Loading
Kies die regte trekker só
Deur ProAgri personeel-skrywer | Datum: 2010-09-13 | 0 Kommentaar
Puik 
 8
 | Swak 
 0

Trou is nie perdekoop nie, sê die spreekwoord, maar vir die ernstige boer is die keuse van ’n goeie trekker net so belangrik as die keuse van ’n goeie vrou.

As kragbron vir talle take op die plaas, speel jou trekker immers ’n deurslaggewende rol in die sukses van jou boerdery en jy gaan maklik vir tien, twintig of selfs dertig jaar aan die gevolge van jou trekkerkeuse blootgestel wees – langer as wat heelwat  huwelike hou.

Die eerste ding wat die boer behoort te doen wanneer hy ’n trekker wil koop, is om te besin presies wat hy nou en in die toekoms daarmee wil doen. Vra jouself vrae soos:

Hoeveel kilowatt gaan ek nodig kry?

Die soort take wat jy die trekker wil laat doen gaan bepaal hoeveel kilowatt jy gaan nodig hê. Maak seker dat die kragaftakkerkilowatt ook aan  jou vereistes voldoen – by sommige trekkers is dit heelwat minder as die enjinkilowatt.

Moenie ’n trekker koop wat te swak is om die werk te doen nie, maar ook nie een wat te sterk is nie. Kilowatts kos geld, maar ’n te groot trekker is ook minder maneuvreerbaar, vereis groter werkruimte en beskadig die grondoppervlakte meer.

Het die trekker alles wat ek nodig het?

Vra jouself die volgende vrae:

  • Watter soort werktuie gaan jy gebruik en watter monteerpunte, krag-aftakkerspesifikasies en hidrouliese aftappunte sal jy daarvoor nodig hê?
  • Op watter soort oppervlakte gaan jy die trekker gebruik? Sand, modder, gruis, aangeplante weiding?
  • Is daar enige beperking op die grootte of gewig van die trekker wat jy nodig het, soos nou hekke, take in skure, tonnels of kweekhuise, nou paadjies, smal brûe?
  • Watter trekkereienskappe gaan vir jou soort boerdery belangrik wees?

Vierwieltrek, tweewieltrek of rusperbande?

Vierwieltrek-trekkers is heelwat duurder, maar dit is noodsaaklik as jy ’n laaigraaf voor aan jou trekker wil monteer, hulle kragoordrag na die grond is baie beter en hulle het ’n hoër herverkoopwaarde.

Maar wanneer jy langafstand-sleep-werk teen ’n hoë spoed wil onderneem, is tweewieltrek ’n beter opsie.

Rusperbandtrekkers wen vinnig veld vir bewerking van groot oppervlaktes. Die groot spoor verminder grondkompaksie en oormatige wielglip wat onnodig diesel vermors.

Trekkerkoop is nie perdekoop nie, want jy sal maklik tien, twintig, dertig jaar of langer met jou besluit moet saamleef. Hierdie bulperd, ’n Deutz MTZ 220, se eerste eienaar het hom in die twintigerjare van die vorige eeu aangeskaf.

 Kajuit of nie?

Trekkers met kajuite word al hoe gewilder. Dit verseker beter operateursgerief, wat langer werksure met hoër produktiwiteit in alle weersomstandig-hede moontlik maak. ’n Kajuit is ook uit ’n gesondheidsoogpunt noodsaaklik wanneer gifbespuitings gedoen word.

Hoë spesifikasies of werkesel?

Talle wyse boere gebruik hoëspesifikasietrekkers met satellietposisionering vir aanvoorwerk en gespesialiseerde take, maar hou ook laespesifikasietrekkers aan vir donkiewerk. Besluit mooi wat jy nodig het.

Kragoordragstelsel?

Trekkers wat die kluts kwytraak word al hoe gewilder – dis nou trekkers met hidrostatiese aandrywing wat die nodigheid uitskakel om knaend koppelaar te trap. Hidrostatiese aandrywing is duurder en vreet ’n bietjie enjinkrag, maar die feit dat dit presies die regte krag vir die taak lewer, operateursuitputting verminder en ’n einde aan ’n gesukkel met gedaan koppelaarplate maak, maak dit die moeite en koste werd.

Wat van veiligheid?

Veiligheid op die plaas is baie belangrik. Oop trekkers moet verkieslik met stewige rolstawe toegerus wees. ’n Ander belangrike veiligheidskenmerk is ’n skakelaar wat die trekker se enjin afskakel as daar niemand op die sitplek sit nie. As jy van plan is om die trekker op openbare paaie te gebruik, moet dit ordentlike ligte en rigtingaanwysers hê.

