Volgende keer as ons om die braaivleisvuur staan en Eskom slegsê oor die hoë rekeninge en die krag wat verdwyn wanneer jy dit die nodigste het, kan ons gerus maar ook na die positiewe kant van die saak kyk. Nood leer bid, sê hulle. Wel, in hierdie geval het nood ons weer laat dink.
Wêreldwyd, maar ook hier tussen ons boere, word daar al slimmer en meer bekostigbare planne gemaak om hernubare energie in boerdery-tegnologie om te skep. Dit is nie net op die lang duur goed vir die sak nie; dit help ook om die enigste hulpbron wat ons het, die aarde, te beskerm. Ons skuld dit aan ons nageslag om ook ons bydrae te lewer vir hulle toekoms. In hierdie uitgawe het ons ‘n hele paar gedagtes oor die onderwerp.
Lourens du Plessis, die boer by wie ons gaan kuier het om die artikel oor die Equalizer-planter te skryf, het my agterna geskakel om seker te maak ons skryf dat hy optimale produksie nastreef en nie maksimale produksie nie. Dit is ‘n feit van die lewe: jy kan nie net uithaal sonder om in te sit nie.
Ek glo u gaan hierdie uitgawe met al sy lekkerlees artikels geniet en as u by een van ons adverteerders navraag of aankope doen, sê tog asseblief dat u deur ProAgri by hom uitgekom het.
Boer slim!
Annemarie Joubert
annemarie@proagri.co.za





