in

Veeboerdery nie meer so winsgewend nie

“Veeboerdery is nie meer so winsgewend as wat mense dink nie,” is ‘n bevinding in ‘n studie wat deur die Universiteit van die Vrystaat onderneem is onder leiding van prof Johan Willemse. Hieronder volg die verslag van die studie soos uitgestuur deur die Rooivleisprodusente-organisasie.

Prof Willemse het bevind daar is geen ruimte vir verdere verhogings in produksiekoste of selfs belasting nie. Dit sal ongetwyfeld tot ‘n styging in produsentepryse lei. Veeboerdery het oor die afgelope paar jaar moeiliker geraak weens die feit dat boere prysnemers is en relatief min beheer oor produsentepryse of produksiekostes het. Boere is aan die genade van makro- en mikroekonomiese faktore, sowel as politieke- en regeringsinvloede oorgelaat.

Omdat die meeste vee onder ekstensiewe omstandighede geproduseer word, moet boere hulself by die beskikbare natuurlike omstandighede aanpas. Dit beteken dat daar gebiede in die land is waar slegs spesifieke produksiesisteme kan werk en daar is ‘n koste aan elkeen verbonde.

Winsgewendheid van bees- en skaapboerdery in Suid-Afrika

Volgens die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye word die bruto plaasinkomste vir alle landbouprodukte in 2013 op R178 050 miljoen bereken, waarvan R83 637 van diereprodukte afkomstig is. Die veesektor speel dus ‘n baie belangrike rol in die inkomste wat deur die totale landbou gegenereer word – meer as 45%.

Produkpryse en -hoeveelhede is die grootste drywers agter die veebedryf se inkomstestrukture. Veepryse word gedryf deur vraag, aanbod en natuurlike marksiklusse. Beesvleispryse het teen die einde van 2014 redelik gestyg, terwyl lamspryse ook nie soveel geraak is deur die seisoenaliteit van pryse nie.

Die koste-uiteensetting van bees- en skaapplase in Suid-Afrika kan verdeel word in vaste (faktor-koste) en veranderlike pryse (nie-faktor-pryse). Faktorkostes is dié wat van dag tot dag op die plaas aangegaan word en waaroor die boer nie veel beheer het nie. Nie-faktor-kostes is al die uitgawes wat nie ‘n konstante uitgawe in die boerdery is nie. Dit kan ‘n invloed hê op die boerdery se uitset. Dit sluit in aanvullende voer, dieremedisyne, veaartsenyrekeninge en ander. Dit kan produksie verhoog, maar daar is ‘n ekonomiese optimum. Op ‘n tipiese beesplaas is nie-faktor-kostes en arbeidskostes die grootste uitgawes. Op die meeste plase is nie-faktor-kostes ook die grootste uitgawe, met veevoer en die koste van energiebronne die vernaamste uitgawes.

Veranderinge in insetkoste

Insetkoste het ‘n beduidende invloed op die landbousektor. Volgens die Nasionale Landboubemarkingsraad het die produsente-prysindeks vir veeprodukte vanaf 2010 as ‘n basislyn-indeks, tot in 2015 met 35,3% gestyg. Die gemiddelde styging van landbouprodukte in die produsente-prysindeks was 22%. Dit beteken dat dit 22% duurder vir boere in die veebedryf is om te produseer. Dit dui ook op ‘n 22% styging in die insetkoste van veeprodusente. Faktore soos hoë elektrisiteitstariewe en brandstofpryse kan ook lei tot ‘n verhoging in veevoer en veegesondheidsprodukte. Elektrisiteitstariewe het van 2008 tot 2015 met gemiddeld 22% gestyg. Voermeulens se pryse het gestyg om by die hoër elektrisiteitstariewe aan te pas met die gevolg dat boere meer vir voer moet betaal. Voerkoste as ‘n persentasie van die totale veranderlike koste was van 2008 tot 2010 op ‘n drie jaar gemiddelde basis onderskeidelik 53%, 64% en 62% vir wolskape, vleisskape en beesvleisproduksie. Die koste van dieregesondheidsprodukte in dieselfde periode was 18% vir wol- en skaapproduksie en 20% vir beesvleisproduksie. Die ander uitgawes bestaan uit vervoerkoste, bemarkingskoste en ander oorhoofse koste.

Die minimumlone wat deur die Departement van Arbeid vasgestel is, het ook ‘n beduidende uitwerking op boere se insetkoste. Die minimumloon in 2014 was 202,7% hoër as in 2003.

Suid-Afrikaners word deur internasionale pryse van kommoditeite beïnvloed, en ook in ‘n groot mate deur die wisselkoerse tussen lande. Die hoofdrywers wat die Suid-Afrikaanse boer beïnvloed – spesifiek die veeboer – is die koste van energie en die koste van veevoer. Aangesien Suid-Afrika ‘n nettoinvoerder van bees- en skaapvleis is, is die vleismark ook afhanklik van die veranderinge in die wisselkoerse tussen lande.

Die kosteknyptang

Die kosteknyptang kan gedefinïeer word as dit wat gebeur wanneer insetkoste vinniger styg as produsentepryse. Kortliks beteken dit dat die ruimte wat ‘n produsent het om ‘n wins te maak, kleiner en kleiner raak soos wat insetkoste styg en uitsette dieselfde bly.

Die oorkoepelende prys vir beesvleis was baie klein met ‘n styging van 3,5% in karkaspryse van 2011 tot 2014 en ‘n 0% beweging in die pryse van speenkalwers. Dieselfde scenario word in die skaapsektor gesien. Daar was van 2011 tot 2014 ‘n 1,5% styging in die produsentepryse van geslagte lam (A2/3) en ‘n daling van 0,25% in speenlammers.

Daar kan duidelik gesien word hoe produksiekoste oor tyd gestyg het. Dit was in kombinasie met ‘n styging in internasionale kommoditeite en die verswakking van wisselkoerse, wat dit vir boere moeilik maak om winsgewende boerderye te bedryf.

Die kosteknyptang is ‘n goeie voorbeeld van die feit dat produsentepryse relatief dieselfde gebly het, maar dat daar ‘n groot styging in produksiekostes was.

Bron: RPO

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Vrystaat-boere help Witbank

Nuus vanaf die RPO: Skaapvleispryse styg