Loading
Gee bloutong die bloupas
Deur Leon Kruger | Datum: 2011-09-14 | 1 Kommentaar
Puik 
 5
 | Swak 
 0

Bloutong kan beperk word met ’n behoorlike inentingsprogram.
Na die goeie reëns wat die land die afgelope seisoen beleef het, is daar sommer ’n opgewondenheid op elke plaas. Die damme is vol, die weiding staan vol en geil.
 
En dan, juis wanneer ’n mens so gelukkig en geseend voel, maak die parasiete wat op goeie reënval floreer ook hulle verskyning.
 
Enige ervare boer weet dat ons verhoogde aktiwiteit van bosluise en ander parasiete kan verwag in die somerseisoen wat volg op ’n goeie reënseisoen. En dit geld veral ook vir vektoroorgedraagde siektes soos hartwater, rooiwater, galsiekte, slenkdalkoors, perdesiekte en die siekte wat baie belangrik is vir die skaapboere – bloutong.
 
Dit is ’n virus wat bloutong veroorsaak en die virus behoort aan die genus Orbivirus van die Reoviridae-famillie. Daar is 24 serotipes van die virus en dit is waarom dit nodig is om drie inentings te gee wat drie weke uitmekaar toegedien moet word.
 
Elkeen van die inentings (A,B en C) bied immuniteit teen ’n aantal van die serotipes.
 
Bloutong is ’n besmettingsiekte, maar nie aansteeklik nie. Een skaap kan met ander woorde nie ’n ander skaap aansteek nie. Die virus word slegs oorgedra deur Culicoides bytende muggies. Die muggies is ook verantwoordelik vir die verspreiding en oordraging van Afrika-perdesiekte.
 
Daar is gevalle aangemeld onder melk- en sybokhaarbokke, maar bloutong is merendeels ’n siekte van skape. Die muggies word besmet wanneer hulle bloed suig van besmette diere en dra dan die besmetting oor wanneer hulle op onbesmette diere voed. Die simptome van die siekte hang af van die graad van besmetting wat die skaap het. Dit kan van matig tot akuut wissel. Akute gevalle toon erge longedeem wat in gewone taal maar net watersug van die longe beteken.
 
As gevolg van die edeem ontwikkel die dier asemnood en dit is vanwaar die blou in die naam, bloutong kom. Die beperkte longfunksie veroorsaak swak suurstofuitruiling en die slymvliese vertoon dan blouerig weens die suurstoftekort.
 
In chroniese gevalle kan die skaap ook vrek, maar eers na ’n paar dae of weke en dan gewoonlik weens longontsteking.
 
Diere met matige besmetting kan volkome herstel. Die kliniese simptome in skape kan maklik herken word en met ’n kombinasie van die simptome tesame met die geskiedenis kan ’n redelike definitiewe diagnose gemaak word. Dit is nie noodwendig dat al die simptome voorkom nie. Dit het maar te doen met welke een van die serotipes die dier besmet is.
 
Die twee simptome wat amper altyd te sien is, is die seertjies op die bytplaat en koors. Kliniese simptome is duideliker by jong skape.
 