Kies jou handelaar baie fyn

Baie boere sê vandag dat diens vir hulle veel belangriker is as die soort trekker wat hulle koop. Die beste, wonderlikste trekker met die mooiste kleur en die indrukwekkendste naam beteken vir die boer niks as hy staan omdat daar nie diens of onderdele beskikbaar is nie.

Gesels met die handelaar. Bepaal of hy bloot ’n trekker aan jou wil verkoop en of hy werklik begrip vir jou behoefte en werksaamhede het. Jy gaan ’n lang tyd met hierdie mense moet saamloop.

’n Handelaar wat eers navraag oor jou boerdery doen en probeer vasstel wat jou behoeftes is voordat hy oor sy reekse begin uitwei, is altyd ’n beter keuse.
’n Blote waarborgsertifikaat beteken niks as die handelaar nie die middele en mannekrag het om sy beloftes tydig gestand te doen nie. Maak dus seker van die volgende:

  • Dat die handelaar genoeg sleutelonderdele in voorraad het sodat jou boerdery nooit op onderdele hoef te staan en wag nie.
  • Dat hy genoeg ordentlik opgeleide en ervare tegnici in diens het om enige moontlike probleme gou en doeltreffend op te los.
  • Dat hy jou trekker op die plaas kan herstel of versien indien dit nodig is.
  • Dat hy reaksietye waarborg. Dit help nie hy maak die trekker wat jou spuit moet sleep reg nadat die stamboorders jou mielies opgevreet het nie.
  • Dat hy in ’n krisisgeval ’n leentrekker beskikbaar sal stel en jou trekker op die plaas sal kom haal as groot herstelwerk nodig is.
  • Dat die soort trekker in die land is om te bly en dat die vervaardiger die handelaar al die nodige steun gee om die boer bevredigende diens te bied.

Gaan besoek die handelaar. Kyk self of jy dink hy het genoeg onderdele in voorraad en of sy werkwinkel goed beman en bestuur word. Maak seker dat jy met die mense oor die weg sal kom, want jy sal vorentoe baie met hulle te doen kry. Gesels met hulle en besluit of hulle die boer en boerdery goed genoeg verstaan om te besef dat niks op ’n plaas kan wag nie.

Moenie probeer snaaks wees nie

As die meeste boere in jou gebied ’n sekere soort trekker gebruik, is daar waarskynlik ’n rede voor en die rede is waarskynlik dat die betrokke handelaar bevredigende diens bied. Dit behoort veilig te wees om ook so ’n trekker aan te skaf.

Moenie jou bure probeer beïndruk deur die snaaksste trekker wat jy kan kry te koop nie. Jy gaan waarskynlik sukkel om onderdele en diens te kry en dis nie snaaks nie.

Prys

Onthou dat ’n trekker ’n langtermynbelegging is. Moenie ’n paar rand op prys bespaar om agterna twintig of dertig jaar te sit met ’n trekker waarmee jy nie werklik tevrede is nie. Bring ook die herverkoopwaarde van die soort trekker wat jy koop in berekening. Vra rond oor die koste van befondsing. Miskien kan die handelaar dit vir jou reël of dalk kan jy goedkoper finansiering elders kry.

Praat met jou medeboere

Die boer weet die beste. Praat met medeboere oor hulle ervarings met trekkers en handelaars. Dis waardevolle inligting.

Vir sinvolle meganisasiebeplanning, praat met Mike Hipkin by 082-573-3664, of met oom Koos le Roux by 082-828-9531. Mike het ’n rekenaarprogram ontwikkel wat alle bewerkingskostes bereken en oom Koos is die samesteller en uitgewer van die Landboumeganisasiegids wat nou al jare lank die boer se meganisasieregterhand is.

Nog stories:

Hooimaak: Rooi, groen of blou, hoe kies ek nou?
 
ProAgri deel graag die volgende wenke met boere wat besluite oor die aankoop van hooimaaktoerusting.

Onderwerpe: Toerusting | Trekkers
Lesers kommentaar
ProAgri is die trotse borg van:
ProAgri Video's - Ons wys hoe dit werk.All fresh logo
Lees ProAgri-tydskrif
KalenderNovember 2014
SoMaDiWoDoVrSa
1
2
3
4
5
6
7
8
9
10
11
12
13
14
15
16
17
18
19
20
21
22
23
24
25
26
27
28
29
30
Gee jou mening
Waar verkies jy om inligting oor landbouprodukte te kry?

Plaaslike köoperasie
Aanlyn tydskrifte
Gedrukte tydskrifte
Sosiale netwerke
Buurman
Google