Spuit en spoed is twee woorde wat moet saamloop as jy ’n groot, gesonde oes wil behaal. Met enigiets minder as GC Tillage se Caruelle-selfloop-hoogtrapspuit is dit maklik ’n storie van spuit wat te laat kom en die boer skade berokken.
Die gedugte Caruelle kan met ’n balk van tot 42 meter bestel word om groot lappe grond deeglik en gou te bespuit.
Vassteek is ’n ding wat dié spuit nie ken nie. Elkeen van die vier groot wiele word met sy eie hidrouliese motor aangedryf en hy laat hom nie stuit nie, selfs al kom die modder tot in die helfte van sy vellings. Dit het Morné Combrink van Kinross op die Hoëveld self ondervind.
Hierdie bulspuit met sy waterverkoelde Deutz-enjin van 132 kW spuit teen 15 km/h en draf 25 km/h op die pad. As jy genoeg water het, spuit jy maklik 200 tot 300 hektaar per dag met hom. Boonop het hy genoeg ligte om in die nag ook te spuit.

Sy tenkkapasiteit word as 3 000 liter aangegee, maar hy vat maklik 3 200 liter en vermenging is maklik: Jy gooi die water eenkant in en die onkruiddoder aan die anderkant en hy meng self met sirkulasie in die tenk sonder om ’n spul skuim op te klits. Hy hou ook sy mengsel deurentyd homogeen.
Die spuit hou self sy balk waterpas. Die balk het agt seksies wat afsonderlik oop en toe kan maak om te spuit of nie te spuit nie en met ’n GPS doen hy dit vanself om oorvleueling of die onnodige bespuiting van kontoere uit te skakel.
Met sy pens wat 1,64 meter hoog staan en sy balk wat vanaf ’n halwe meter tot drie meter hoog kan verstel, kan jy enigiets in enige groeistadium bespuit.
Dis baie maklik om die spuit te bestuur en om met hom te werk. Hy stuur met twee wiele, vier wiele en krapstap om enige plek in en uit te kom.
Sy kajuit is gerieflik en sinvol uitgelê en dit is ’n plesier om met die Caruelle te werk.

Die Caruelle word gerugsteun deur die bekende en betroubare landboumaatskappy, GC Tillage, met handelaars oral in Suid-Afrika.
Skakel Lane Reynolds by 017-702-3028 of 082-652-2501, of Mike Combrink by 082-388-2150 vir meer inligting. Moenie dat spuit te laat kom nie.
Onderwerpe: Toerusting