Simptome wat bloutong kan aandui:
  • Die skaap ontwikkel ’n koors van 40,5 – 42°C (normale temperatuur by skape is 38,5°C).
  • Aangetaste skape kom lusteloos en traag voor. (Dit sien mens egter by alle siek skape.)
  • Ongeveer twee dae na die koorsreaksie kom siektetekens, soos geswelde lippe en kongestie (donkerrooi tot blou verkleuring) in die bek, neus en oogslymvliese voor.
  • Neusgate is vuil van slymafskeiding en aangepak. Die bolip is ook geswel.
  • By nadere ondersoek kan klein bloedings gesien word op die slymvliese van die neus en bek.
  • Die area waar die tande op die bytplaat byt en waar die tong teen die tande skuur, ontwikkel rou sere wat baie pynlik is.
  • In erge gevalle kan die tong opswel, blouerig verkleur en by die bek uithang. Vandaar die naam bloutong.
  • Skape loop baie moeilik en lyk eerder of hulle op warm kole dans as gevolg van ontsteking van die hoefkroon.
  • Die hoefkroon het ’n rooi kleur en is seer met aanraking.
  • Somtyds ontwikkel die skaap ’n skewe nek.
  • Aan die begin van die siekte haal die skaap vinnig asem weens die koors. Later raak die asemhaling moeilik of roggelend weens die longedeem of -besmetting.
  • Wolbreuk, swak vrugbaarheid by ramme en aborsies kan weens die koorsreaksie voorkom.
Behandeling:
Virusse kan nie soos bakteriee met antibiotika vernietig word nie, aangesien dit verpligte intrasellulere organismes is. Wanneer behandeling vir virusbesmetting voorgestel word is dit dus slegs ondersteunende behandeling gemik op simptoomverligting. Behandeling vir bloutong is suksesvol indien dit betyds, voor longedeem of longbesmetting ingetree het, gedoen word.
  • Bring die skaap dadelik in skadu en gee hom sagte groenvoer en water.
  • Die drie pertinente simptome is koors, ontsteking en pyn en dit moet verlig word deur hom met fenielbutasone te behandel. Indien daar nie fenielbutasone beskikbaar is nie, sal een tot twee aspirien-pilletjies opgelos in water en in die bek gedoseer, ook help.
  • Daar is ’n groot kans dat longontsteking kan ontwikkel en dit moet voorkomend behandel word met langwerkende antibiotika. As jy met ’n antibiotika kan behandel wat spesifiek aangedui is teen longontsteking, is dit veel beter om te gebruik eerder as breespektrum antibiotika.
  • Maak die neusgate skoon indien dit aangeplak en vuil is. Mense lag daarvoor, maar niks en niemand kan met ’n geblokte neus behoorlik asemhaal nie. Skape moet herkou met hulle bekke en kan dus nie heeltyd deur die bek asemhaal nie.
  • Weens die verlies aan eetlus en koors kan rumenstase ontwikkel en daar moet gereeld geluister word vir rumenklanke. Indien rumenstase ontwikkel, moet die rumen weer aan die gang gekry word met rumenstimulante. Gaan kry ’n emmervol pensmis by die plaaslike slagpale, druk die sous uit en doseer dit vir die skaap. Dit werk uitstekend. Andersins dien jy sommer kommersiele rumenstimulante toe.
  • Die behandeling van bloutong-skape vereis aandag en goeie sorg, (’n bietjie TLC) om suksesvol te wees.
Medisyne:
  • Antibiotika om sekondere longbesmetting te verhoed.
  • Fenielbutasoon vir ontsteking, koors en pyn.
  • Rumenstimulante in gevalle met rumenstase.
  • Vitamiene B-komplekstoediening sal ook net voordelig wees.
Nadoodse tekens:
  • Kyk na die geskiedenis van die geval. Hierdie is ’n siekte wat in goeie reënjare voorkom en dan meestal gedurende Desember tot April.
  • Bek en tong geswel, bloedings op die slymvliese en seertjies op die bokaak en tong kom voor.
  • Neusgate vuil en aangepak.
  • Bloeding in hartspier en spierweefsel.
  • Rooi hoefkrone.
  • Skuim in lugpyp.
  • Longedeem of tekens van longontsteking.
Voorkoming:
  • Inenting is die enigste metode om te verhoed dat bloutong onder die kudde uitbreek, veral in endemiese gebiede.Inenting kan egter tydens sekere stadiums van dragtigheid aborsies veroorsaak. Ramme is ook vir ses weke na inenting steriel en dus moet inenting so beplan word dat dit inpas met die bestuur van die kudde. In gevalle waar die ram konstant by die ooie loop, is bloutong-inenting nie werklik haalbaar nie en dan moet daar maar berus word op behandeling van positiewe gevalle. Inenting bestaan uit drie inentings (Bloutong A, B en C) wat drie weke uitmekaar toegedien moet word voor die begin van die hoerisikotydperk. Dit is nie prakties moontlik om die vektore (muggies), te bekamp nie.
  • Laat diere onderdak slaap, want die muggies kom nie onder dakke in nie.
  • Hou die diere onderdak teen sonop en skemer. Die muggies is nagvoeders en is baie aktief teen dagbreek en skemer.

Onderwerpe: Dieresorg
Lesers kommentaar
ProAgri is die trotse borg van:
ProAgri Video's - Ons wys hoe dit werk.All fresh logo
Lees ProAgri-tydskrif
KalenderJulie 2014
SoMaDiWoDoVrSa
1
2
3
4
5
6
7
8
9
10
11
12
13
14
15
16
17
18
19
20
21
22
23
24
25
26
27
28
29
30
31
Gee jou mening
Wat moet met Thandi Modise gebeur?

Neem haar plaas weg
Vervolg haar
Gee haar nog n kans
Sy moet eers landbou swot
Afgedank word