Loading
Handig
Die groot skrik van bek en klouseer
Deur Leon Kruger | Datum: 2011-04-11 | 0 Kommentaar
Puik 
 0
 | Swak 
 0

Wanneer bloutong uitbreek, sit al die skaapboere regop en luister. Met drie-dae-stywe-siekte en knopvelsiekte luister die beesboere aandagtig. As dit slenkdalkoors is, skenk skaap- en beesboere aandag.
 
Dan kom die berig oor die nuus dat bek- en klouseer in KwaZulu-Natal uitgebreek het. Nou skenk baie mense aandag. Die wolveiling moet uitgestel word en uitvoere van diere en diereprodukte word onmiddellik opgeskort. Vark-, skaap-, bok-, bees- en wildboere skenk aandag, want almal wat diere het met gesplete hoewe, word geraak.
 
Die omvang en belangrikheid van bek- en klouseer moet nooit gering geskat word nie. Die siekte is nie noodwendig dodelik nie en vrektes van 2% by volwasse diere en 20% by jong diere is aangeteken. Die belangrikheid van die siekte is die feit dat dit so hoogs aansteeklik is, (tot 100% diere word aangesteek) en die siekte het enorme ekonomiese implikasies.
 
Basiese inligting oor bek- en klouseer: 
 
Oorsaak
Die siekte word veroorsaak deur ’n virus, die aphthovirus van die Picornaviridae virus-familie. Daar is sewe serotipes van die virus: O, A, C, SAT-1, SAT-2, SAT-3 (Southern African Territories) en Asië-1.
 
Oordraging
Hierdie is ’n hoogs aansteeklike siekte wat geredelik weerstandbiedend is teen algemene ontsmettingsmiddels. Dit kan vir langer as ’n jaar op besmette gebiede oorleef.
 
Klere en voer kan vir tot twaalf weke besmetlik wees en selfs op hare kan dit vir tot ’n maand besmetlik wees. Oor die algemeen word aanvaar dat die virus relatief sensitief is vir hitte, maar onsensitief is vir koue. Die siekte versprei van kudde tot kudde deur die beweging van aangetaste diere. ’n Ander algemene metode van oordraging is deur die inname van virusbesmette voer. Die virus kan ook oorgedra word deur mense (op hulle skoene, klere, motorkarbande en beddegoed), wat dit van een plaas na ’n ander kan versprei.
 
Buffels word gereken as natuurlike draers van die SAT-serotipes van die virus en kan dan ook dien as ’n bron van besmetting by beeste in suidelike Afrika.
 
Siektetekens
In tipiese gevalle by beeste toon die diere hoë koors (40° C tot 41° C) wat na twee tot drie dae afneem. Hierdie koorsreaksie gaan gepaard met neerslagtigheid en swak of geen eetlus, wat gevolg word met die voorkoms van akute en pynlike ontsteking van die bekvlies (stomatitis).
 
Teen hierdie tyd sal die temperatuur na normaal terugkeer. Weens die bekvliesontste-king kwyl die dier met speeksel wat in stringe uit die bek hang. Die dier sal die lippe op ’n tipiese wyse klap. Die dier kou ook baie versigtig indien dit sou kou.
 
Blasies ontwikkel op die wangslymvlies, bytplaat en tong. Die blasies, wat uit ’n dun vlies bestaan, bars maklik oop om ’n strooikleurige vloeistof vry te stel. Dit laat rou, pynlike wonde wat ongeveer ’n week neem om te genees.
 
Tesame met die ontwikkeling van die blasies in die bek, ontwikkel daar ook blasies op die hoewe en veral tussen die twee kloutjies en op die hoefkroon. Wanneer die blasies op die pote oopbars, veroorsaak dit erge ongerief vir die dier wat dan nie wil staan nie. Die wonde, wat op die hoewe gelaat word, is ook baie vatbaar vir sekondêre bakteriële besmetting wat genesing erg benadeel.
 
Daar kan ook blasies op die spene ontwikkel, wat weer ’n oorsaak is van die ontwikkeling van mastitis. Dragtige diere mag aborteer. Oor die algemeen verloor aangetaste diere baie vinnig kondisie. Diere wat herstel, begin na 2 tot 4 dae weer om te vreet, maar dit kan diere so lank as 6 maande neem om heeltemal te herstel.
 
Jong diere is baie meer vatbaar vir die siekte en vrektes kan voorkom weens skade aan die hartspier.
 
Behandeling en beheer
Die behandeling en beheer van bek- en klouseer rus geheel en al op die skouers van die Department van Veeartsenydienste. 
 
Die boer is volgens wetgewing verplig om enige verdagte gevalle by die naaste veearts, staatsveearts of dieregesondheidtegnikus aan te meld. Hulle sal monsters neem en toetse aanvra om die diagnose te bevestig. Indien dit wel positief is, sal hulle die plaas en omgewing in kwarantyn plaas en die hele proses van behandeling en beheer hanteer.
 
Geraadpleegde bronne:
Brückner GK, Vosloo W, Du Plessis BJ, Kloeck PE, Connoway L, Ekron MD, Weaver DB, Dickason CJ, Schreuder FJ, Marais T, Mogajane ME. Foot and mouth disease: the experience of South Africa. Rev Sci Tech. 2002 Dec; 21(3):751-64
The Merck Veterinary Manual (Agtste uitgawe), Veterinary Medicine: A Textbook of the Diseases of Cattle, Sheep, Pigs, Goats and Horses (Negende uitgawe).

Onderwerpe:
Lesers kommentaar
Wees die eerste om kommentaar te lewer!
ProAgri is die trotse borg van:
All fresh logoAll fresh logo
Lees ProAgri-tydskrif
KalenderMei 2012
SoMaDiWoDoVrSa
1
2
3
4
5
6
7
8
9
10
11
12
13
14
15
16
17
19
20
21
25
27
28
30
31
Gee jou mening
Wat het die grootste invloed op jou aankoopbesluite vir die boerdery?

Artikel in ProAgri
Advertensie in ProAgri
Nampo
Internet
Ander boere
Ander landboumedia