe ‘n Bonnox-heining opgerig word.
Bonnox
Sommige van Bonnox se lojale werknemers werk al twee of drie
dekades vir die maatskappy.
Bonnox
Bonnox het ’n baie goeie naam in Suid-Afrika. Hierdie spotprent is baie jare gelede in ’n ander landboutydskrif gepubliseer.

Bonnox
Bonnox het in 1965 sy eerste perseel suid van Pretoria
betrek.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Pinzgauer-ras

Ons praat oor kruisteling: Pinzgauer-ras

wol

Wolmark daal nog ‘n bietjie